Savanna Beef veg om oorlewing
Savanna Beef Processors veg om oorlewing nadat die uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) die uitvoer-abattoir se bedrywighede tot stilstand geruk het.
Ongeveer 240 werknemers is met verlof gestuur en bestuur onderhandel met finansierders en banke om die abattoir in beesprodusente se besit aan die gang te hou.
In ’n brief aan die 730 aandeelhouers en meer as 500 lede van die Forum vir die Beesvleiswaardeketting (BVCF), gedateer 25 Oktober, het die voorsitter, Mecki Schneider, gesê ’n besluit word in die volgende week verwag oor die voorwaardes waarvolgens werknemers vir November en Desember vergoed sal word.
“Dit moet aanvaar word dat Savanna as onderneming in ’n oorlewingsfase is,” het Schneider gesê.
Hy het bygevoeg die maatskappy het niemand om vir hulle ’n reddingsboei uit te gooi nie en sy gordel volgens sy finansiële omstandighede sal moet stywer trek.
Die sluiting volg nadat Savanna sy maksimum daaglikse produksiekapasiteit van 250 beeste bereik het, net twee weke voordat die BKS-uitbreking op 23 September in die Karasburg-distrik in die ||Kharasstreek bevestig is.
Die maatskappy het in April uitvoersertifisering vir die Europese Unie (EU) bekom en volgens Schneider ongeveer 100 vraghouers beesvleis na nismarkte in die EU, Verenigde Koninkryk (VK) en Noorweë uitgevoer.
Hy het gesê Savanna het ook in die jaar tot en met die uitbreking meer beeste as enige ander Namibiese abattoir geslag en produsente die hoogste pryse betaal.
Die uitbreking het hierdie winste ontwrig en die maatskappy laat soek na alternatiewe markte terwyl daaraan gewerk word om internasionale marktoegang te herstel.
Schneider het gesê personeel wat op die slag-, verkoelings-, ontbeen- en verpakkingsvloere werk, is met verlof gestuur, terwyl ’n kernspan agtergebly het om die fasiliteit te onderhou en sy oorblywende verkoelingsgeriewe te bedryf.
Bestuur gebruik die sluiting ook om uitstaande instandhouding en opgraderingswerk te doen, insluitend kwessies wat deur die direktoraat van veeartsenydienste (DVS) geïdentifiseer is.
Daar word verwag dat die werk teen middel November voltooi sal wees, wat moontlik beperkte slagting teen die einde van daardie maand kan laat hervat en, indien moontlik, deur Desember kan laat voortgaan.
Dit bly egter afhanklik daarvan dat die werk voltooi word, asook van die geldende veeartsenyvereistes.
UITVOERMARKTE
Savanna ondersteun pogings om internasionale kundiges in te bring om te help om die bedryf se reaksie te koördineer en voor te berei vir ’n aansoek om Namibië se veeartsenystatus by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) te herstel.
Die BVCF-bestuurskomitee het N$500 000 vir hierdie inisiatief goedgekeur, wat volgens Schneider alle uitvoer-abattoirs sal bevoordeel.
Die minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Inge Zaamwani, het volgens die brief haar span opdrag gegee om met die EU in gesprek te tree om ondersteuning vir die inisiatief te versoek.
Savanna ondersoek ook alternatiewe uitvoermarkte deur sy internasionale bemarkingsagent, GPS. Schneider het egter gewaarsku dat die verkryging van nuwe markte onderhandelinge en nakoming van individuele lande se veeartsenyvereistes sal verg.
Hy verwag dat laer beesvleispryse oor die hele bedryf sal heers totdat tradisionele markte herstel is.
Suid-Afrika se voortgesette beperkings op Namibiese speenkalwers en beesvleis is nog ’n kommer, terwyl die maatskappy verhoogde toevoer op die binnelandse mark verwag, waar Namibië sowat 30% van sy jaarlikse beesvleisproduksie verbruik.
DRUK OP PRODUSENTE
Die sluiting raak ook boere wat gereël het om duisende beeste vir slagting gedurende die derde kwartaal te lewer, met besprekings wat reeds tot in Februarie 2027 strek.
Schneider het produsente aangemoedig om plaasvoerkrale met die ondersteuning van hul plaaslike veeartsenykantore te registreer en gesê dit is die tans voorgestelde roete om slaggereed beeste by Savanna af te lewer.
Hy het gesê produsente behoort te reël dat veeartsenybeamptes bloedmonsters neem en beeste vir BKS voor versending toets.
Die voorsitter het produsente gewaarsku dat hulle tydelik laer pryse sal moet aanvaar terwyl die bedryf daaraan werk om marktoegang te herstel.
“Ons sal vandag se risiko’s moet bestuur, maar terselfdertyd in môre se geleenthede belê,” het hy gesê.
Intussen het die kantoor van die arbeidskommissaris ses kennisgewings van voorgenome afleggings van ses verskillende werkgewers in verband met die BKS-uitbreking ontvang met byna 600 werknemers wat hul werk kan verloor.
“Altesaam 589 werknemers kan moontlik deur die voorgestelde afleggings geraak word,” het Maria Hedimbi, woordvoerder van die ministerie van justisie en arbeidsverhoudinge, gesê.
Sy het egter vinnig bygevoeg dat die syfers nie noodwendig die aantal werknemers verteenwoordig wat reeds hul werk weens BKS verloor het nie.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie