Is dit die beste fliek van die jaar?
The Odyssey het my sprakeloos gelaat; dis eenvoudig ’n meesterstuk.
Ek probeer steeds die regte woorde vind om die fliek te beskryf. Die maklikste is om dit uit die staanspoor 5 uit 5 sterre te gee.
The Odyssey is nie net nóg ’n fliek wat ek dink jy moet gaan kyk nie; dis ’n fliek wat jy moet ervaar.
Ek kan oor die tegniese aspekte van die fliek praat. Ek kan oor die ongelooflike musiek, klankontwerp en die praktiese benadering tot die produksie gesels.
Ek kan oor al die asemrowende werklike verfilmingsplekke praat. Ek kan die akteurs prys. Ek kan selfs oor die storie praat of oor hoe Christopher Nolan se visie vir rolprente iets besonders is, maar eers wil ek praat oor hoe hierdie fliek my laat voel het.
As ’n filmliefhebber kan ek aan geen beter bioskoopervaring as hierdie een dink nie. Die storie vind ’n manier om elke karakter relevant te maak. Elkeen voeg waarde tot die verhaal toe.
Ek gaan dit sommer net sê: Dis nou amptelik my gunstelingfliek van die jaar en dit gaan baie verg om dit te oortref.
Ek het niks anders as lof vir die rolverdeling nie. Matt Damon vertolk Odysseus perfek.Odysseus is nie net ’n man op ’n missie of ’n held van die Trojaanse Oorlog nie; hy is ’n man wat die gewig van al sy dade dra. Damon het regtig groot opofferinge gemaak om sy karakter oortuigend uit te beeld deur die verskillende fases van sy reis.
Tom Holland is uitstekend as Telemachus en Anne Hathaway is, soos altyd, fantasties. Robert Pattinson is ongelooflik as die skurk Antinous. Ek het die bioskoop verlaat en hom behoorlik gehaat. Die res van die rolverdeling is net so fenomenaal.
Wat die produksie- en tegniese aspekte van hierdie fliek betref, kan niemand teleurgesteld wees nie. Dit is die eerste fliek wat volledig met IMAX 70 mm-kameras verfilm is en elke toneel maak jou deel van die antieke wêreld van Griekeland.
Wat kan ek oor die produksie sê, behalwe dat dit die mooiste is wat ’n fantasierolprent nog ooit gelyk het. Ek is mal oor die kostuums en die werklike verfilmingsplekke trek jou heeltemal in daardie wêreld in. Alles spring letterlik van die skerm af. Selfs die klein hoeveelheid rekenaareffekte in die fliek lyk meer realisties as in enige ander fliek met ’n groot begroting.
Nolan se flieks is bekend daarvoor dat hulle hul wêrelde met uitstekende musiek vul en dit is weer eens die geval. Die musiek en klank gee werklik lewe aan die wêreld. Ek kon letterlik voel hoe die hare op my arms rys. Die musiek bou spanning op, bring hoop en bind die hele verhaal saam.
Alles in die fliek werk omdat Nolan getrou gebly het aan sy visie en daarin geslaag het deur homself met ’n ongelooflike rolverdeling en span te omring.
Ek beveel nie net The Odyssey aan nie. Ek dink elkeen behoort dit te gaan kyk. Dis nie net nog ’n bousteen in die geskiedenis van rolprente nie, maar ook iets wat rolprente – soos ons dit ken – kan herdefinieer.
Daar is nie ’n enkele deel van hierdie fliek waarvan ek nie gehou het nie. Daar is nog soveel wat ek daaroor kan sê, want ek het elke oomblik van die 173 minute geniet wat ek in die bioskoop deurgebring het.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie