Die dorp wat weier om te verdwyn
Van die kus af kronkel die pad deur grys vlaktes en droë rivierlope, terwyl die Brandberg al groter aan die horison verrys. Vir baie reisigers is Uis net ’n tussenstop op pad na die Brandberg, Damaraland of Etosha. Vir die mense wat hier woon, is dit ’n dorp wat meer as een keer moes leer om van voor af te begin.
SO BYNA SKOONVELD
Uis was eens ’n belangrike tinmyndorp. Die myn het werk en ’n bloeiende gemeenskap geskep. Toe die internasionale tinprys in duie stort, het mense vertrek en besighede gesluit. Teen die middel van die 1990’s was daar volgens Albert Weitz junior omtrent net agt mense oor.
Sy pa, sakeman Albert Weitz, het in 1994 toevallig in Uis beland en wou aanvanklik die myn se infrastruktuur en toerusting koop. Toe die transaksie in 1995 afgehandel is, het hy besef die dorp kom saam met die myn. Dit het die begin van Uis se tweede lewe geword.
Een belangrike stap was om die dorp te laat proklameer sodat inwoners hul eiendomme wettig in hul eie name kon registreer. Dit het ruimte vir belegging geskep. Huise is opgeknap, ondernemings het teruggekeer en nuwe inwoners het ingetrek.
“Dit het 20 jaar geneem om te kom waar ons vandag is,” sê Weitz junior.
DIE OUES WORD NUUT GEBRUIK
Namclay, wat die familie in 2006 begin het, vervaardig boustene uit materiaal van die ou myn se afvalhope. Wat met ongeveer 20 werknemers begin het, bied vandag werk aan meer as 50 mense.
Net buite die dorp vertel die ou steengroef ’n ander deel van die storie. Die groewe het met water gevul en staan bekend as Water World. Daar was planne vir visboerdery en ekotoerisme, met ondersteuning van Japan en die destydse ministerie van visserye, maar die droom het nooit werklik posgevat nie. Vandag is die verroeste infrastruktuur ’n stille herinnering aan ’n ander poging om waarde uit die ou myn te skep.
’N DORP VAN MENSE
Uis se grootste bate is egter nie sy myn of infrastruktuur nie, maar sy mense. Basil Calitz, wat in 2005 dorp toe gekom het, noem dit tong-in-die-kies die “United International Society”. Mense uit Namibië en Europa het oor die jare deel van die gemeenskap geword.
Toerisme het intussen sterk gegroei. Uis is ’n belangrike toegangspoort na die Brandberg, Damaraland en Etosha, met toergroepe en kampeerders wat gereeld aandoen. Jaarlikse geleenthede soos Oktoberfees bring verdere lewe.
Die Brandberg White Lady Café, wat in 2023 geopen het, het ook ’n ontmoetingsplek geword. Plaaslike kunstenaars kry ruimte om handwerk en ander produkte aan besoekers te verkoop.
En dan is daar Liefde – die klein blinde hondjie wat een van Uis se bekendste inwoners geword het. Sy verwelkom besoekers by die kafee en het selfs haar eie T-hemde.
“Maak nie saak waar mense vandaan kom of watter taal hulle praat nie, almal verstaan Liefde,” sê Tannie Rita Vogt.
DIE PAD NA MÔRE
Die nuwe teerpad vanaf Hentiesbaai bring Uis nader aan die kus en kan verdere toerismegeleenthede skep. Hoewel sowat 16 km nog geteer moet word, is die grootste deel van die roete voltooi.
Maar ontwikkeling bring uitdagingsDaar is dorpe wat ’n mens besoek en weer vergeet. Dan is daar plekke wat stadig onder jou vel inkruip. Uis is so ’n plek.. Water bly die grootste probleem, terwyl groter mynbedrywighede, meer inwoners en meer verkeer druk op infrastruktuur plaas.
Langs die ou pad staan sommige van die bekende kristal- en handwerkstalletjies nou leeg. Vir verkopers wat van verbygaande verkeer afhanklik was, beteken die nuwe pad dat hulle moontlik weer van voor af moet begin.
Tog bly daar iets besonders aan Uis. Dit is ’n plek wat nie probeer om groter te lyk as wat dit is nie. Dit vra eerder dat ’n mens stadiger ry, afklim en met mense gesels.
Die ou myn vertel van wat verlore gegaan het. Die nuwe pad wys vorentoe. En tussenin leef ’n gemeenskap wat geleer het dat selfs in die hardste landskap nuwe lewe moontlik is.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie