Die impak van Afrikaanse flieks
As ek vir die res van die jaar net tien rolprente kon kyk, sou twee daarvan Afrikaanse flieks wees wat vanjaar by die Silwerskermfees hul debuut gemaak het.
Landmyn en Silas en die Ysbeer op Tafelberg is twee flieks waaroor ek móét praat. Albei draai vandeesmaand in rolprentteaters en ek wil regtig hê mense moet die flieks gaan kyk.
Verlede jaar het ons wonderlike Afrikaanse flieks, soos Die Kwiksilwers en My F*k Marelize!, gehad. Ek het van albei gehou, maar dit was hoofsaaklik komedies. Daar was vanjaar ’n klomp uitstekende speelfilms en kortfilms by die Silwerskermfees en ek kan heeldag daaroor skryf. Die kortfilms was besonder goed gemaak en het my weer laat besef hoe kragtig hierdie medium is, veral wanneer die stories in Afrikaans vertel word.
So graag as wat ek oor die kortfilms wil praat, moet ek oor die speelfilms praat.
As ons Spider-Man: Brand New Day suksesvol kon maak, is daar geen rede hoekom hierdie Afrikaanse flieks nie ook suksesvol kan wees nie.
Verlede jaar het My F*k Marelize! ook ’n paar rekords gebreek. Deur hierdie flieks te ondersteun, verseker ons dat ons steeds Afrikaanse stories kry waarmee ons almal kan identifiseer.
Albei flieks is dalk in Afrikaans, maar ek glo vas dat albei universele temas het. Die twee flieks verskil hemelsbreed van mekaar, maar terselfdertyd voel die karakters eg en herkenbaar.
Landmyn het meer volwasse temas, maar die meeste daarvan spruit uit kindertrauma voort.
Silas en die Ysbeer op Tafelberg is ’n kinderfliek wat swaar onderwerpe soos hartseer en verlies aanspreek.
Ek wil hierdie week hoofsaaklik op Landmyn fokus, aangesien dit tans in bioskope draai, maar dit lyk vir my of die meeste mense nie eens van die fliek geweet het nie.
As ek die storielyn moes opsom, sou ek sê dit gaan oor ’n gesin wat in Kaapstad vakansie hou en wie se vakansie omvergegooi word wanneer hul vernietigende en emosioneel manipulerende ma opdaag.
Die fliek voel soos ’n drama én ’n riller, want daar is geen manier om te weet wat die ma volgende gaan doen of sê nie. Wat as ’n klein gesinsbyeenkoms begin, ontaard vinnig in chaos. Ek wil nie te veel verklap nie, aangesien dit beter is om self te sien hoe die storie ontvou.
As jy die reeks The Bear gekyk het, voel hierdie fliek baie soos die “Fishes”-episode uit Seisoen 2. Ek dink dis die beste vergelyking, want hoewel die karakters sterk gedramatiseer word, voel hulle steeds eg. Ek dink baie van ons het al met soortgelyke familielede te doen gekry.
Dis ’n rolprent wat jou die een oomblik kwaad maak, terwyl dit jou die volgende oomblik meevoer in die karakters se hartseer. Dit het ook ’n klomp snaakse oomblikke wat ons daaraan herinner dat alle families hulle op- en afdraandes het.
Die ding waarvan ek die meeste van hierdie fliek hou, is die skryfwerk. Die storie vloei moeiteloos en die dialoog voel eg.
Jy kan jou van die begin af in die karakters se skoene plaas. Landmyn is ’n uitstekende fliek, hoewel dit nie altyd maklik is om te kyk nie. Dit beteken net dat hierdie fliek iets het om te sê en ek hoop die gehoor luister. Dit wys tans in uitgesoekte rolprentteaters.
Volgende week sal ek meer oor Silas en die Ysbeer op Tafelberg praat. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie