Groot verskeidenheid te sien in September
Ons moet onsself gereed maak om volgende maand baie tyd in die bioskoop deur te bring.
Daar word presies 18 flieks in September in rolprentteaters vrygestel. Coyote vs Acme het weer die lys gehaal omdat sy vrystellingsdatum wéér uitgestel is. Kom ons kyk na ’n paar van hierdie flieks
4 September
Landmyn
Landmyn het reeds heelwat opslae gemaak nog voordat dit in teaters begin draai het. Dit het verskeie toekennings by die Silwerskermfees losgeslaan, insluitend dié vir Beste Speelfilm. Ek dink dit is genoeg rede om dit te gaan kyk.
Fall 2
As jy aan hoogtevrees ly, wil jy dalk hierdie een oorslaan. Dié keer bevind twee bergklimmers hulle duisende voet bo die grond, vasgekeer op Thailand se Mount Kwan.
Op dieselfde dag word die komedie Idiots en die fliek By Any Means wat op ’n ware verhaal gebaseer is – met Mark Wahlberg en Yahya Abdul-Mateen II in die hoofrolle – ook vrygestel.
11 September
Don’t Look Back in Anger
Dié dokumentêr volg vir Liam en Noel Gallagher tydens hul Oasis Live ’25-reünietoer en bied aan gehore toegang tot agter-die-skerms- en verhoogmateriaal, asook die broers se eerste gesamentlike onderhoud in meer as 20 jaar.
Practical Magic 2
Ek het nie verwag ons sou nog ’n Practical Magic-fliek kry nie. Sandra Bullock en Nicole Kidman keer terug as Sally en Gillian Owens, met die opvolgfilm wat die Owens-familie weer byeenbring terwyl hulle ’n nuwe, gevaarlike vloek in die gesig staar.
Runner met Alan Ritchson en Owen Wilson en The Fix met Liam Neeson begin ook vandag in teaters draai.
18 September
Silas en die Ysbeer op Tafelberg
Dié gesinsfliek is meer as wat ek verwag het, so maak gereed om ’n paar trane te stort. Dit meng fantasie naatloos met die werklike wêreld en die praktiese effekte laat my Suid-Afrikaanse filmmakers nog meer waardeer. Ek is net opgewonde dat ons vandeesmaand twee Afrikaanse flieks in teaters kan kyk.
Echoes of Omusati
Die fliek vertel die verhaal van ’n vrou wat in Zambië gebore is en wie se soektog na haar pa haar na die Omusatistreek lei – jare nadat die werklikhede van die vryheidstryd talle Namibiërs gedwing het om in ballingskap te gaan.
The Uprising met Andrew Garfield in die hoofrol, maak ook vandag sy buiging, asook Sacrifice met Chris Evans, Anya Taylor-Joy en Salma Hayek en Coyote vs Acme.
25 September
Resident Evil
Resident Evil word beskryf as ’n nuwe weergawe wat meer inspirasie uit die speletjies put. Austin Abrams vertolk die hoofrol as Bryan. Regisseur Zach Cregger het ’n splinternuwe storie geskep wat ’n mediese koerier volg wat vasgevang raak in ’n vreesaanjaende virale uitbreking terwyl hy laat in die nag ’n aflewering by die Raccoon City General Hospital maak.
Forgotten Island
Ek is heeltemal ten gunste van oorspronklike animasiefilms en die animasie in dié fliek lyk ongelooflik. Dit volg twee beste vriendinne, Jo en Raissa, wat deur ’n geheimsinnige portaal na die fantasie-eiland, Nakali, vervoer word.
Marvel is ook terug met Avengers: Endgame Encore, wat basies dieselfde fliek is met ekstra tonele. Shaun the Sheep: The Beast of Mossy Bottom en Heart of the Beast, met Brad Pitt word ook vandag vrygestel.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie