‘n Afrikaanse Krismis

The Movie Guy: Resensie
Barry de Klerk – Die feestyd is uiteindelik hier en daar is niks lekkerder as om ’n hartverblydende Kersfliek aan te sit om jou gemoed te lig nie.

Ek is mal oor Kersflieks, ek het al in November begin om na nuwe flieks te soek. Ek gee nie om of die flieks goed of sleg is nie, ek gaan dit waarskynlik kyk.

Ek probeer gewoonlik om ten minste een fliek per dag te kyk terwyl ek die dae tot Kersdag aftel. Ek hou natuurlik van die klassieke rolprente soos Home Alone, Die Hard, Elf en Miracle on 34th Street, maar elke jaar probeer ek om ’n paar nuwe flieks te kyk. Hierdie jaar gaan ek probeer om die beste Afrikaanse Kersflieks te kyk.

Ek moes diep gaan krap om ’n paar te kry en gelukkig kon ek vyf flieks kry waaroor ek mal is. Hierdie flieks wissel van komedies tot hartroerende dramas en elkeen is wonderlik op sy eie manier.

Ek dink almal is die moeite werd om te kyk, selfs al hou jy dalk nie van almal nie. Hier is die vyf wat jy op Showmax kan kyk:



ASSEBLIEF EN DANKIE

Dis ’n drama wat fokus op die klein, stil oomblikke wat Kersfees betekenisvol maak. Dit volg herkenbare karakters wat jy dalk in jou eie familie het. Dit is ’n storie oor familie, vergifnis en hoe ons mekaar in donker tye moet ondersteun. Wat die fliek besonders maak, is sy eerlike emosionele diepte. Dit vang daardie bekende Afrikaanse mengsel van humor, teerheid en chaos vas wat altyd rondom die Kerstafel voorkom.



LIEWE KERSFEESVADER

Hierdie een móét jy kyk. Dit speel af soos ’n Kerswens wat in ’n fliek omskep is. Dis snaaks, hartseer en tog ongelooflik seënryk. Dit herinner my daaraan hoeveel wonderwerke daar in die Kersseisoen voorkom, ons moet net bereid wees om daarna te soek. Die fliek is die moeite werd om te kyk want dit lewer opregte sjarme sonder om op clichés staat te maak.



SOMERKERSFEES

Dit is nie Kersfees sonder ’n lekker gesinsvakansie nie. Hierdie fliek omarm ’n Kersfees met sonskyn en braaivleis op die voorgrond. Dit voel soos ’n herinnering aan my eie Kersvakansies, maar die fliek is dalk nie heeltemal kindervriendelik nie. Die fliek fokus op familie, dit is egter ook baie pret.



A BOERE-KRISMIS

Niks s? Krismis soos ’n dramatiese familiesituasie nie en niks sê feestyd soos saamlag nie. Die fliek is vol bekende gesigte en plekke. Dit voel eg Afrikaans en eg Suid-Afrikaans, iets waarmee baie Namibiërs beslis kan identifiseer. Die “mockumentary”-styl laat dit voel soos ’n huisfliek en dit neem my sommer terug na my kinderdae.



POSBUS 1

Dit is ’n sagte, emosionele Kersverhaal, een van daardie wat jou herinner waaroor hierdie seisoen regtig gaan. Dit is minder oor groot feestelike oomblikke en meer oor die stil, betekenisvolle verbintenisse tussen vreemdelinge en families. Die fliek kan jou dalk ’n bietjie emosioneel maak, maar dit is presies wat dit so spesiaal maak.

In Namibië het ons unieke maniere om Kersfees te vier. Dit gaan oor saamwees en om tyd saam met familie en vriende deur te bring. Niks bring mense sonder moeite bymekaar soos ’n goeie fliekaand nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer