Vrouebaanbrekers in oseaanwetenskap vereer
’n Rondreisende uitstalling wat fokus op die bydraes van 20 merkwaardige vroue in oseaanwetenskap, Oceánicas: Baanbrekers van oseanografie, kan vandag in die Seloma Julius-voorportaal by die Ou Kragstasie van Lüderitz (LOPS) besigtig word.
Talle van hierdie vroue is in die geskiedenis oor die hoof gesien.
Die uitstalling, moontlik gemaak deur die samewerking tussen die Spaanse ambassade en die Namibië Maritieme Museum onder die beskerming van die Lüderitz Waterfront Development Company, open amptelik vandag om 15:00.
Javier Pagalday, die ambassadeur van Spanje in Namibië, sal ’n oorsig gee van die uitstalling wat die prestasies van vroue van die 18de eeu tot vandag naspoor.
Dit begin by Jeanne Baret, die eerste en enigste vrou wat tydens die Era van Ontdekkings die wêreld omseil het, tot by hedendaagse oseanograwe wat vandag bewaringspogings lei.
Die uitstalling bestaan uit 15 panele, in chronologiese volgorde opgestel, met boeiende stories en illustrasies.
Eino Ngesheya, die kurator van die Namibië Maritieme Museum, het inwoners en kunsliefhebbers genooi om die uitstalling eerstehands te kom beleef en inspirasie daaruit te put.
“Oceánicas is ’n inisiatief van die Spaanse Instituut vir Oseanografie wat in 2018 van stapel gestuur is om die rol van vroue in mariene wetenskappe te beklemtoon en jonger geslagte te inspireer.
GESLAGSGELYKHEID
Dit het ontstaan uit pogings om geslagsgelykheid in die wetenskap te bevorder, in pas met die Verenigde Nasies (VN) se Internasionale Dag van Vroue en Meisies in die Wetenskap,” het hy verduidelik.
Ngesheya het bygevoeg: “Deur uitstallings, opvoedkundige materiaal en openbare betrokkenheidsaktiwiteite vier Oceánicas historiese figure soos Marie Tharp, wat die bodem van die Atlantiese Oseaan gekarteer het ondanks die feit dat sy van navorsingsvaartuie verban is. Ángeles Alvariño, die eerste vrou wat op ’n Britse navorsingskip gevaar het, het 22 nuwe mariene spesies ontdek het. Die projek dien ook as ’n platform vir vandag se vroue-oseanograwe om hul werk te deel en jong wetenskaplikes te mentor.”
UITDAGINGS
Ngesheya het verder beklemtoon dat klimaatsverandering, oorbevissing en besoedeling die oseane bedreig en hulle vir altyd kan verander.
“Die uitdagings is enorm, en om dit die hoof te bied moet ons op al die beskikbare talent kan staatmaak. Daarom is gelyke toegang vir vroue en mans tot mariene wetenskap – ook tot posisies van verantwoordelikheid – meer noodsaaklik as ooit.
"Ons hoop hierdie 20 verhale, wat slegs ’n paar voorbeelde is van die vele roemryke vrouewetenskaplikes van die verlede en die hede, sal ’n bron van inspirasie wees vir enigiemand wat droom om by mariene navorsing betrokke te raak,” het hy gesê.
Ná die amptelike opening van die uitstalling sal prof. Mike Bruton ’n lesing aanbied met die titel “Die viering van oseaniese diversiteit en die sleutelrol van vroue in hierdie strewe”.
Bruton is ’n emeritusprofessor aan die Universiteit van Kaapstad en ’n internasionaal erkende kenner in mariene biologie, oseaanbewaring en wetenskapskommunikasie.
Hy het ’n PhD van Rhodes-universiteit in Suid-Afrika en het ’n uitgelese loopbaan in igtiologie, akwatiese ekologie en informele wetenskapsonderrig, asook in die geskiedenis van wetenskap en tegnologie.
“Hy is die stigtingsdirekteur van bakeninstellings soos die Two Oceans-akwarium en die Kaapstad-wetenskapsentrum en het bygedra tot die ontwerp en ontwikkeling van museums en wetenskapsentrums wêreldwyd.
"Sy werk is met talle internasionale toekennings erken, waaronder die Ordre des Palmes Académiques (Frankryk) en die Marloth-medalje van die Royal Society of South Africa,” het Ngesheya gesê.
KAPTEIN KWEDHI
Namibië se kaptein Nelago Kwedhi sal as gasspreker in die Lüderitz Waterfront-ouditorium optree.
Kwedhi was die eerste Namibiese vrou wat as kaptein van ’n vissersboot gekwalifiseer het. Sy het daarmee grense afgebreek wat tradisioneel deur mans in die maritieme en visserybedryf oorheers word.
“Sy is in Ondangwa in die noorde van Namibië gebore, het haar maritieme opleiding by die Namibië Maritieme en Visserye-instituut (Namfi) in Walvisbaai gekry en daarna ’n lang loopbaan in die visserysektor by NovaNam opgebou.
Sy het deur die geledere gevorder van dekoffisier tot skeepskaptein op 41-jarige ouderdom van van die vissersboot MFV Kanus.
Haar verhaal het gelei tot die dokumentêr The City Born from the Sea (wat afspeel tussen die Namibwoestyn en Lüderitz), wat leierskap, professionele uitnemendheid en die bemagtiging van vroue in die blou ekonomie uitlig,” het Ngesheya afgesluit.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie