Plaaswerkers se minimum loon styg in Januarie. Foto ter illustrasie argief
Plaaswerkers se minimum loon styg in Januarie. Foto ter illustrasie argief

Plaaswerkers steeds geregtig op byvoordele

LWV wil verder met arbeidsministerie onderhandel
Werkers in die landboubedryf sal vandeesmaand 'n kontantloon van ten minste N$14 per uur verdien teenoor verlede jaar se N$10 per uur.
Francoise Steynberg
Die Landbouwerkgewersvereniging (LWV) is ontevrede met die antwoorde van die ministerie van justisie en arbeidsverhouding oor die in-natura byvoordele wat bo en behalwe die nasionale minimum loon vir plaaswerkers ook nog deur landbouwerkgewers betaal moet word nie.

“Die LWV onderneem om verder met die ministerie te skakel en aan te dring op behoorlike konsultasie en beraadslaging om verdere werkverliese te voorkom,” lui ’n verklaring in die nuusbrief van die Namibië Landbou-unie (NLU).

Die nasionale minimum loon vir Namibië is op 7 Augustus 2024 in die Staatskoerant afgekondig wat op alle sektore in die land van toepassing is.

Hiervolgens moes alle werkers in die land vanaf 1 Januarie 2025 ten minste N$18 per uur ontvang. Die regulasies het egter ’n toegewing vir landbouwerkers gemaak om oor drie jaar soos volg te kan infaseer:

- N$10 per uur vanaf 1 Januarie 2025;

- N$14 per uur vanaf 1 Januarie 2026;

- N$18 per uur vanaf 1 Januarie 2027.

“Dit beteken dat plaaswerkers vanaf vandeesmaand ’n kontantloon van ten minste N$14 per uur sal moet kry teenoor die vorige jaar se N$10 per uur,” verduidelik die LWV.

Die regulasies het verder bepaal dat dit nie die plaaswerkers se minimum loon vervang het nie, maar net die minimum kontantloon voorgeskryf soos hierbo. “Plaaswerkers sal dus steeds geregtig wees op al die ander bestaande byvoordele van plaaswerkers se minimum loonooreenkoms van 2023, waaronder behuising, water-, krag- en kosvoorsiening.”

Die LWV sê hy kon nog nie daarin slaag om die arbeidsministerie te oortuig dat die in-natura voordele van plaaswerkers eerder deel van die nasionale uurloon van N$14 per uur moet wees nie.

“Derhalwe moet boere volgens die wet steeds bykomend tot die N$14 per uur, behuising met water en sanitasie voorsien, asook een van die drie rantsoenopsies:

- Aanhouding van eie vee of grond vir akkerbou; of

- Gratis kosvoorsiening vir die werker en sy gesin; of

- ’n Rantsoentoelaag van N$650 per maand.

Ter opsomming sê die LWV die vergoeding en byvoordele van plaaswerkers bly onveranderd en net die minimum kontantloon verhoog vanaf N$10 per uur na N$14 per uur vanaf vandeesmaand. – NLU

Kommentaar

Republikein 2026-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer