Doek! kondig kortlys aan

Die kortlys vir die 2025 Bank Windhoek Doek! Literêre Toekennings is bekend gemaak.

Dié tweejaarlikse geleentheid sal vanjaar vir die derde keer aangebied word. Die toekennings vier plaaslike skrywers, digters en visuele kunstenaars wie se werke in die plaaslike literêre tydskrif Doek! verskyn het – die land se baanbrekersplatform vir fiksie, niefiksie, poësie en visuele kuns uit Namibië, Afrika en die Afrika-diaspora.

Die seremonie, wat in November plaasvind, sal vanjaar ’n verskeidenheid uitsonderlike talente bymekaarbring wat erken word vir hul storievertelling, oorspronklikheid en emosionele impak. Die beoordelaarspaneel, wat bestaan uit Ndawedwa Denga Hanghuwo, Samuel Mayinoti, Sylvia Schlettwein en Michelle van Wyk, het ’n maand lank beraadslaag voordat die kortlys gefinaliseer is.

Die kortlys sluit name soos Filemon Iiyambo, Hugh Ellis-Mwiya, Jedidja Kavuva, Jeremy Tiboth, Johannes Shikongo, Katherine Hunter, Luigi Arnat, Natache Sylvia Ilonga, Omen Keisho, Perivi Katjavivi en Vekondjisa Katusuva in.



VISUELE KUNSTE

Die direkteur van die Nasionale Kunsgalery van Namibië, Michelle van Wyk, het die visuele kunstenaars op die kortlys geprys vir hul vermoë om betekenisvolle gesprekke deur hul werk aan te moedig.

Kunswerke soos “Kasino Street” deur Natache Sylvia Ilonga, “Your Wings from the Back” deur Omen Keisho en “Solitude” deur Luigi Arnat ondersoek temas van kwesbaarheid, verwerping en isolasie. Hierdie swart-en-wit-werke weerspieël die kompleksiteite van die moderne Namibiese lewe.



POËSIE

Hanghuwo, die wenner van die eerste fiksietoekenning in 2021, het vanjaar se poësiekortlys geprys vir die egtheid en ritme daarvan.

Die gedigte vang die essensie van kinderherinneringe, familie, erfenis en die aanhoudende pyn van afwesige vaderskap vas, terwyl dit ook temas van manlikheid, oorlog en kulturele verlies aanpak. Hoogtepunte sluit in Johannes Shikongo se “The Algorithm of Fading Fathers”, Vekondjisa Katusuva se “Aminus: Pos 11” en Jedidja Kakuva se “In the Shadow of Reflection”.



NIEFIKSIE

Beoordelaar Mayinoti het die niefiksie-kategorie geprys vir die vindingryke storievertelling en diepte. Perivi Katjavivi se “I’ll Tell You Why I Was Late for Church Yesterday”: Auralgraph (selfstandige naamwoord: ’n ouditiewe beeld van ’n plek – ’n idee wat deur Doek! geskep is) uit Gobabis (1965) en Filemon Iiyambo se “Sonic Overload”: Auralgraph uit Kaïro neem lesers deur tyd en plek en moedig besinning aan oor historiese en kulturele narratiewe.



FIKSIE

Schlettwein het die fiksiekortlys uitgelig vir sy kreatiwiteit en emosionele resonansie.

Werke soos “Poisoned Pawn” deur Jeremy Tiboth, “What the Sycamores Saw” deur Katherine Hunter en “Flesh of the Sun” deur Hugh Ellis-Mwiya ondersoek die kompleksiteite van menslike verhoudings en die omgewing, beide fisiek en sielkundig, wat hulle vorm.

Die stigter en voorsitter van die Doek! Arts Trust, Rémy Ngamije, het gesê elke werk op die kortlys verteenwoordig die krag en evolusie van Namibiese storievertelling.

“Elke inskrywing het uitgebreide redigering tydens publikasie ondergaan, so die kortlys weerspieël nie net talent nie, maar ook toewyding en groei,” het hy gesê.

“Ons wens al die skeppers op die kortlys geluk en wens hulle alle sterkte toe met die 2025 Bank Windhoek Doek! Literêre Toekennings wat nader kom.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer