• Tuisblad
  • Arbeid
  • Regering ‘kyk anderpad’ oor onwettige immigrante

Regering ‘kyk anderpad’ oor onwettige immigrante

Van beeswagters tot huishulpe
Die indiensneming van buitelandse burgers is ’n ernstige uitdaging wat vir jare oor die hoof gesien is.
Kenya Kambowe

In die stil beeskampe van die noordelike streke, op afgeleë plase waar kole gebrand word en in die bedrywige sjebeens van Namibië se informele nedersettings floreer ’n skadu-ekonomie. 

Hoewel Namibië duidelike wette het oor hoe om buitelandse burgers aan te stel, kies talle inwoners om dit te ignoreer en eerder vir goedkoop, ongedokumenteerde arbeid te gaan – ’n besluit wat gemeenskappe nou kwesbaar laat vir onnaspeurbare misdade.

Die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit is onlangs genoodsaak om die publiek daaraan te herinner dat die indiensneming van onwettige migrante ’n ernstige oortreding is. 

Tog vertel die werklikheid op grondvlak oraloor die land ’n ander storie. 

Onwettige immigrante is oral – hulle werk as onder meer beeswagters, huiswerkers, kroegmanne en kolebranders. 

Ingevolge Artikel 27 van die Immigrasiebeheerwet van 1993 staar enige Namibiër wat betrap word dat hy ’n onwettige migrant in diens het, strawwe in die gesig, insluitend boetes en moontlike inhegtenisneming. 

Die wet is veronderstel om streng te wees: ’n Werkgewer moet bewys dat ’n vakante pos in drie verskillende koerante geadverteer is en dat geen gekwalifiseerde Namibiër gevind kon word nie, voordat ’n buitelander aangestel word. 

Enige persoon wat werk soek, moet ’n geldige werkspermit besit om wettig in diens geneem te kan word. 

In baie landelike gemeenskappe word hierdie wette egter geïgnoreer.

Boere en sake-eienaars slaan dikwels die papierwerk oor om geld te spaar. 

“Die wet plaas ’n duidelike verpligting op alle werkgewers om die wettige status van individue te verifieer voordat werk aangebied word,” volgens die ministerie. 

Maar wanneer ’n beeswagter by ’n afgeleë pos aangestel word, is daar dikwels geen kontrak nie, geen kontrole oor sy identiteitsdokument (ID) nie en geen rekord nie. 


SPOOKWERKERS

Die grootste probleem met hierdie “onder-die-tafel”-indiensneming is dat dit “spookwerkers” skep. 

Baie beeswagters is slegs bekend aan ’n voornaam – wat dikwels nie eens hul regte naam is nie.

Wanneer ’n misdaad gepleeg word, word hierdie gebrek aan dokumentasie ’n nagmerrie vir die Namibiese polisie (Nampol). 

Gemeenskapslede meld dikwels voorvalle aan waar beeswagters veediefstal of gewelddadige aanrandings pleeg en dan eenvoudig oor die grens verdwyn. 

Omdat die werkgewer nooit ’n afskrif van ’n ID of ’n permit gemaak het nie, is daar geen manier om die oortreder op te spoor of hul familie in hul geboorteland te kontak nie. Hierdie gebrek strek tragies tot by die onskuldigstes. 

Daar is toenemende kommer oor skoolgaande kinders wat deur ongedokumenteerde buitelandse burgers verkrag word. Wanneer hierdie sake voorkom, loop die regsproses hom teen ’n muur vas. 

Sonder die oortreder se ware identiteit of dokumentasie word dit byna onmoontlik vir die polisie om ’n saak te bou – of selfs om die slagoffer se eie dokumente te verwerk indien die verkragting van ’n meisie tot swangerskap en ’n geboorte lei.

Dit is nie net die Namibiese werkgewers wat in gevaar is nie; die buitelandse werkers is ook dikwels in ’n kringloop van misbruik vasgevang. 

’n Onlangse saak van ’n Angolese minderjarige slagoffer in die Oshikotostreek, het die kwessie van uitbuiting in die kollig geplaas. Die minderjarige is na bewering uitgebuit terwyl hy in ’n mahangu-landery gewerk het. 

Hoewel die ministerie van binnelandse sake sê dat “behoorlike oorweging aan die unieke omstandighede van elke saak” gegee word waar slagoffers betrokke is, bly die algemene reël dat enigiemand wat onwettig in Namibië is, strafregtelike optrede in die gesig staar, insluitend deportasie. 

Dit laat talle Angolese burgers tussen die duiwel en die diep blou see. Selfs wanneer hulle slagoffers van mensehandel of arbeidsuitbuiting is, is hulle doodbang om na die polisie te gaan. 

Hulle vrees dat die oomblik wanneer hulle ’n misdaad aanmeld, hulle vir papiere gevra sal word wat hulle nie het nie en in ’n aanhoudingsel gegooi sal word.

Die gevolge van hierdie wetteloosheid is onlangs in die landdroshof van Ondangwa gesien. 

Selma Daniel (62) het verlede week voor landdros Lydia Kambonde verskyn en staar ernstige aanklagte van mensehandel, kinderuitbuiting en -verwaarlosing van ’n 15-jarige Angolese meisie in die Oshiyagaya-nedersetting in die gesig.

Die slagoffer moes behandeling in ’n staatshospitaal ontvang en is na bewering gereeld uitgehonger, gedwing om sonder rus te werk en op die vloer in ’n hok sonder ’n deur te slaap.

Die hof het ook aangehoor dat die meisie na bewering verskeie kere met ’n stok geslaan is en ’n maandelikse salaris van N$500 as huishulp belowe is, wat sy na bewering nooit ontvang het nie.

Staatsaanklaer Wisdom Ndakondja het die toestaan van borgtog heftig teengestaan weens die erns van die misdade teen kinders en die beskuldigde se vrylating nie in die belang van geregtigheid is nie. 

Daniel is by die Okatope-polisiekantoor in aanhouding terwyl ondersoeke voortduur en sy vir regshulp kan aansoek doen. Haar volgende verskyning in die hof is op 19 Augustus, maar sy kan intussen amptelike om borgtog aansoek doen. 

Die ministerie waarsku nou om “hulp te verleen of bystand te gee” aan onwettige immigrante ’n misdaad ingevolge Artikels 56 (a) en (d) van die immigrasiebeheerwet is.

Terwyl talle Namibiërs meen hulle help bloot iemand om werk te kry, voed hulle in werklikheid ’n stelsel wat veiligheid en sekuriteit omseil. 

Die boodskap van die owerhede is duidelik: As jy iemand sonder ’n geldige werkspermit aanstel, oortree jy nie net die wet nie, jy stel jou gemeenskap bloot aan risiko’s wat die polisie moontlik nie kan oplos nie. 

Die gerief van goedkoop arbeid is ’n hoë prys om te betaal wanneer die persoon wat in jou erf woon ’n “spook” is wat kan verdwyn die oomblik wanneer dinge skeefloop.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer