Gebore om te skep
Daar is mense wat kuns skep en dan is daar mense wat eenvoudig kreatief deur die wêreld beweeg. Melandri Bouwman is een van hulle.
Op 22-jarige ouderdom is sy deel van ’n nuwe geslag kreatiewes wat hul eie stem vind – nie deur groot verklarings te maak nie, maar deur geduldig waar te neem, aan te hou leer en telkens weer ’n leë bladsy met nuuskierigheid tegemoet te stap.
Bedags werk Melandri as ’n grafiese- en UX/UI-ontwerper. Ná ure verruil sy die skerm vir houtskool, grafiet en soms olieverf, waar sy haarself in die fyn kuns van realistiese portrette verdiep. Vir haar is die proses van skep nie ’n afsonderlike deel van haar lewe nie – dit is verweef met wie sy is.
“Kreatiwiteit is nie net iets wat ek doen nie; dit is hoe ek deur die wêreld beweeg,” vertel sy.
Wanneer sy nie besig is om te ontwerp of te teken nie, geniet sy die eenvoud van die alledaagse lewe. Sy hekel, doen naaldwerk, lees graag en beskryf haarself as ’n rustige, gegronde mens wat ewe tuis is tussen bekende mure as op nuwe plekke waar vars inspirasie wag.
Hoewel kreatiwiteit nog altyd deel van haar lewe was, onthou sy hoe visuele kuns in graad 10 haar perspektief verander het.
“Dit was toe ek besef het kuns gaan oor soveel meer as om iets mooi te maak. Dit het verander hoe ek dink, waarna ek kyk en hoe ek alledaagse oomblikke interpreteer.”
Daardie nuwe manier van kyk sou uiteindelik haar liefde vir realisme vorm. Vandag werk sy hoofsaaklik met houtskool en grafiet en fokus sy op portrette – nie net om mense se voorkoms vas te vang nie, maar ook om die besonderhede wat elke gesig uniek te maak.
“Hoe langer ek iemand teken, hoe meer begin ek die klein besonderhede raaksien wat hulle uniek maak. Dit voel amper asof ek die persoon leer ken deur net waar te neem.”
Vir Melandri begin ’n nuwe kunswerk gewoonlik met ’n eenvoudige vraag: Kan ek dit vasvang? Dit kan ’n interessante gesig, ’n foto of selfs net ’n komposisie wees wat haar aandag trek. Wat volg, is ure van geduld, probleemoplossing en die bereidwilligheid om die proses te vertrou.
Ironies genoeg is die moeilikste deel steeds om te begin.
Sy vertel hoe haar hoërskoolonderwyseres soms eenvoudig die eerste kwashaal namens haar gemaak het wanneer sy vasgehaak het.
“Sy het net gesê: ‘Daar, nou het dit begin.’ Ek sal dit nooit vergeet nie.”
Dit is ’n les wat haar vandag nog bybly – dat perfeksie nie die beginpunt van kreatiwiteit is nie; die eerste tree is.
Soos baie kreatiewes ken sy ook die stem van selftwyfel. Maar eerder as om haarself met ander te vergelyk, het sy geleer om terug te kyk na haar eie groei.
“In plaas daarvan om myself met kunstenaars te vergelyk wat al dekades lank skep, vergelyk ek myself met wie ek gister was.”
Daardie ingesteldheid het haar gehelp om die druk van sosiale media anders te benader. Hoewel dit maklik is om jouself met ander te vergelyk, sien sy dit ook as ’n ruimte waar inspirasie geen einde het nie.
“Ek is konstant verstom oor wat mense skep. Dit herinner my daaraan dat daar altyd iets nuuts is om te leer.”
Wanneer mense haar werk sien, hoop sy hulle ervaar een spesifieke emosie.
“Ek wil net hê hulle moet iets voel. Of dit nou nuuskierigheid, nostalgie, vreugde of selfs ongemak is – as my werk iemand vir ’n oomblik laat stilstaan, het dit gedoen waarvoor dit bedoel was.”
Van al haar werke bly ’n realistiese portret van Jack Parow een van haar gunstelinge. Nie omdat dit noodwendig haar bekendste werk is nie, maar omdat dit vir haar die ure se oefening, geduld en groei verteenwoordig wat haar liefde vir portretkuns gevorm het.
Inspirasie vind sy oral – in mense, natuur, musiek en kunsgeskiedenis. Sy bewonder die dramatiese realisme van die Italiaanse skilder Caravaggio, die lig en atmosfeer van die Impressioniste en put net soveel kreatiewe energie uit musikante soos Fokofpolisiekar as uit kunstenaars wat sy aanlyn ontdek.
Vir Melandri gaan die toekoms nie oor ’n vaste bestemming nie, maar oor ontdekking. Sy wil nuwe mediums verken, eksperimenteer met verskillende prosesse en uiteindelik die wêreld van tradisionele kuns en digitale ontwerp nader aan mekaar bring. Presies hoe dit gaan lyk, weet sy nog nie – en dit is juis wat haar opgewonde maak.
Vir jong kreatiewes wat hul eie stem probeer vind, is haar raad eenvoudig:
“Moenie wag vir die perfekte idee nie. Bly nuuskierig, hou aan eksperimenteer en laat elke kunswerk jou iets leer. Dis hoe jy groei.”
Miskien is dit juis die beste beskrywing van Melandri se benadering tot kuns. Nie as iets wat voltooi moet word nie, maar as ’n voortdurende oefening in kyk, ontdek en skep.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie