Rooi ligte flikker oor werkersregte
Namibië se rekord oor arbeidsregte het weer onder hernude ondersoek gekom nadat die 2026 Internasionale Vakbondkonfedersie se Globale Regte-indeks die land as ’n “gereelde oortreder” van werkersregte uitgewys het.
Dit het skerp kritiek van die Vakbondkongres van Namibië (Tucna) en noodkrete vir dringende wetshervorming ontlok.
Volgens die Vakbondkongres van Namibië (Tucna) flikker rooi ligte oor Namibië se arbeidsregte-rekord ná die publikasie van die Internasionale Vakbondkonfederasie (ITUC) se Globale Regte-indeks van 2026. Die vakbond waarsku dat Namibië se huidige koers die risiko inhou om grondwetlike vryhede en internasionale arbeidsverpligtinge te ondermyn.
In ’n verklaring het Tucna se sekretaris-generaal, Mahongora Kavihuha, gesê hulle het die bevindings “met ’n mengsel van diepe kommer en nugtere besinning” nagegaan. Hy het bygevoeg dat die indeks dit wat hy beskryf het as ’n “verdoemende uitspraak oor die stand van fundamentele werkersregte wêreldwyd” voorhou.
Die internasionale verslag toon ’n voortgesette agteruitgang in arbeidsbeskerming, veral rondom vakbondregistrasie, kollektiewe bedinging en die reg om te staak.
Volgens die indeks is die wettige registrasie van vakbonde in 75% van die lande wat ondersoek is, aktief belemmer – die hoogste vlak wat sedert die verslag se ontstaan aangeteken is.
Kavihuha het gewaarsku dat sulke beperkings neerkom op ’n direkte aanslag op werkers se vermoë om te organiseer.
“Wanneer werkers nie hul vakbonde kan registreer nie, kan hulle nie beding nie, kan hulle nie wettig staak nie en kan hulle nie hul bestaansmiddele verdedig nie,” het die verklaring gelui. Volgens die verslag het die omstandighede vir georganiseerde arbeid wêreldwyd al hoe meer beperkend word.
Oraloor Afrika beklemtoon die indeks wydverspreide skendings, insluitend die inhegtenisneming van werkers, gewelddadige reaksies op stakings en inperkings op vryheid van assosiasie.
Dit indeks dui verder aan dat Namibië binne die meerderheid Afrikalande val waar die reg om te staak, kollektiewe bedinging en die vakbondvorming roetinegewys ondermyn word.
Namibië is weer as ’n graad 3-land geklassifiseer, wat beteken dit word as ’n “gereelde oortreder” van werkersregte beskou. Alhoewel dit nie in die mees ernstige kategorieë geplaas is nie, het Kavihuha gesê die gradering “is ’n vlek op ons nasionale beeld en ’n direkte teenstrydigheid met die arbeidsvrede en sosiale dialoog wat ons so dikwels vier.”
Die vakbond het verder kritiek uitgespreek op wat dit as ’n groeiende gaping tussen grondwetlike waarborge en administratiewe praktyk beskryf het.
Dit het verwys na Artikel 21(1)(e) van die Namibiese Grondwet, wat die reg waarborg om “verenigings te vorm en daarby aan te sluit, insluitend vakbonde,” en aangevoer dat hierdie reg in die praktyk verswak word.
’n Kernpunt van twis is die weiering deur die arbeidskommissie om die Unie van Staatsdienswerkers in Namibië (PSUN) te registreer as ’n verteenwoordiger van alle werkers in ooreenstemming met sy grondwet.
Kavihuha het gesê dit is nie ’n tegniese kwessie nie, maar ’n wesenlike beperking op staadsdienswerkers se vryheid van assosiasie en hul reg om verteenwoordiging te kies.
Die verklaring het ook gewaarsku dat Namibië se prosedurele raamwerk oor nywerheidsoptrede toenemend beperkend is. Die ITUC-indeks identifiseer die land onder verskeie waar lang prosedurele vereistes en afkoelperiodes stakings beduidend vertraag of verswak.
Kavihuha het aangevoer dat sulke maatreëls, hoewel dit as regulatoriese waarborge voorgehou word, in die praktyk toelaat dat geskille uitgerek word totdat nywerheidsoptrede sy impak verloor. Dit, het hy gesê, ondermyn sowel internasionale arbeidstandaarde as die gees van grondwetlike beskerming vir kollektiewe optrede.
Wat internasionale nakoming betref, het die vakbond ook kommer uitgespreek oor die hantering van vakbond-deregistrasie en registrasiebevoegdhede, met verwysing na Artikel 4 van Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) se konvensie 87, wat bepaal dat “werkers- en werkgewersorganisasies nie deur administratiewe gesag ontbind of opgeskort mag word nie.”
Kavihuha het gewaarsku dat enige administratiewe optrede wat vakbondregistrasie effektief blokkeer of omkeer, die risiko inhou om neer te kom op indirekte ontbinding van vakbonde, wat volgens hom onverenigbaar is met internasionale verpligtinge.
Benewens hierdie kernkwessies het die vakbond op groter kwessies gewys, insluitend vertragings in die goedkeuring van vakbondgrondwette, beweerde anti-vakbonddiskriminasie in werkplekke en swak afdwinging van kollektiewe bedingingsooreenkomste.
Met ’n beroep op dringende ingryping het Kavihuha die regering aangespoor om die PSUN-besluit om te keer, enige administratiewe deregistrasie van vakbonde te staak en stakingsverwante prosedures te hersien om te verseker dat dit “redelik, betyds en nie tot onbepaalde verlenging in staat” is nie.
Hy het verder gevra vir ’n openbare hersiening van die arbeidskommissie se praktyke en ’n hoëvlakmissie van die IAO aanbeveel om Namibië se nakoming van kernkonvensies te beoordeel.
“Namibië kan nie daarop aanspraak maak dat dit ’n baken van sosiale dialoog is terwyl sy arbeidskommissie vakbondregistrasies weier, bestaande vakbonde deregistreer en prosedurele doolhowe op die reg om te staak afdwing nie,” het Kavihuha afgesluit.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie