Staking by Namib Mills nader dag 50
Die staking by Namib Mills duur tot dag 48 vandag.
Deelnemende lede van die Namibiese Revolusionêre Vervoer- en Vervaardigingsunie (Naretu) sal môre vir 50 dae toegang tot Namibië se grootste graanverwerker en stapelvoedselvervaardiger geweier word, nadat die maatskappy sy hekke in Januarie vir hulle gesluit het, ’n dag voordat die staking begin het.
Die gewilde Bakpro-brood word reeds nie meer by winkels afgelewer nie, terwyl ander stapelvoedselprodukte soos Top Score-mieliemeel en Pasta Polana-pasta in sekere groottes moeiliker is om in die hande te kry, volgens Namib Mills se hoof van menslike hulpbronne, Amorey Pote.
Intussen was Naretu se leier, Petersen Kambinda, Maandag agter tralies na hy by verwante aanranding betrokke was.
“Die man het agt mense daar probeer insmokkel en toe ek hom gekonfronteer het, het hy my uitgelok. Ek het hom klein-klein aangeraak, toe hardloop hy polisie toe en maak ’n saak,” sê Kambinda.
Die vakbondleier was egter teen Dinsdag weer op vrye voet na hy ’n boete betaal het en aangesien sy slagoffer glo ook nie ’n doktersondersoek vir sy beserings laat doen het nie.
Pote erken dat die onderneming onder die staking ly.
“Ons begin die impak voel en kliënte in Suid-Afrika mag onttrek. As dit gebeur kyk ons na groot afleggings,” sê sy.
Nadat die vakbond en Namib Mills op 30 Januarie met die minister van justisie en arbeid, Wise Immanuel, vergader het, was ’n verbeterde aanbod deur die onderneming gemaak, sê sy.
Aanvanklik het Namib Mills geen terugbetaling en geen bonus aangebied nie. Ten spyte van die aanbod om vyf maande se terugbetaling en die helfte van die bonus van verlede jaar vir die stakers te betaal, is die vakbond steeds nie tervrede nie, sê sy.
“Hulle soek nog meer en wil nog iets op die tafel sit. Ons haak nog vas op die bonus,” sê Pote.
“Dit gaan oor wie die langste asem het,” het sy bygevoeg.
Kambinda betwis egter dat die bonus wel deel van onderhandelinge moet wees, aangesien dit vir werk wat werknemers reeds verlede jaar gedoen het, moes wees. Werkers wat nie deelneem aan die staking nie, het reeds die helfte van hul bonus in Desember en die res in Januarie ontvang, voeg hy by.
In verband met die terugbetaling, is die vakbond bereid om ses maande te aanvaar, maar volgens hom is die groot probleem die “arrogansie” van Namib Mills se bestuur.
“Ons sal nie toelaat dat Namib Mills ons boelie nie,” beklemtoon hy.
Verder het Namib Mills volgens hom reeds op 6 Februarie ’n brief gestuur om onderhandelinge vir afdankings teen 9 Februarie te begin. Hulle het egter nooit gebel om die afspraak vas te maak nie, sê hy.
“Hulle bluf. Daai mense hou van geld. Ons is gereed om toegewings te maak, maar hulle sê as ons ooreenkom, sal hulle dissiplinêre aksie teen van ons lede instel. Hoe moet ons so iets aanvaar?” vra hy.
“Ons is nie op ‘Animal Farm’ nie, ons is ’n land van wette,” sê Kambinda.
Gevra oor Namib Mills se aantygings dat van die stakende werkers hardhandig teenoor nie-stakende werkers opgetree het, die dissiplinêre stappe daarvoor nodig is, het hy geantwoord: “Hoeveel sake daarvan is by die polisie aanhangig gemaak? Die antwoord is niks.”
Kambinda sê “Namib Mills het van ons sterkste soldate uitgeken en wil hulle dissiplineer om ‘n boodskap te stuur sodat anders nie weer aan die staking sal deelneem nie. Noudat die uitbuiting tot ’n einde kom, soek hulle wraak.”
Rakende die afleggings, sê die vakbondleier, “as hulle dink die salarisonderhandelinge was moeilik, laat hulle wag vir die onderhandelinge oor afleggings.
“Dit is nie iets wat hulle volgens die wet eensydig kan doen nie. Hulle doen tans minimale produksie met die gebruik van APS-werkers. Hulle sal afdankings met daai huurwerkers moet begin,” benadruk hy.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie