Annemarie du Toit
Annemarie du Toit

Moenie jouself deur ander se oë sien nie

Sê Maar Net
Annemarie du Toit

Daar is dae wat jy sommer net ’n bietjie minder soos jouself voel. Jy kyk in die spieël en sien net die dinge waarvan jy nie hou nie. Jy vergelyk jouself met iemand anders en wonder hoekom jy nie soos hulle lyk, leef, presteer of voel nie. 

Jy het dalk ’n goeie dag gehad en dan sê iemand een klein dingetjie wat die verkeerde snaar tref – en skielik begin jy aan alles omtrent jouself twyfel. 

Ek dink ons praat nie genoeg oor hoe maklik dit is vir ander mense om die beeld van onsself te beïnvloed nie. Een opmerking kan jou jare lank bybly. 

Iemand maak dalk ’n grappie oor jou voorkoms, jou persoonlikheid, jou werk of jou keuses, en vir hulle is dit vyf sekondes later vergete. Jy, aan die ander kant, lê daardie aand in die bed en speel die gesprek oor en oor in jou gedagtes af.

En die gevaarlikste deel is wanneer jy begin glo wat hulle gesê het. Jy begin om jouself deur iemand anders se oë te sien. Jy begin dink dat jy nie mooi, slim, interessant en suksesvol genoeg is nie. Jy begin na jou eie tekortkominge soek, nog voordat iemand anders dit uitwys.

Maar net omdat iemand iets van jou dink, beteken dit nie dit is die waarheid nie.

Mense kyk na ons deur die lens van hul eie ervarings, onsekerhede, voorkeure en soms selfs hul eie ongelukkigheid. Sommige mense sal probeer om jou minderwaardig te laat voel omdat hulle self minderwaardig voel. Ander mense sal eenvoudig nie van jou hou nie en dit is ook deel van die lewe. Jy gaan nooit almal se mens wees nie.

En jy hoef ook nie.

Ek dink een van die belangrikste dinge wat ons kan leer, is om ’n bietjie afstand te skep tussen wat ons voel en wat ons weet. Jy mag sleg voel oor jouself sonder om te besluit dat jy sleg ís. Jy mag onseker wees sonder om daardie onsekerheid as jou identiteit te aanvaar.

Wanneer iemand jou laat voel asof jy nie goed genoeg is nie, probeer om jouself terug te bring na die mense wat jou wél ken. Na die dinge wat jy al bereik het. Na die eienskappe van jouself waarvan jy vergeet wanneer jy ’n slegte dag het. Onthou hoe jy mense behandel. Onthou hoe hard jy werk. Onthou die kere wat jy opgestaan het toe jy eintlik wou opgee.

En soms moet jy eenvoudig ophou om jouself te verduidelik aan mense wat reeds besluit het wie jy is.

Jy hoef nie elke mening reg te stel nie. Jy hoef nie elke kritiek verkeerd te bewys nie. Jy hoef nie almal daarvan te oortuig dat jy waardevol is nie. Jou waarde word nie groter wanneer iemand jou komplimenteer nie en dit verdwyn ook nie wanneer iemand jou kritiseer nie.

Jy gaan nie elke dag van jouself hou nie. Daar gaan dae wees wat jy onseker voel, dae wat jy jouself vergelyk en dae wat iemand anders se woorde harder tref as wat dit behoort te doen. Dis oukei.

Die doel is nie om nooit sleg oor jouself te voel nie. Die doel is om nie daardie gevoel die mag te gee om vir jou te vertel wie jy is nie. Want jy is soveel meer as die weergawe van jou wat iemand anders een keer raakgesien het.

Moenie jouself deur ander mense se oë leer ken nie. Leer jouself ken. En wanneer die wêreld jou probeer oortuig jy is nie genoeg nie, hoop ek jy ken jouself goed genoeg om te antwoord: “Ek weet wie ek is. En dit is genoeg.”

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-08-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer