2026 het nog baie om te bied

Barry de Klerk

Ons is halfpad deur die jaar en 2026 het reeds ongelooflike flieks opgelewer – van uitstekende wetenskapsfiksie soos Project Hail Mary tot indie-gruwelflieks soos Obsession en Backrooms, maar daar is nog baie meer op pad.

Ek het geweet 2026 gaan ’n goeie jaar vir flieks wees, maar daar was soveel verrassings. Ek sal jok as ek sê dat sommige flieks my nie teleurgestel het nie, maar aan die ander kant het sommige my regtig beïndruk. 

Hier ’n paar flieks waarna jy van Julie tot Desember kan uitsien.


THE ODYSSEY

Christopher Nolan keer terug na wat moontlik sy grootste fliek tot nog toe kan wees. Dis die eerste fliek in die geskiedenis wat volledig in IMAX geskiet is, wat regtig opwindend is. Die fliek het ’n ongelooflike rolverdeling met Matt Damon, Anne Hathaway, Tom Holland, Zendaya, Charlize Theron en nog vele meer. Dit het die potensiaal om my gunstelingfliek van die jaar te wees.


SPIDER-MAN: BRAND NEW DAY

Dit is geen geheim dat Spider-Man my gunstelingkarakter ooit is nie. Tom Holland keer terug as Peter Parker en dié keer lyk dit of ons ’n meer gegronde storie gaan kry. So baie as wat ek die ander flieks in hierdie reeks geniet het, dink ek dit is wonderlik dat ons uiteindelik ’n Spider-Man kry wat sy eie man moet staan.


THE END OF OAK STREET

Ek hou van ’n goeie dinosourusfliek en hierdie een lyk of dit dalk skrikwekkend gaan wees. Dinosourusse is veronderstel om vreesaanjaend en intimiderend te wees. Hierdie fliek se lokprente het my heeltemal oortuig dat ons presies dit gaan kry, so hopelik stel dit nie teleur nie.


HOW TO ROB A BANK

David Leitch is stadig maar seker besig om een van my gunsteling-rolprentmakers te word. Hy verstaan hoe goeie toertjies en aksie ’n rolprent kan verbeter en dit is omdat hy self ’n waaghals is. Nicolas Hoult, Anna Sawai en Zoe Kravitz vertolk die hoofrolle en dit alleen het my opgewonde gemaak.


DIGGER

Die nuwe Tom Cruise-fliek is baie geheimsinnig. Alejandro G. Iñárritu is die regisseur en daar word gesê dat dit ’n satiriese swart komedie is. Al wat ek weet, is dat dit oor ’n magtige man gaan wat teen tyd jaag om die mensdom te red van iets wat hy self begin het. Tom Cruise is een van die laaste oorblywende rolprentsterre, so ek twyfel nie dat hy uitstekend daarin gaan wees nie.


STREET FIGHTER

As jy in die 1990’s met videospeletjies grootgeword het, dan klink hierdie titel dalk bekend. Dit is op die Street Fighter-speletjiereeks gebaseer en dit lyk of dit al die vreemde en absurde dele van die speletjies gaan aanpas.

Dit lyk na baie pret, soos een van daardie flieks waar jy net jou brein kan afskakel en terselfdertyd vermaak word.


AVENGERS: DOOMSDAY EN DUNE: PART 3

Die twee grootste flieks van die jaar én hulle kom op dieselfde dag uit. Ek het hoë verwagtinge vir albei flieks, maar ek is altyd optimisties versigtig, want niks kan 

Dune: Part Two en Avengers: Endgame klop nie. Ek dink ons sal maar moet wag en sien. 

Daar is nog soveel ander wonderlike rolprente wat ek nie in hierdie lys kon insluit nie. Al wat ek kan sê is: Jy moet nou geld begin spaar om al die fliekkaartjies te kan bekostig.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer