As Night Fades (ANF) vertrek vandeesweek na Suid-Afrika om aan die Wacken Metal Battle vir Afrika suid van die Sahara deel te neem. Foto verskaf
As Night Fades (ANF) vertrek vandeesweek na Suid-Afrika om aan die Wacken Metal Battle vir Afrika suid van die Sahara deel te neem. Foto verskaf

ANF slaggereed vir die Wacken-verhoog

Iréne-Mari van der Walt
Die gewilde metal-groep As Night Fades (ANF) tree die naweek by die Wacken Metal Battle vir Afrika suid van die Sahara in Suid-Afrika op.

Die groep het die afgelope naweek ’n geleentheid by Handle Bar in die hoofstad gehou om geld in te samel om die groep se koste vir hul deelname aan dié kompetisie te dek.

“Ons het dit geweldig geniet en die mense wat gekom het om ons te ondersteun was mal.

“Ons kan dit nie verduidelik nie – dit is ’n oorweldigende gevoel van dankbaarheid, want mense het opgedaag ten spyte daarvan dat dit reeds so ’n besige naweek was.

“Selfs mense wat nie daar kon wees nie, het vir ons ’n skenking gegee – dit opsig self spreek boekdele,” het Stephen Slabber, die groep se sanger, gesê.

ANF het ook vir die eerste keer ooit hul jongste enkelsnit hier gespeel. Slabber sê die liedjie “Sever” is spesifiek vir Wacken geskryf.

“Die reaksie op ‘Sever’ was ’n verrassing. Almal was verras en dit het baie goed afgegaan,” sê hy.



ONDERHOUD

Tydens ’n onderhoud verlede week met Network Media Hub (NMH) se program Kletskompas het ANF se tromspeler, J-P Jacobs, oor hul voorbereiding vir Wacken gepraat.

“Die druk is definitief daar. Ons doen alles van ons kant af wat ons kan doen om voorbereid te wees vir dit.

“Hierdie keer het ons bietjie meer ondervinding en ons weet wat om te verwag, so vir die laaste jaar het ons baie voorbereiding gedoen,” het hy gesê.

Slabber meen die belangrikste les wat hulle verlede jaar uit hul deelname geleer het, was die ontdekking van nuwe talent.

“Afrika het talent en ek praat van talent wat jy nie sal verstaan nie. Ek dink die wêreld het in die metal-‘scene’ Afrika bietjie afgeskeep.

“Hulle het nie regtig na ons gekyk nie, maar ek dink hierdie battle het die wêreld se oë ’n bietjie op Afrika geplaas en ek dink dis ’n goeie ding,” sê Slabber.

Jacobs sê die groep is geïnspireer deur die ander groepe wat verlede jaar aan Wacken deelgeneem het, en sê die groep se benadering tot hul musiek het verander.

“Sedert Wacken verlede jaar het alles verander in As Night Fades. Ons oefening is nou baie strenger en baie meer produktief.

“Ons het ook nou baie meer tegnologie betrek, want dit is iets wat ons definitief in Johannesburg opgemerk het.

“Alles het net strenger geword en die werk het net harder geword, maar dit is nog steeds lekker, so ons sal nie sommer ophou nie,” sê Jacobs.

Ná 12 jaar saam as ’n groep, sê Slabber dat die groep se hegte vriendskap, lojale aanhangers, en natuurlik hul streng bestuurder, sorg dat die musiek voortgaan.

“Ek dink wat ons ook bymekaar hou, is die mense – die mense wat by ons shows is en met ons oor ons musiek praat – en ons nuwe vriende in Suid-Afrika; dit hou ons bymekaar.

“Dit maak dat dit nie werk vir ons is nie. Ons oefen baie en ons bestuurder Nikolai het vir ons ’n skedule opgestel en die tye was nie onderhandelbaar nie. Om daardie struktuur in die groep te hê, hou ons ook op ons tone,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer