Arandis kry houtskoolpakhuis

Hupstoot vir werkverskaffing
Michelline Nawatises
Michelline Nawatises •

Swakopmund

Die sooispitseremonie vir die oprigting van ’n houtskoolproduksie-aanleg en -verwerkingspakhuis is verlede week op Arandis gehou.

Die pakhuis van 4 000 m² sal oor kantore, bergingsgeriewe, storte en toilette vir werknemers, ’n kafeteria en ’n weegbrug beskik.

Dit sal na verwagting teen einde November 2022 voltooi wees.

Green Charcoal Namibia beoog om 60 inwoners van Arandis in diens te neem en elkeen sal mediese voordele sowel as opleiding in onder meer noodhulp, brandbestryding en ander aspekte van houtskoolhantering ontvang.

’n Geskatte 30 000 ton houtskool sal by die pakhuis verwerk en verpak word.

“Die pakhuis is ontwerp om 50 000 ton te akkommodeer, maar weens die masjinerie waaroor ons tans beskik, sal ons met 30 000 ton begin en mettertyd uitbrei.

“Die produkte word vir ’n bykomende tydperk van 21 dae geberg voordat dit vir verskeping verpak word. Ons sal ongeveer 125 vraghouers per maand verskeep,” sê Jean-Daniel Goblet, ’n direkteur van Green Charcoal Namibia.

Die vervaardiging van brikette deur gebruik te maak van klein stukkies houtskool wat nie verkoop kan word nie, sal ook op die perseel plaasvind. Die stukkies sal gemaal en daarna met stysel gemeng en saamgepers word om brikette te vorm.

Na verwagting sal tot 8 000 ton brikette per jaar vervaardig word, en ongeveer 133 vraghouers van dié produk sal maandeliks uitgevoer word.

Een doelwit van die maatskappy is om die aanbod van houtskool wat na België uitgevoer word vanaf 20 000 ton tot 40 000 ton te verhoog.

Mark in Wes-Europa

Green Charcoal Namibia is in 2021 geregistreer met die doel om Namibiese houtskool by die aanleg op Arandis te verwerk en te verpak sodat dit na Europa uitgevoer kan word.

Die maatskappy word ondersteun deur Carbobois (die moedermaatskappy) in België wat reeds houtskool en brikette oraloor Europa (Spanje, Italië, Duitsland, Nederland en ander markte) versprei. Carbobois het kontrakte vir 2022 en 2023 aan Green Charcoal Namibia toegeken om een van hul verskaffingspilare te word.

Die maatskappy spesialiseer in die vervaardiging van volhoubare houtskool en brikette en het ’n verskaffingsooreenkoms vir drie jaar bekom om Namibies verwerkte houtskool te versprei.

“Ons het Namibië baie verwelkomend gevind. Invoere van houtskool uit Namibië het toegeneem, dus het ons besluit om in die land te belê. Arandis is ’n goeie ligging, want die hoofpad loop hier verby, wat vervoer vergemaklik,” het Cédric Schmidt, nog ’n direkteur van Green Charcoal Namibia, gesê.

Die adjunkminister van stedelike en landelike ontwikkeling, Nathalia /Goagoses, was opgewonde oor die planne.

“Dis fantastiese nuus vir die gemeenskap van Arandis en dit sal bydra tot die land se bruto binnelandse produk (BBP), werk skep en in die gemeenskap terugploeg.”

Sy het bygevoeg hierdie is ’n eg Namibiese projek wat teen vandalisme en skade beskerm moet word.

“Laat ons dit met ywer bewaak en bewaar sodat hierdie projek na die volgende fase kan vorder en vir toekomstige generasies ook iets kan beteken.”

Kommentaar

Republikein 2024-05-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Deportivo Alaves 1 vs 0 Getafe | Real Sociedad 1 vs 0 Valencia | Almería 0 vs 2 Barcelona | Las Palmas 2 vs 2 Real Betis SerieA: Torino 3 vs 1 AC Milan | Lecce 0 vs 2 Atalanta | Fiorentina 2 vs 2 Napoli European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 1 West Bromwich Albion | Leeds United 4 vs 0 Norwich City English Championship: Southampton 3 vs 1 West Bromwich Albion | Leeds United 4 vs 0 Norwich City Katima Mulilo: 11° | 31° Rundu: 9° | 30° Eenhana: 11° | 31° Oshakati: 12° | 31° Ruacana: 12° | 31° Tsumeb: 13° | 29° Otjiwarongo: 12° | 27° Omaruru: 14° | 29° Windhoek: 12° | 26° Gobabis: 13° | 27° Henties Bay: 20° | 36° Wind speed: 27km/h, Wind direction: E, Low tide: 07:06, High tide: 13:28, Low Tide: 19:06, High tide: 01:31 Swakopmund: 20° | 26° Wind speed: 25km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:04, High tide: 13:26, Low Tide: 19:04, High tide: 01:29 Walvis Bay: 22° | 33° Wind speed: 25km/h, Wind direction: SE, Low tide: 07:04, High tide: 13:25, Low Tide: 19:04, High tide: 01:28 Rehoboth: 12° | 27° Mariental: 15° | 29° Keetmanshoop: 18° | 30° Aranos: 15° | 29° Lüderitz: 16° | 35° Ariamsvlei: 18° | 32° Oranjemund: 13° | 33° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 14° | 27° Lubumbashi: 11° | 26° Mbabane: 12° | 25° Maseru: 8° | 24° Antananarivo: 15° | 22° Lilongwe: 13° | 26° Maputo: 20° | 27° Windhoek: 12° | 26° Cape Town: 14° | 21° Durban: 17° | 28° Johannesburg: 15° | 24° Dar es Salaam: 24° | 32° Lusaka: 13° | 25° Harare: 12° | 26° #N/A #N/A