Die man agter die musiek

Annemarie du Toit

Van die woede van Fokofpolisiekar tot die liefde van ’n pa – die Suid-Afrikaanse rocker Francois van Coke gesels oor die lewe, musiek en wat werklik saak maak.

“Ek dink dit sou hom verras het dat ek nog lewe.”

Dis nie noodwendig die antwoord wat ’n mens verwag wanneer jy vir hom vra wat die jong man van 2003 sou dink as hy vandag kon sien waarheen sy lewe hom gelei het nie. 

Maar aan die ander kant was Francois nog nooit iemand wat sy woorde versigtig gekies het bloot om ander mense gemaklik te laat voel nie.

Meer as twee dekades gelede het hy saam met Fokofpolisiekar die Afrikaanse musiekbedryf betree met ’n klank en ’n houding wat moeilik was om te ignoreer. Daar was woede, vrae en ’n behoefte om los te breek van die wêreld waarin hulle grootgeword het.

Vandag is Francois steeds die hoofsanger van Fokofpolisiekar. Hy is ook ’n suksesvolle solo-kunstenaar, ’n eggenoot en ’n pa van twee. 

“Ek het in 2003 definitief nie verder gedink as die volgende paar jaar nie. Dit sal hom definitief ook verbaas het dat ek getroud is en twee kids het.”

Hy dink die jong Francois sou tevrede gewees het met hoe dinge uitgedraai het.


VAN WOEDE TOT BEVRYDING

Francois het as die seun van ’n dominee grootgeword. 

Sy kinderjare, geloof en tradisionele opvoeding sou later ’n belangrike rol in die ontstaan van Fokofpolisiekar speel.

Toe die groep in 2003 op die toneel verskyn het, was hulle nie bloot ’n klomp jong musikante wat ’n groep wou begin nie. Vir Francois was dit ook ’n manier om homself te distansieer van die wêreld wat hulle geken het.

Daardie behoefte aan bevryding het ’n belangrike deel van sy identiteit as kunstenaar geword.

Die woede wat in die groep se vroeë musiek gehoor kon word, het ook uit ’n gevoel van ontnugtering ontstaan.

Die groep se musiek het ’n uitlaatklep geword vir sy frustrasie met gesagsfigure en die wêreld waarin hy grootgeword het. Tog het hy nooit verwag dat die groep se invloed so lank sou voortduur nie.

Hoewel daar intussen baie in Francois se lewe verander het, is Fokofpolisiekar nie bloot ’n hoofstuk wat hy agtergelaat het nie.

“Ek is nog steeds in my Fokofpolisiekar-era, want ons is nog steeds aan die gang en ek dink ons was die laaste jaar besiger as wat ons in ’n baie lang tyd was.”

François erken dat daar ’n paar dinge is waaroor hy spyt is, maar dit beteken nie dat hy sy verlede wil herskryf nie.

“Ek het dalk ’n paar regrets, maar ek sou niks verander nie.”


DIE MAN AGTER DIE NAAM

Vir baie mense is Francois van Coke ’n naam wat onlosmaaklik verbind word met Afrikaanse rockmusiek. Tog was die naam nooit bedoel om ’n verhoogkarakter te skep wat anders as die mens daaragter is nie.

Francois verduidelik dat sy ma nie wou hê hy moes sy eie naam, Francois Badenhorst, in die media gebruik nie. Tydens ’n onderhoud het hy toe gesê sy naam is nou François van Coke.

Die naam het gebly.

“Ek is miskien so klein bietjie meer windgat op stage,” sê hy oor die verskil tussen homself en sy verhoogpersoonlikheid.

Maar daar is nie werklik twee weergawes van hom nie. “Ek is Alex en Max Badenhorst se pa en Lauren Badenhorst se man, Francois van Coke.”

Sy musiek het intussen saam met hom verander. Hy beskryf Van Coke Kartel as ’n hoofstuk uit ’n donker en onsekere tyd wat hy afgesluit het, terwyl sy solo-werk ’n meer kwesbare kant wys.

“Ek dink die lirieke wat die meeste met ander praat is die wat die moeilikste is om vir jou vriende te sê of te skryf.”


TOE VIND HY LIEFDE

Een van die liedjies wat ’n besondere plek in Francois se loopbaan inneem, is Toe Vind Ek Jou.

Die liedjie, wat hy vir sy vrou, Lauren, geskryf het, het uiteindelik veel meer as ’n persoonlike liefdesverklaring geword.

“Dit is ongelooflik hoe baie mense aanklank gevind het by die tune en daardie song behoort nou aan ALMAL.”

Die liedjie het ook sy solo-loopbaan moontlik gemaak. Wat vir een mens bedoel was, het uiteindelik deel van duisende ander se liefdesverhale geword.

As daar een ervaring is wat Francois se perspektief op die lewe ingrypend verander het, is dit pa-wees.

“My drome is nou om my familie gelukkig te maak en die rede hoekom ek lewe en musiekmaak is anders.”

Met Die Ruimte het Francois ’n liedjie geskep wat uit sy ervaring as pa ontstaan het. Hy hoop sy kinders sal eendag daarin kan hoor hoe hy tydens hierdie fase van hul lewens gevoel het.


’N NUWE HOOFSTUK

Francois het oor die jare openlik oor sy verhouding met alkohol en sy besluit om op te hou drink gepraat.

Wanneer hy vandag terugkyk, is een van die dinge wat hom die meeste verras, hoeveel meer hy fisiek en kreatief kan vermag.

“Ek het geleer ek kan marathons hardloop. Toe ek gesuip het, sou ek nie kon droom om 5 km te hardloop nie.”

Hy glo dié verandering het ook sy musiek beïnvloed. Die man wat sy woede eens in liedjies verwerk het, skryf nou ook oor die liefde vir sy gesin.

Met sy memoir, Hoe ek dit onthou, het Francois die geleentheid gekry om sy lewe en loopbaan in woorde vas te vang. Hy het egter geleer dat ander mense se opinies nie noodwendig die rigting van sy lewe hoef te bepaal nie.

“Ek gee eintlik net om oor die mense naaste aan my se opinies.”


STEEDS FRANCOIS

Hy het nie geweet dat die groep wat hy saam met sy vriende begin het, meer as twee dekades later steeds musiek sou maak nie. Hy het nie voorsien dat ’n liefdesliedjie vir sy vrou die deur na ’n solo-loopbaan sou oopmaak nie. En hy het beslis nie beplan om eendag ’n man en pa van twee te wees nie. Maar dit is waar die lewe hom gebring het.

“Ek dink die jong Francois sal bly wees oor hoe dinge uitgedraai het.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer