Barry de Klerk
Barry de Klerk

Ek begin weer my ritme kry

The Movie Guy
--
Barry de Klerk

Toe 2026 begin het, het ek besluit om nie enige Nuwejaarsvoornemens te maak of enige doelwitte te stel nie. Dit beteken egter nie ek gaan ophou werk aan wat ek graag wil bereik nie.

Ek weet ek moes dié rubriek al verlede maand geskryf het, maar dit voel asof ek uiteindelik weer my ritme begin kry. Ek gaan eerlik wees: Hierdie jaar het nie die beste begin gehad nie en dit is deels hoekom ek besluit het om nog nie enige groot planne te maak nie. 

Ek wil vir eers net in die oomblik wees en werk aan hoe ek nou beter kan doen, of beter kan wees. Ek wil nou dinge doen wat my toekomstige self trots sal maak. Dit gesê, ek het steeds hoop dat daar groot dinge in 2026 op my wag.

Ek het doelwitte van 2025 wat ek nog nie bereik het nie, en vanjaar gaan ek aanhou om dit na te jaag. Die beste manier waarop ek dit kan doen, is om dit stap vir stap te vat. Ek is ’n grootprentjiedenker en ek sukkel soms om my idees of doelwitte in klein stukkies op te breek. 

Ek wil die klein dinge kan doen om uiteindelik te probeer om die groot doelwitte te bereik. Twee van my grootste doelwitte is om ’n kortverhaalreeks en ’n draaiboek te skryf. Om dit reg te kry, gaan ek probeer om ten minste een bladsy per dag te skryf, met die hoop dat ek eintlik 10 bladsye per dag sal klaarmaak.

Ek droom al sedert ek nege jaar oud was om stories te skryf. Ek hoop 2026 is die jaar wat ek daardie droom ’n werklikheid gaan maak. Ek het verlede jaar daarmee begin, maar ek het gesukkel om tyd daarvoor te maak. Hopelik kan ek uiteindelik daarmee wegtrek en dat die stories dié stories sal wees wat ek graag wil vertel.

Wat die groei van The Movie Guy betref, is my doel om ’n bietjie minder op kort video’s te fokus en hopelik ’n paar onderhoude te voer met akteurs, filmmakers en ander wat in die filmbedryf werk. Ek is bly om te kan sê dat ek reeds my eerste onderhoud gevoer het en dit was met die akteur Siv Ngesi.

Verlede jaar het ek die kans gehad om met Misha Collins te gesels. Hopelik kan ek vanjaar met nog ’n paar internasionale akteurs of regisseurs gesels. Ek wil aan myself bewys dat ek meer is as net ’n ou wat oor flieks en TV praat. Ek wil hê my mening en resensies moet die bedryf aanvul.

Die laaste ding wat ek vanjaar hoop om te doen, is om te begin aanvaar dat ek nie alles kan beheer nie. Ek het nie beheer oor mense se menings, hul siening van my en my werk nie, en oor hoe hulle reageer op wat ek doen nie. Ek leer op die harde manier dat mense se menings nie moet bepaal hoe jy jouself sien nie.

Ek doen wat ek liefhet, en as hulle nie lief is vir wat ek doen nie, dan moet ek dit ook aanvaar. Wat ek doen, is dalk nie vir hulle nie, en ek hoef nie op elke slegte kommentaar te reageer nie. Net omdat hulle nie hou van die manier waarop ek iets doen of sê nie, of omdat hulle nie met my saamstem nie, beteken nie ek is verkeerd nie.

Iemand het vir my gesê ek moenie kritiek aanvaar van iemand by wie ek nie raad sou vra nie. Ek is steeds besig om te leer en ek groei. Ek is opgewonde oor wat die jaar kan bring. Daar is baie goeie flieks en TV-reekse wat ek nie kan wag om te kyk en oor te gesels nie. 

Ek was vanjaar al ’n paar keer in die bioskoop. Comic Con Kaapstad is oor drie maande en ek sien regtig daarna uit om weer in die middel van een van die grootste popkultuur-geleenthede te wees. Volg my op Instagram om te sien wat volgende vir my voorlê. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-03-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer