Die wynlande se stem roep

Valleie van proe en smaak se verlei
Die Winelands Autumn Expo in Worcester is ’n viering van die streek se wyn, kos, vakmanskap, toerisme en mense.
Arrie Hougaard

Die Kaapse Wynlande is veel meer as net ’n streek van wingerde en wynplase. Met sy bergreekse, vrugteboorde, historiese dorpe, plaasgemeenskappe en uitgebreide landbougebiede vorm dit een van die Wes-Kaap se gewildste toerismestreke. Die kombinasie van wyn, kos, natuurskoon, kultuur en buitelugaktiwiteite maak die gebied aantreklik vir sowel plaaslike as internasionale besoekers.


’N STREEK VOL SMAAK EN STORIES

Worcester, sentraal in die Breedevallei, is ’n belangrike toegangspunt tot hierdie groter toerismegebied. Die dorp word omring deur berge en bied besoekers ’n verskeidenheid ervarings, van wyn en plaasprodukte tot kuns, geskiedenis, kos en buitelugaktiwiteite.

Dit was juis hier waar die derde Winelands Autumn Expo op 29 en 30 Mei by Montana Hoërskool aangebied is. Die geleentheid het in 2024 begin en bring ondernemings en toerismebelanghebbendes uit die streek bymekaar om die verskeidenheid produkte en ervarings in die Kaapse Wynlande aan besoekers bekend te stel.

Die 2026-geleentheid het meer as 5 000 besoekers gelok, met 146 binnenshuise uitstallers, asook buiteluguitstallings en kosverkopers.


ERVARINGS VIR ELKE REISIGER

Die verskeidenheid by die Expo het gewys dat daar iets vir uiteenlopende belangstellings is – van kos, drank en plaasprodukte tot kuns en handwerk, leerprodukte, kampeertoerusting, sleepwaens en boskaravane.

Een van die uitstallers was Wilderer Distillery van die Paarl. André Pretorius het vertel van die onderneming se 16 produkte, wat onder meer jenewer en likeurs insluit. Besoekers kon van die produkte proe en meer oor die distilleerproses leer.

By Mountain Bee, gebaseer op ’n plaas tussen Worcester en Wolseley, het Loryn van Seil die wêreld van heuning bekendgestel. Die onderneming se korwe strek van Robertson tot naby Calvinia. Benewens rou heuning vervaardig hulle ook produkte met byewas en propolis, asook verskeie heuningsouse.


VAN WYN TOT AVONTUUR

Die Expo het ook die fokus op plaaslike vakmanskap geplaas. Chris van Chalin Ray Leather het leerprodukte soos vellies, skoene, sandale en sakke uitgestal.

Hy vertel dat ’n groot deel van die onderneming se leer van koedoe afkomstig is en dat sommige van die leer uit Namibië verkry word. Dit is ’n familiebesigheid waarin hy, sy ma en pa saamwerk.

Vir die buitelugmens was daar Western Cape Conqueror Campers, met eienaar Giovan Pinar wat vertel het van die onderneming se fokus op boswaens en veldsleepwaens. Die onderneming se geskiedenis strek oor sowat 40 jaar en sluit ervaring met sleepwaens en onderstelle in.

Volgens Pinar gaan die produkte uiteindelik oor meer as net toerusting. Dit gaan oor kwaliteitstyd, avontuur en die geleentheid om Suid-Afrika en Afrika saam met familie en vriende te beleef.

Die Winelands Autumn Expo wys daarmee hoe wyd die toerisme-aanbod van die Kaapse Wynlande strek. Wyn bly ’n belangrike trekpleister, maar daar is ook kos, kuns, geskiedenis, landbou, natuur, avontuur en plaaslike vakmanskap – alles verweef met die mense en stories van die streek.

“Dit was ’n topklas Expo met topklas gasvryheid.”


Kommentaar

Republikein 2026-10-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer