Die Movie Guy en die Silwerskerm

Iréne-Mari van der Walt
Barry de Klerk – Ek is genooi om vanjaar die Silwerskermfees in Kaapstad by te woon en natuurlik nooi ek die hele Namibië uit om saam met my op hierdie reis te gaan.

Dis ’n eer om saam met die grootste Afrikaanse sterre en storievertellers te kan kuier en dalk selfs ’n onderhoud of twee met hulle te kan voer. Verlede jaar kon ek net die Silwerskerm-toekennings bywoon, maar vanjaar sal ek al vier dae op die perseel wees.

Ek is opgewonde om Namibië by so ’n gesogte geleentheid te verteenwoordig. Dit gaan nie net oor die feit dat ek dalk my gunsteling-akteurs of -regisseurs gaan raakloop nie, maar dat ek my passie saam met hulle kan uitleef. Dis nogal ’n lekker bonus dat ek hopelik ’n bietjie met hulle sal kan gesels.

Verlede jaar by die Silwerskerm-toekennings kon ek ’n bietjie uitvis oor watter Hollywood-films ons gunsteling-akteurs van hou. Hierdie jaar wil ek ’n bietjie by hulle hoor wat hul gunsteling- klassieke Afrikaanse fliek is. Daar is nog ’n paar ander vrae wat ek hulle wil vra, maar ek hoop net die senuwees kry my nie onder nie.

Ek sien natuurlik ook uit na al die speelfilms en kortfilms. Ek het al ’n paar lokprente gekyk en ek moet s? ek is verstom oor hoe groot en divers die Afrikaanse filmbedryf is. Dis hoekom ek ook baie na die werkwinkels en paneelbesprekings uitsien. Ek glo ek kan ’n ding of twee oor die filmbedryf leer en hopelik kan ek my nuwe kennis verder oordra. Dalk kom ek met ’n idee vir ’n kortfilm vorendag.

Die 2025 Silwerskermfees gaan groot wees, so ek weet die organiseerders sal die beste uithaal. So tien jaar gelede het ek die eerste keer op kykNET van die fees te hore gekom en gesê dat ek eendag self daar sal uitkom. Aanvanklik het ek gedink dit sal as ’n draaiboekskrywer wees, maar intussen het my lewe ’n ander wending geneem. Wat ek wel kan sê, is dat ek dit tot hier gemaak het en ek is baie opgewonde.

Dis dalk die begin van groter dinge vir my en ek is opgewonde om al ons lesers op hoogte te hou van die fees. Die eerste fliek wat ek by die fees gaan kyk is, My f*k, Marelize!. Toe ek sien dit is een van die speelfilms, het ek onmiddellik my kaartjie bespreek. Die storie is nie net eg Namibies nie, maar dit is ook in Namibië geskiet. Ek is opgewonde om ’n plaaslike storie op die silwerdoek te sien.

The Heart is a Muscle is nog ’n fliek waarna ek uitsien. Natuurlik is dit nie al nie, daar is 21 kortfilms en ses vollengte films wat vertoon word. Ek hoop om hulle almal te kyk, maar ek sal moet kyk hoe my skedule verloop. Ek is tans besig om myself gereed vir die geleentheid te kry, ek moet darem ook ’n bietjie spoggerig lyk. Ek gaan immers die hele Namibië verteenwoordig.

Ek sal almal op Instagram, Facebook en TikTok op hoogte hou van wat by die fees aangaan. Dalk kan ek ’n paar agter-die-skerm-foto’s en -video’s ook deel. As julle dalk wil hê ek moet iets spesifiek dek of iets spesifiek vir ons gunstelingsterre vra, stuur gerus vir my ’n e-pos, wie weet dalk kry jy die antwoord waarvoor jy al jare gewag het.

Volg my ook op my sosialemediaplatforms om op hoogte te bly van my tyd by die fees en vir nuus oor jou gunstelingflieks en die wêreld van popkultuur.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer