In gesprek met Misha Collins

The Movie Guy
Barry de Klerk
As Comic Con Africa 2025 my een ding geleer het, is dit dat ek gereed is om meer te doen en buite my gemaksone te beweeg, dit sluit onderhoude met bekendes in.

Ek het die geleentheid gehad om met Misha Collins te gesels oor sy loopbaan, sy liefdadigheidswerk en ek kon selfs ’n bietjie Namibiese kultuur met hom deel.

Misha is bekend vir sy rol as Castiel in die TV-reeks Supernatural, maar hy sal binnekort ook in die gewilde reeks The Boys op Prime Video te sien wees. Sy werk strek egter verder as net toneelspel en liefdadigheid, hy is ook ’n digter.

Ek is opgewonde om my onderhoud met hom met julle te deel.



VRAAG: Castiel is baie anders as jy, maar is daar ’n deel van Misha wat ons in Castiel kan vind?

ANTWOORD: Castiel is ’n bietjie sensitief en hy is ’n bietjie sosiaal ongemaklik. Ek dink ek het self al daardie eienskappe.



V: Dink jy dis wat mense regtig van die karakter laat hou? Dink jy dis hoekom dit by mense aanklank vind?

A: Ek dink mense hou van die karakter omdat hy ongemaklik is en nie regtig inpas nie en hy weet nie regtig wie sy familie is nie. Hy voel asof hy sy plek in die menslike familie probeer vind en ek dink dit vind aanklank by baie mense. Baie van ons voel asof ons nie regtig inpas nie, of nie weet hoe om in te pas nie, of ons voel ’n bietjie verlore of eensaam.

Cass het al daardie eienskappe en tog het hy terselfdertyd ook hierdie bonatuurlike kragte. Dit gee mense wat ongemaklik voel of nie inpas nie, hierdie wensvervulling. Hierdie fantasie van “maar wat as ek ook superkragte gehad het?”. Wat eintlik nogal mooi is, want dis waaroor al die superheldstories eintlik gaan. So, as ek moes raai, sou ek sê dis deel van die aantrekkingskrag. Daar is natuurlik ook die komiese elemente van die karakter, die hele vis-uit-die-water-aspek, waar hy probeer inpas maar nie weet hoe nie en hy beland gereeld in die moeilikheid. Ek dink dit is ook innemend.



V: Ek weet jy skryf ook poësie. Wat het jou geïnspireer om poësie te begin skryf?

A: Dit was eintlik toevallig. Ek het baie in ’n joernaal geskryf en toe het daar eendag sommer ’n gedig uitgekom en ek het gedink “dis interessant”. Ek het nie eintlik baie poësie gelees of daaroor gedink nie, dit het net natuurlik gekom. Ek het nooit beplan om ’n boek of gedigte te publiseer nie. Ek het dit regtig net vir myself geskryf. Maar toe het ek in ’n stadium besef ek het genoeg om in ’n boek te sit.



V: As kunstenaar hou jy daarvan om terug te gee. Waarom dink jy is dit belangrik vir kunstenaars om ander te help?

A: Ek dink oor die algemeen is dit almal se plig om te probeer om die wêreld ’n bietjie beter te maak. Ek dink dit is deel van jou verantwoordelikheid as mens op die planeet, om nie selfsugtig te wees nie en om aan ander te dink. Vir diegene van ons wat gelukkig is om groot platforms te hê, is ons verantwoordelikheid dalk ’n bietjie meer.



V: Jy gaan in The Boys wees. Kan jy enigiets oor jou rol sê?

A: Ongelukkig is ek onder streng vertroulikheid. As ek enige werklike besonderhede deel, sal hulle my teregstel.



My volle onderhoud met Misha Collins is nou op YouTube beskikbaar. Ek het hom selfs ’n paar Namibiese uitdrukkings geleer. Kyk ook gerus na snitte van die onderhoud op Instagram

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer