Aldo Horn
Aldo Horn

Vroue praat mos meer as mans, né?

Dis ʼn bekende feit wat ek my hele lewe lank al hoor. As ek dit gaan opsoek, kry ek menige artikels, videoʼs, en ander bronne wat vir my vertel dat vroue meer as mans praat – om presies te wees: Drie keer meer. Of dalk vyf keer meer. Miskien selfs sewe keer meer. Nou is ek ook nie meer seker nie.

Al wat ek wel weet, is dat vroue meer as mans praat, hoewel die artikels nie kan saamstem oor hoeveel keer meer nie. Hoekom anders sal daar soveel volksgesegdes wees oor mans wat stil is en vroue wat raas?

Noudat ek daaroor dink, die ander ding waaroor die artikels nie kon saamstem nie, was waar hulle die statistieke gekry het. So, toe gaan kyk ek self en o aarde, manne, die data lyk nie goed vir ons nie.

Tot vandag toe kan ek nie die oorspronklike bron vind waar hierdie mite begin het nie. As ek iemand was wat gedobbel het, sou ek my hele woordtoelaag per dag op een of ander selfhelpboek van die vroeë 1900’s wed. (En as ek die weddenskap met ʼn vrou sou aangaan, is die uitbetaling immers 1:3).

Ongeag die oorsprong, is die nuwer studies deur taalkundiges dit eens: Daar is basies geen verskil in die aantal woorde wat deur mans en vroue per dag gepraat word nie. Inteendeel, wanneer daar wel ʼn klein verskil opgetel word, is dit omdat mans meer as vroue praat.

Dink ook bietjie aan jou eie lewe. As ons net na familiebyeenkomste kyk, weet ek nie wie die meeste praat nie. My ouma praat definitief meer as my oupa, maar my oom praat weer meer as my tannie en haar skoonseun praat meer as sy vrou.

Ek dink my ouers praat omtrent ewe veel, maar ek praat beslis meer as beide my susters. Eintlik, dalk is dit omdat ek myself altyd hoor, maar sjoe, die man wil ook nie ophou praat nie.

My punt is, dis onmoontlik om met enige wetenskaplike akkuraatheid te weet wie meer in jou daaglikse lewe praat. Sulke persoonlike indrukke is nie goeie bewyse vir enigiets nie.

Wat het dan tot die ontstaan van hierdie algemene indruk gelei? Dit is hier waar ek gaan begin gorrel, want eintlik het ek geen idee nie – my doel is net om manalleen die ongelykheid in die opgemaakte woord-per-dag-statistieke reg te stel.

ʼn Voorstelling wat ek kan glo, is dat mans heeldag gewerk het saam met ander met wie hulle kon gesels. Deur die dag praat die man gedurig terwyl sy vrou by die huis bly.

Miskien kuier sy by ʼn buurvrou, maar vir die grootste deel van die dag is sy alleen saam met haar baba – en probeer jy nou ʼn gesprek met ʼn ses maande oue baba voer.

Wanneer hierdie moeë man by die huis kom ná ʼn dag van werk en sosialisering, wil sy vrou saam met hom kuier. Sy sosiale battery is uitgeput terwyl hare nog propvol is. Dis hier waar ek dink hierdie indruk ontstaan het. Ek het egter nie bewyse nie, so as daar enige huisvroue of werkende mans uit die laat 1900ʼs meer weet, gebruik die e-posadres hierbo om te bevestig.

Ons weet dalk nie heeltemal hoe hierdie mite ontstaan het nie, maar wat ons wel weet, is hoe dit vandag gebruik word. Dis nooit om mans aan te moedig om meer te praat nie.

ʼn Herinnering wat my nog steeds bybly, is toe ek klein was, hoor ek hoe ʼn man en vrou baklei. Op die een stadium sê die man: “Jy klets asof jy ʼn vrou is.” Hulle was besig om te stry oor hoe hulle ʼn nuwe boot gaan afbetaal wat hy sonder waarskuwing op skuld gekoop het.

Hierdie verkeerde statistiek word rondgeslinger om belangrike gesprekke te vermy. Dit is nie dat die een geslag meer as die ander praat nie, dit is dalk net dat hulle oor verskillende dinge wil praat.

– Gasskrywer

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-12-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer