Die ingrypings in die landbousektor sluit in die bedryf van nege groenskemas wat 5 600 hektaar beslaan. Foto argief
Die ingrypings in die landbousektor sluit in die bedryf van nege groenskemas wat 5 600 hektaar beslaan. Foto argief

Duisende poste vakant by landbouministerie

Personeeltekorte vertraag vordering met programme
Uit die 6 110 poste is tans net 3 346 poste gevul, wat 2 146 vakatures ooplaat.
Phillipus Josef

Die ministerie van landbou, water, visserye en grondhervorming het meer geld om te bestee as ooit tevore, maar met duisende poste wat steeds nie gevul is nie, neem die vrae toe of dit sy landwsye programme kan lewer.

Volgens ’n onlangse finale verslag deur die parlementêre staande komitee oor natuurlike hulpbronne word verwag dat die ministerie vir die 2025-’26-boekjaar met 6 110 poste sal funksioneer. Hiervan is tans net 3 346 poste gevul, wat 2 146 vakatures laat. 

VISSERYE

Die verslag lui dat binne die visseryesektor 503 van 616 goedgekeurde poste beset is, met 131 vakatures wat oorbly. Die ministerie se strategiese doelwitte is wyd uiteenlopend.

Dit beoog om die volhoubare bestuur van natuurlike hulpbronne te versterk, dier- en plantgesondheid te verbeter, produktiwiteit en voedselsekerheid te verhoog, klimaatslim landboupraktyke te bevorder, waardekettings te ontwikkel, die blou ekonomie uit te brei en billike toegang tot grond te verseker. 

Die ingrypings sluit in die bedryf van nege groenskemas wat 5 600 hektaar beslaan – waarvan 3 403 hektaar tans onder verbouing is – die vrystelling van meer as 20 nuwe gewasvariëteite, die verspreiding van saad en kunsmis, en die opleiding van meer as 111 000 boere in gewas- en veebestuur.

In die beesvleis-waardeketting het meer as 5 400 veeboere ondersteuning ontvang deur bemarkingsinfrastruktuur en voer-inisiatiewe.

GRONDHERVORMING

Die ministerie vorder ook met inisiatiewe vir grondhervorming. Sedert die program se aanvang het dit 601 plase verkry wat meer as 3,5 miljoen hektaar beslaan en 5 502 begunstigdes hervestig. Die opstel van die wetsontwerp op grond is voltooi en die Ministerie bly pleit vir die implementering daarvan, tesame met ’n hersiening van die hervestigingsbeleid om produktiwiteit en volhoubaarheid vir hervestigde boere te verbeter. 

Die ministerie se ontwikkelingsbegroting word beraam om van N$497 miljoen in 2025-’26 tot N$714 miljoen teen 2027-’28 te groei, om landbou, grondhervorming, -administrasie en beleidskoördinering te befonds.

Altesaam 67 kapitaalprojekte is tans aan die gang, insluitend landbounavorsing, veeartsenydienste, besproeiingskemas en grondhervormingsprojekte.

In die water- en visserysektore word 28 kapitaalprojekte beplan, insluitend waterhulpbronbestuur, koördinering van voorsiening en sanitasie en die ontwikkeling van akwakultuur. Onder die prestasies is 249 boorgate geboor, vyf grootmaatpypleidings gerehabiliteer en ’n ontsoutingsaanleg in die Oshikotostreek voltooi.

OPERASIONELE UITDAGINGS

Ten spyte van hierdie pogings staar die ministerie steeds operasionele uitdagings in die gesig. Beperkte menslike hulpbronne word vererger deur vertragings in verkryging, hoë personeelomset en logistieke uitdagings in afgeleë gebiede. Daarbenewens word boere geraak deur wisselvallige reënval, hoë elektrisiteitskoste, plaagbesmettings en uitbrekings van dieresiektes soos bek- en klouseer. 

In die visserysektor bedreig onwettige, ongerapporteerde en ongereguleerde visvang, indringing deur buitelandse vaartuie en beperkte wetenskaplike kundigheid die volhoubaarheid.

Verder het die verslag aangedui dat die ministerie openbare-private vennootskappe vir groenskemas versnel, boer-tot-boer-mentorskap bevorder, agroverwerking uitbrei en kapasiteit onder voorligtingsbeamptes opbou.

Dit versoek ook verhoogde begrotingstoekennings en werk saam met plaaslike, streek- en internasionale vennote, insluitend die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO), Europese Unie (EU), Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP), Afrika-ontwikkelingsbank (AfDB) en die Duitse ontwikkelingsgenootskap GIZ, om implementering te ondersteun.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-03-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer