Flieks om van te kies en te keur in Junie
Junie is propvol wonderlike flieks en dit lyk asof ek die meeste van my tyd in die bioskoop gaan deurbring.
Mei het sterk begin met goeie vrystellings en was ’n goeie afskoppunt vir die lokettrefferseisoen, maar Junie kan dalk ’n paar rekords breek.
Junie het reeds sterk met Backrooms afgeskop en gaan ons die Digital Circus en Eternia in. Hier is die flieks wat jy vandeesmaand in die bioskoop kan geniet.
4 JUNIE
The Amazing Digital Circus: The Last Act is eerste aan die beurt. Dié geanimeerde reeks het miljoene aanhangers op YouTube gelok en nou kan ons uiteindelik die afsluiting op die grootskerm kyk.
5 JUNIE
Masters of the Universe is vir almal wat nie genoeg van nostalgie kan kry nie. He-Man en Skeletor het ’n groot deel van baie van ons se kinderjare uitgemaak en nou kan ons vir Enternia op die grootskerm sien.
Scary Movie 6 is hier en die Wayans-broers keer terug na hul langslopende parodiereeks toe. Die lokprente en plakkate wys reeds wat ons kan verwag, so natuurlik het ek my sitplek reeds bespreek. As hierdie fliek suksesvol is, kan ons dalk uiteindelik White Chicks 2 kry.
Power Ballad met Paul Rudd en Nick Jonas lyk soos die soort fliek wat ons nie geweet het ons nodig het nie. Ek is altyd gereed vir ’n goeie musiekfliek en ek dink die rolprent gaan ’n goeie klankbaan het.
10 JUNIE
Disclosure Day is ’n misterie-gedrewe wetenskapsfiksie-riller wat draai om ’n wêreldveranderende onthulling wat die mensdom dwing om ’n onbekende buiteruimse teenwoordigheid te konfronteer. Steven Spielberg is een van die beste filmmakers van alle tye en beslis een van my grootste inspirasies, so ek kan nie hierdie fliek misloop nie.
19 JUNIE
Toy Story 5 bring ons gunsteling-speelgoed terug. Toy Story is een van die invloedrykste stories van alle tye en die vyfde hoofstuk in hierdie reeks kan ons dalk weer herinner hoe besonders dit is.
The Death of Robin Hood is dalk die fliek wat baie mense miskyk, maar ek dink dit kan dalk een van die beste rolprente van die jaar wees. Ek is nuuskierig om te sien wat hierdie weergawe van Robin Hood bied wat die ander nie het nie.
26 JUNIE
Minions and Monsters is die een fliek waaroor ek nie regtig opgewonde is nie, maar ek gaan dit waarskynlik tog kyk. Het ons nie al genoeg van die Minions gesien nie?
Supergirl kan dalk ’n goeie superheldfliek wees en as hierdie fliek net die helfde so goed soos Superman is, sal ek gelukkig wees. Ek is mal oor Kara as karakter en dit is hoog tyd dat sy haar eie fliek kry.
Jackass: Best and Last, dit is dalk die laaste keer wat ons hierdie span gaan sien. Hulle keer terug vir een laaste avontuur en ek wonder of hulle nog waaghalsig genoeg is. Gaan hulle gebroke eindig, of sal hulle steeds staande ná hierdie fliek bly?
Junie is maar net die begin, ek glo Julie sal sorg dat almal vroegtydig hul fliekkaartjies bespreek.
Na watter flieks sien jy die meeste uit? Ek is opgewonde oor almal, behalwe een. Laat weet my op The Movie Guy se Instagramblad of stuur ’n epos na [email protected].


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie