Wanneer klip vlerk kry
UIT DIE GEMSBOK, UPINGTON
Sodra jy kans kry om die motor se neus in die rigting van die Noord-Kaap te draai, is daar ̕n besonderse nuwe punt op die reiskaart.
Een van die streek se unieke besienswaardighede is die nuwe geoglief by Vanzylsrus, wat vroeg in Mei voltooi is. Die werk behoort aan die Vanzylsrus Hotel, wat dit tot voordeel van die gemeenskap en die kreatiewe ekonomie van die Kalahari sal bestuur. Dit plaas terselfdertyd die kollig op aasvoëlbewaring.
40 000 KALKSTENE
Die idee om ’n reusevoël op die vlakte uit te lê, het by Anni Snyman en haar broer, PC Janse van Rensburg, van die Site_Specific Collective-landkunsspan ontstaan.
Vir kunstenaar Pieter Pienaar was die projek ’n nege maande lange “klippevisie”. Hy en ’n span werkers het letterlik duisende klippe versamel en vervoer voordat die eerste lyn van die geoglief vroeg in Oktober 2025, voor die eerste Vanzylsrus-kunsteweek, gelê is.
KUNS MET ’N GEMEENSKAPSHART
Die 2026-span het kunstenaars en deelnemers van verskillende agtergronde saamgebring. Ingrid Schöfmann van Loxton en haar regterhand, Raymondo, oftewel Vaalie, het reeds saam met Anni aan die Rivierhaas-geoglief by Loxton gewerk.
Ingrid se werk strek verder as kuns en sluit projekte in wat die plattelandse kreatiewe ekonomie versterk, waaronder fietstoere, weefwerk en kleremakery.
Coreen, ’n Kanadese kunsstudent, het haar eerste geoglief-ervaring as ’n byna ongelooflike avontuur beskryf. Die volmaan, die vloeiende rivier en die uitgestrekte Kalahari-vlaktes het die ervaring verder versterk.
Teen die einde het Gustaf en Retha, ’n afgetrede fiksheidsbewuste paartjie, by die span aangesluit. Selfs klippepak het vir hulle ’n vorm van oefening geword – elke tree noukeurig deur hul Garmin-horlosies gemonitor.
’N NUWE KALAHARI-BESIENSWAARDIGHEID
Vir Pienaar was dit besonders om saam met ander kunstenaars oor die geoglief te droom en dit uiteindelik letterlik gestalte te gee.
Volgens hom is die aasvoëldenkpad by Vanzylsrus nou heel waarskynlik die grootste mensgemaakte geoglief in Afrika.
Die presiese aantal klippe sal dalk eendag deur professionele “kliptellers” bepaal moet word. Vir nou staan daar egter ’n indrukwekkende kunswerk op die Kalahari-vlakte – een wat besoekers iets gee om voor te stop, kyk en wonder.
northwestnewspapers.co.za


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie