Verpligte inenting skop af in ||Kharas

Phillipus Josef

Verpligte inenting teen bek-en-klouseer (BKS) in die geraakte gebiede van die Karasburg-distrik het vandag begin met owerhede wat hul pogings verskerp om verspreiding in die ||Kharasstreek in bedwang te hou ná ’n watertekort wat Dinsdag voertuigontsmettings by ’n padblokkade naby Keetmanshoop ontwrig het.

Die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming het gister aangekondig dat die inentingsveldtog uit drie rondes oor drie maande sal bestaan, met veeboere wat verplig is om alle beeste, skape, bokke en varke in die geraakte gebiede te laat inent.

Boere moet ook geskikte hanteringsgeriewe en arbeid voorsien om veeartsenybeamptes by te staan. Slegs entstowwe verskaf deur die direktoraat van veeartsenydienste (DVS) wat deur gemagtigde veeartsenybeamptes toegedien word, word toegelaat. Die kennisgewing van DVS dek bepaalde plase langs die B3- en C10-paaie in die rigting van die Oranjerivier. Inentingsreëlings vir plase noord van die aangewese paaie bly onderhewig aan verdere risiko-assesserings.

Die veldtog vorm deel van breër pogings om te voorkom dat die siekte buite die geraakte gebiede versprei.


PADBLOKKADE SONDER WATER

Dinsdag het ’n amptenaar by ’n BKS-padblokkade op die pad tussen Keetmanshoop en Grünau gesê ’n watertekort het verhoed dat voertuie sedert die oggend ontsmet kon word.

Reisigers kon steeds ’n ontsmettingsmat gebruik om hul skoene te ontsmet, maar voertuie moes na ’n ander ontsmettingspunt verwys word. Die betrokke voertuig is met aankoms by Grünau ontsmet. Voertuie wat Grünau vanaf Karasburg, Keetmanshoop en gebiede verder noordwaarts binnekom, word ook ontsmet as deel van die inperkingsmaatreëls.

Tydens ’n besoek van Republikein aan die Velloorsdrift-grenspos gister was daar op daardie tydstip geen voertuigbeweging tussen Namibië en die Suid-Afrikaanse grenspos, Onseepkans, was nie. Amptenare wat by Velloorsdrift gestasioneer is, het gesê verkeersvloei wissel met verskeie voertuie wat die vorige dag aangeteken is. 

Hulle het bygevoeg sedert die uitbreking het hulle nog geen voertuie teëgekom waaruit vleis of ander potensieel riskante produkte gekonfiskeer is nie.

Anders as die beamptes by die padblokkade naby Keetmanshoop, het grensbeamptes by Velloorsdrift bevestig dat watervoorrade voldoende was om reisigers se voertuie wat tussen die twee lande reis, te ontsmet.

Die BKS-uitbreking is deur die landbouministerie op 23 September op die kommersiële plaas Graswater in die Karasburg-distrik bevestig. Teen gister het 131 dieremonsters op 18 plase in ||Kharas positief getoets.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer