Comic Con, hier kom ek!

The Movie Guy
Barry de Klerk

Comic Con Africa vind oor ’n paar weke plaas en ek tel al geduldig die dae af, maar my geduld begin nou opraak.

Ek raak gewoonlik opgewonde oor al die konvensies wat ek bywoon, maar ’n besoek aan Johannesburg is altyd spesiaal. Vanjaar se geleentheid vind van 24 tot 27 September in die Goudstad plaas en ek is weer deel van die genooide media. Dis ’n groot voorreg om dit wat ek liefhet as werk te kan doen. 

Wanneer dit by Comic Con Africa kom, is daar gewoonlik vyf dinge waarna ek die meeste uitsien.

Eerstens is daar die mense. Ek hou daarvan om tussen mense te wees wat lief is vir dit waarvoor ek lief is. Ek geniet dit ook om te sien hoe hulle soos hul gunstelingkarakters aantrek. As joernalis is dit soveel pret om meer oor hul kreatiewe prosesse te leer en te hoor hoekom hierdie karakters so baie vir hulle beteken.

Tweedens is ek mal oor al die aktiwiteite. ’n Paar jaar gelede kon ek saam met Netflix die Upside Down van Stranger Things betree en daarna het ek selfs aan Squid Game deelgeneem.

Ek kon ook die verskillende Disney-stories ervaar en verskeie ander speletjies speel, insluitend ’n paar bordspeletjies waarvan ek nog nooit voorheen gehoor het nie.

Die derde punt is waarskynlik die belangrikste: die internasionale en plaaslike gaste. Ek kan ure lank na akteurs en filmmakers luister wanneer hulle praat. 

Hulle is immers die rede vir The Movie Guy. Verlede jaar kon ek gaan sit en met Misha Collins, wat in Supernatural gespeel het, gesels. Ek dink dit was die hoogtepunt van my loopbaan en dit is ’n oomblik wat ek vir altyd sal koester. Ek het hom selfs sover gekry om “!nxa” te sê.

Vierdens is ek mal oor die verskillende paneelbesprekings. Elke Comic Con het ’n unieke program en elke keer leer ek iets nuuts. Ek het geleer hoe om ’n beter skrywer te word en ek het meer oor rolprentvervaardiging en storievertelling geleer. 

Ten slotte is ek eenvoudig mal oor alles daarvan. Van die kos tot die optredes – en die feit dat ek daaroor kan skryf, is die kersie op die koek.

Ek probeer gewoonlik om soveel as moontlik van Comic Con te dek met artikels en video’s. Die afgelope paar jaar doen ek sommer sook fliekvasvrae by die konvensies en dit was absoluut fantasties. Ek wil nie net ’n joernalis wees wat op die konvensievloer rondloop op soek na stories, foto’s of video’s nie; ek wil dit ook vir ander mense spesiaal maak.

Ek is ’n introvert, maar Comic Con laat my toe om vir ’n paar dae uit my dop te kruip. Dit gee my die geleentheid om myself te wees en net saam met almal rondom my pret te hê. Ek dink ek het die meeste van my naaste vriende deur geleenthede soos Comic Con ontmoet.

Ek samel weer eens fondse in om my uitgawes om Comic Con toe te gaan, te dek. Die fondse sal hoofsaaklik vir vervoer en verblyf gebruik word. 

As die enigste Namibiese mediaverteenwoordiger is ek geëerd dat ek uitgenooi is en ek kan nie wag om vir Namibië te wys hoe Comic Con Africa lyk nie.

Ek is so naby daaraan om my teiken te bereik, so as jy my kan ondersteun en help om my uitgawes te dek sodat ek vir almal die beste moontlike Comic Con-dekking kan bring, sal ek dit opreg waardeer. 

Stuur ’n epos na [email protected] of stuur ’n boodskap op Instagram na @themovieguy_nam.

Kommentaar

Republikein 2026-10-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer