Feeding Namibia maak hongerpyne stil

Kinders ontvang twee etes per dag
'n Liefdadigheidsorganisasie het 'n perseel bekom van waar af kinders 'n bord kos sal kan kry.
Feeding Namibia het ’n perseel in Swakopmund bekom van waar af die organisasie etes aan kinders in die DRC-nedersetting sal voorsien.

Die stigter van dié organisasie, Freddy van Niekerk, sê hy het vier jaar gelede begin om vir kinders kos te gee deur etes aan verskeie sopkombuise in Swakopmund en Walvisbaai te verskaf.

Die organisasie het die munisipaliteit van Swakopmund twee jaar gelede vir ’n erf genader om ’n permanente voedingspunt op die dorp te vestig.

“Die munisipaliteit het in Februarie ons versoek goedgekeur.”

Voorheen het Feeding Namibia op Saterdae saam met ander sopkombuise in DRC en Mondesa gewerk om tussen 200 en 300 kinders te voed.

Volgens Van Niekerk sal die kinders aanvanklik twee keer per week etes ontvang, met planne om in die toekoms elke dag kos te voorsien, sou borge aanboord kom en vrywilligers aansluit.

Wanneer hulle kos kom haal, kry kinders ook boekies van die One Hope-organisasie wat saam met Feeding Namibia werk.

“Ons doen aktiwiteite om hulle meer van die lewe te leer wanneer ons vir hulle kos gee,” het Van Niekerk gesê.

Hy het bygevoeg dat hulle in die proses is om ’n liefdadigheidstrust te stig en dat die aanvraag om hulp in gemeenskappe soos Uis en Omaruru reeds toegeneem het.

Good Food Namibia bestuur ’n program wat lae-inkomstehuishoudings in die Erongostreek van toerusting voorsien wat hulle benodig om hul eie groente te kweek.

As die primêre borg, het hulle ’n groentetuin aangelê waar kinders sal leer hoe om hul eie kos te verbou.

Annerie Maré – wat aan ’n soortgelyke projek werk – is entoesiasties oor hierdie poging.

“Ek is dankbaar dat Namibië probeer om selfonderhoudend te word en sy mense te voed. My doelwit is om kinders te leer oor die waarde van landbou en hulle te help om selfversorgend te wees.”

Sy glo projekte om voedselsekerheid te verseker, sal help om wanvoeding en armoede te verlig.

“Indien jy ’n kind in die rigting oplei waarin hulle moet gaan, sal hulle nie afdwaal wanneer hulle ouer word nie.”

Swakopmund se burgemeester, Louisa Kativa, het die organisasie vir sy vrygewigheid teenoor en ondersteuning aan die gemeenskap van DRC geloof.

“Die doel van hierdie geleentheid is om gesinne in Swakopmund op te hef en te ondersteun. Voedselsekerheid is steeds ’n kwessie in ons land en die toename in die aantal gemeenskapslede wat in armoede leef, is kommerwekkend aangesien baie gesinne honger gaan slaap.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer