Te veel uitgawes, te min inkomste

Aurelia Afrikaner

Agter elke bespreking oor skuld, leningsregulasies en finansiële beleid is daar gewone Namibiërs wat sukkel om kop bo water te hou. 

Tydens ’n parlementêre openbare verhoor het die getuienis van lae-inkomstestaatsamptenare die werklikheid geskets van karige salarisse wat lankal nie meer in pas is met stygende lewens- en vervoerkoste nie. 

Ten spyte van jare se diens en bevorderings, is Lydia Undjombala se salaris steeds nie genoeg om basiese lewenskoste te dek nie. Lydia is ’n senior skoonmaker by die Katutura-staatshospitaal in Windhoek en het sowat N$2 300 per maand verdien toe sy as gewone skoonmaker hier begin werk het. Met toelaes vir behuising- en vervoer het dit net-net by N$3 000 gaan draai. 

As ’n senior skoonmaker verdien sy vandag sowat N$4 000 ’n maand wat geensins genoeg is om vir haar gesin te sorg nie. 

“Dit kan nie ’n huis bekostig nie. Dit kan nie vervoer bekostig nie. Dit kan nie al die behoeftes van my kinders en gesin dek nie,” sê Lydia. 

Dit is nie roekeloosheid of swak finansiële beplanning wat haar dwing om by kontantleners aan te klop nie, beklemtoon sy. Dit is die uiters moeilike ekonomiese omstandighede waarin inwoners soos sy daagliks vasgevang is. 

Die verstrengel in ’n skuldlas waar die terugbetaling van lenings wat hulle noodgedwonge moes maak om met die basiese te probeer oorleef, weinig en dikwels geen geld in hul beursies oorlos nie. 

Volgens Lydia het sommige net ’n paar honderd Namibiese dollar oor ná aftrekkings, wat dit byna onmoontlik maak om noodsaaklike huishoudelike uitgawes te dek. 

“Mense ly. Sommige verlaat hul werk omdat daar niks ná aftrekkings oor is nie. Hulle gaan terug na die strate, omdat hulle nie kan oorleef nie,”sê sy.

Lydia moet ná haar skuld van haar karige salaris afgetrek is, help om haar kinders te onderhou en hul skoolgeld betaal, haar bejaarde ouers help en ook haar vervoerkoste dek. 

Die werklikheid van vervoer- en lewenskoste wat immer aanhou styg, maak dat haar beskeie salaris bloot verdwyn, sê sy. 

Sy het ’n beroep op die regering gedoen om die salarisstrukture vir laergraadse staatsamptenare soos sy te hersien en om omvattende finansiële geletterdheidsprogramme in te stel wat daarop gemik is om werkers soos sy te help om hul finansies te bestuur en spaargeld op te bou. 

“Wat as die regering met programme vorendag kom om lae-inkomstestaatsamptenare te onderrig oor hoe om geld te gebruik, te spaar en hoe om skuld te bestuur?” het sy gevra.

Ten spyte van die uitdagings probeer Lydia haar inkomste aanvul met ’n groentetuin wat sy in haar erf begin het. 

“Ek kweek spinasie in my agterplaas. Wanneer ek van die werk af kom, gaan werk ek in die tuin sodat ek iets vir my gesin kan gee,” sê Lydia. 

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-06-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer