• Tuisblad
  • Kollig
  • DIE TJAART! bring ’n nuwe era vir Afrikaanse musiek in Suid-Afrika

DIE TJAART! bring ’n nuwe era vir Afrikaanse musiek in Suid-Afrika

-

’n Nuwe era vir Afrikaanse musiek breek aan met die bekendstelling van Die TJAART! – Die Afrikaanse Musiek Chart Show, ’n splinternuwe program wat luister- en kykdata gebruik om Suid-Afrika se grootste Afrikaanse musiektreffers maandeliks te rangskik.

Die eerste episode van Die TJAART! is gister op YouTube uitgesaai en word deur Reandi Grey aangebied.

Anders as tradisionele treffersparades, word Die TJAART! se ranglys nie deur openbare stemme of ’n paneel se menings bepaal nie. Die top-20 word op grond van amptelike data van Spotify, YouTube en YouTube Music saamgestel.

Die statistieke van die voorafgaande tydperk word volgens gemiddelde daaglikse strome en kyke bereken om elke liedjie se finale posisie op die ranglys te bepaal.

Met ander woorde: Julle luister en kyk, en Die TJAART! tel.

Die eerste episode se ranglys is saamgestel uit data wat tussen 1 Junie en 22 Julie 2026 ingesamel is. Dit bied dus ’n momentopname van die Afrikaanse musiek waarna Suid-Afrikaanse luisteraars en kykers gedurende dié tydperk die meeste geluister en gekyk het.

Maar Die TJAART! gaan oor meer as net ’n ranglys. Die program sal ook kykers op hoogte hou van die jongste nuus uit die Afrikaanse musiekbedryf, terwyl kunstenaars onderhoude voer, agter-die-skerms-inhoud gedeel word en interessante stories oor die musiekbedryf vertel word.


ATELJEEGAS

Die eerste episode verwelkom Zaan Sonnekus as ateljeegas. 

Kykers kry die geleentheid om die kunstenaar beter te leer ken en meer oor sy jongste musiek, sy nuwe seisoen en sy splinternuwe enkelsnit uit te vind.

Die program se betrokkenheid strek ook verder as die weeklikse of maandelikse uitsending. Die TJAART! se sosialemediaplatforms sal eksklusiewe kunstenaarsinhoud, agter-die-skerms-oomblikke, kompetisies en weggee-aksies bevat.

Kykers word ook aangemoedig om aktief deel te neem. Vrae, kommentaar en menings van die publiek kan selfs in toekomstige episodes deel van die program word.

Met sy fokus op werklike luister- en kykdata poog Die TJAART! om ’n nuwe standaard vir Afrikaanse musieklyste te skep – een wat direk weerspieël waarna die publiek luister en kyk.

Die TJAART! – Die Afrikaanse Musiek Chart Show se eerste episode is vanaf gister op YouTube beskikbaar.

Dit is meer as net ’n chart show – dit is ’n maandelikse blik op die polsslag van Afrikaanse musiek in Suid-Afrika.

Dis jóú TJAART!

Kommentaar

Republikein 2026-09-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer