Daar is heelwat om oor te gesels
Ek het besluit om hierdie week sommer ’n paar resensies op een slag te skryf. Dit was ’n besige paar weke en daar is ’n paar televisiereekse en films wat julle dalk misgeloop het.
Talle reekse het met nuwe seisoene teruggekeer en ’n paar wonderlike flieks het hul debuut in bioskope gemaak. Ek het nie die kans gekry om alles te resenseer nie, maar nou is net so ’n goeie tyd soos enige ander om dit te doen.
The End of Oak Street
Ek was baie opgewonde om The End of Oak Street te gaan kyk en ek kan met ’n glimlag sê ek was nie teleurgesteld nie. Dit was dalk selfs beter as wat ek gehoop het. Ek wil nie die fliek vir enigiemand bederf nie, maar dit volg basies ’n gesin wie se hele woonbuurt op een of ander manier terug in tyd geneem word na ’n era toe dinosourusse nog op die aarde rondgeloop het.
Hulle moet probeer om aan die lewe te bly terwyl hulle ontrafel hoe om huis toe terug te keer. Dis ’n oorspronklike storie wat duidelik deur flieks uit die 1980’s en 1990’s beïnvloed is. Die fliek is nie bang om risiko’s te neem nie. Die storie neem wel ’n rukkie om op dreef te kom, maar sodra die dinosourusse hul verskyning maak, begin die aksie. Vir my is dit ’n maklike 4 uit 5 sterre.
Ted Lasso
Ted Lasso het ook sy langverwagte terugkeer met ’n vierde seisoen op Apple TV gemaak en ek dink eintlik dit was die wag werd. Dit begin nie op die beste noot nie, maar ná twee episodes is ek net bly dat die reeks terug is. Dit voel wel of daar iets ontbreek, maar ek is bly die meeste van die oorspronklike rolverdeling is terug. Die humor is steeds daar en die reeks het steeds ’n goedhartig gevoel. Ek hou baie van die nuwe rolverdeling en kan nie wag om te sien wat hulle bied nie. Ek dink om op die vrouespan te fokus, is ’n risiko wat vrugte sal afwerp. Ek hoop net ons sien ook ’n paar verskynings van die manspan. Die nuwe seisoen verdien vir my 3 en ’n half uit 5 sterre.
Reacher
Reacher is ook terug vir ’n vierde seisoen op Prime Video en ek dink dit is die beste seisoen sedert die eerste een.
Moet my nie verkeerd verstaan nie, dié reeks het nie swak seisoene nie, maar hierdie seisoen het my van die eerste minuut af geboei.
Ek dink hierdie storie is baie relevant tot hoe dinge in die werklike lewe is. Jack Reacher verteenwoordig in wese die held wat ons almal wens ons kon wees. Alan Ritchson is weer eens fenomenaal as Reacher en hierdie seisoen se ondersteunende rolverdeling is net so sterk.
Die aksie is uitstekend, selfs beter as waarop ek gehoop het, en dit sorg vir wonderlike vermaak. Soms het jy ’n reeks nodig wat net eenvoudige pret is en dit is presies wat die reeks is. Dis nie net afleiding nie, maar beslis die moeite werd om te kyk. Dis vir my ’n maklike 4 en ’n half uit 5 sterre. Ek kan nie ophou om die reeks aan te beveel nie.
Paw Patrol: The Dino Movie
Paw Patrol: The Dino Movie draai ook tans in die rolprentteaters, hoewel ek dit nog nie gekyk het nie. Ek neem egter aan dit sal wonderlik vir gesinne wees.
Die nuwe Jason Statham-fliek, Mutiny, word vandag uitgereik en ek sien baie daarna uit.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie