‘Hoe gaan ons ’n kind wegwys?’
Tot 45 kinders in ’n klas, sê skoolhoof
Die ministerie van onderwys sê sommige skole is oorvol en ander word onderbenut, maar planne word glo beraam om die situasie te takel.
“Ons het ’n probleem met té min en terselfdertyd met té veel personeel.”
Só het Calvin Martin, die hoof van Hoërskool Coastal in Swakopmund, gereageer op die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur se kommentaar oor werklose onderwysgraduandi en oorvol klaskamers in sommige dele van die land.
Martin sê by sy skool word stoorkamers as klaskamers gebruik om tred met die toenemende aanvraag te hou.
Dit kom te midde van protesoptogte deur werklose gegradueerdes in Windhoek en die Oshanastreek. Hulle eis onmiddellike indiensneming en die afskaffing van onderhoude in die werwingsproses.
Martin verduidelik skole in sekere gebiede, soos Swakopmund, is oorvol, maar dat skole in ander gebiede, soos Arandis, lae leerlingtalle het.
“Die aantal onderwysposte wat geskep moet word, word op die streekgemiddeld gebaseer en nie volgens elke skool nie,” sê Martin.
Hy verduidelik ouers kan nie hul kinders na skole soos die een op Arandis stuur nie, want daar is geen akkommodasie vir leerlinge nie.
Hy verduidelik dat skole veral met die oorgang van graad 7 na graad 8 vasbrand.
“Ons sit daar met ’n bottelnek, want daar is meer aanvraag as plek. Ons as skoolhoofde is ook bietjie skuldig, omdat ons meer en meer kinders inneem, maar hoe gaan ons ’n kind wegwys?”
MINISTERIE
Die uitvoerende direkteur van die ministerie, Mbumba Haitengela, het in ’n verklaring gesê daar is ’n ooraanbod van gekwalifiseerde onderwysers, veral vir graad 1 tot 4.
Hy het gesê die ministerie het met verskeie opleidingsentrums in verbinding getree om bewustheid onder hierdie instansies te skep om minder studente in kursusse in te neem wat reeds te veel gegradueerdes het en om hulle aan te raai om vakke te prioritiseer waar daar te min onderwysers is.
Die ministerie het ook volgens Haitengela die Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) gekontak om voorkeur te gee aan studente wat in rigtings wil studeer waar daar te min onderwysers is.
Die ministerie van justisie en nywerheidsbetrekking is ook genader om ’n databasis van werklose onderwysers saam te stel. Tans is daar na raming ongeveer 4 000 geregistreerde onderwysers sonder werk, maar die meerderheid is gekwalifiseer in die oorversadigde rigtings.
In graad 1 tot 4 is daar egter ’n aanvraag na onderwysers wat in Khoekhoegowab, Afrikaans, Namibiese gebaretaal, Setswana en Ju!’hoansi kan onderrig.
Haitengela verduidelik die argument dat skole oorvol is, nie vir alle skole waar is nie.
“Ons nasionale gemiddeld in terme van leerling-onderwyser-verhouding is 1 tot 27 in alle grade, wat onder die bepalings val wat deur die Omsendbrief vir Onderwys 25 van 2001 gestel is.
“Terwyl ’n paar skole in dorpe in sekere streke oorvol is, bly daar steeds ’n beduidende aantal onderbenutte skole in landelike gebiede,” verduidelik Haitengela in ’n mediaverklaring van die ministerie.
Hy sê dat geen streek die bogenoemde leerling-onderwyser-verhouding oorskry nie.
“Ons weet die situasie op die grond is anders, waar jy oorvol klaskamers in stedelike gebiede soos onder meer Windhoek, Swakopmund, Rundu en Katima Mulilo sal vind, maar wanneer jy na landelike gebiede beweeg, sal jy baie minder leerlinge in klaskamers vind,” sê hy.
Ten spyte van die omsendbrief se bepaling dat daar ten minste een onderwyser per 30 leerlinge op hoërskoolvlak moet wees, sê Martin hierdie syfer kan selfs tot 1:35 gestrek word, maar nie verder nie.
“Ek sou sê 1:35 is die ideaal – daar kan jy nog jou dissipline handhaaf. Dis steeds prakties en sou reeds vir ons verligting bring,” sê Martin.
Tans is daar gemiddeld 36 tot 38 leerlinge in ’n graad 8-klas by Hoërskool Coastal.
By die Sekondêre Skool Swakopmund kan die gemiddelde aantal leerlinge in ’n klasgroep wissel van 40 tot 45, volgens die skoolhoof, Sinvula Sibanga.
Volgens Martin is wiskunde- en taalonderwysers diegene wat die meeste onder oorvol klasse ly.
“Vanaf grade 10 en 11, wanneer die leerlinge in vakke begin spesialiseer, is die klasgroepe kleiner, maar vir die vakke wat vereis word, soos wiskunde en Engels, moet daardie onderwysers elke kind in die graad onderrig.
“Ons deel dit op tussen die praktiese leerlinge en die akademiese leerlinge, maar daar is steeds 36 tot 40 leerlinge in ’n groep. Dit raak onredelik vir jou wiskunde en taalonderwysers,” sê Martin.
Die ministerie sal gevolglik onderbenutte skole omskep om ook leer- en ontwikkelingsentrums vir gemeenskappe te wees en om leerlinge met spesiale behoeftes en leerprobleme te akkommodeer.
“Hierdie sluit nie oorwegings uit om sommige van hierdie skole uit te brei om koshuisverblyf vir leerlinge te bied om inname te lok nie,” sê Haitengela.
Oorvol skole is ook geïdentifiseer, volgens Haitengela, en sal deel vorm van ’n driejaarplan om hierdie kwessies te takel.
Volgens Haitengela is die ministerie reeds besig om opnames by dié skole vir hierdie plan te doen. Alhoewel die ministerie nie ten gunste van ’n pelotonstelsel is nie, sê Haitengela dat hierdie metode as ’n onmiddellike oplossing gebruik kan word.
Proaktiewe beplanning moet gedoen word om te verseker dat skole aan toekomstige aanvraag kan voldoen, verduidelik Martin.
“Ons beplan vir ’n groep van ongeveer 1 457 leerlinge in totaal – dit gaan reeds ’n tameletjie wees en sal waarskynlik nog groter word – ons het kapasiteit vir omtrent 1 157 leerlinge.
“Volgens ons beplanning gaan ons in die toekoms nog 10 tot 15 klaskamers nodig hê, maar dit moet nou al bespreek en beplan word,” sê hy.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie