Sekuriteitswagte se lot moet verbeter

Vakbonde, werkgewers span saam
Die regering se tenderproses en mislukking om wetgewing af te dwing, word skuld gegee.
Augetto Graig
Vakbonde en werkgewers het verlede Donderdag kragte saamgesnoer om vir sekuriteitswagte beter werksomstandighede en vergoeding te probeer verseker.

Die ooreenkoms waardeur die werkgewersorganisasie, die Sekuriteitsvereniging van Namibië (SAN), saam met vakbonde soos die Namibiese Unie vir Sekuriteitswagte (NASWU), Namibia Independent Security Union (Nisu), die Namibiese Unie vir Vervoer- en Verwante Werkers (Natau) en die Staatsdiensunie van Namibië (PSUN) saamwerk om die Namibia Security Labour Forum (NSLF) te vorm, is opgedateer en ‘n nuwe gesamentlike ooreenkoms vir die sekuriteitsbedryf is bekendgestel.

Mikka Joseph, sekretaris-generaal vir NASWU, wat dertien jaar lank self ‘n sekuriteitswag was, sê wagte se werksomstandighede bly onmenslik.

Al het die regering aan die begin van hierdie jaar die minimum loon vir sekuriteitswagte amptelike tot N$13,50 per uur verhoog, weier baie sekuriteitsondernemings glo steeds om die loonbevel te handhaaf.

Die gesamentlike ooreenkoms bekragtig hierdie minimum loonaanpassing en verbind die bedryf om minimum loon volgende jaar na N$16 per uur te verhoog en weer om dit in 2027 na N$18 per uur aan te pas.

“Hierdie syfers is nie meer ‘n opsie nie, maar is nou wet,” het Andreas Hausiku, hoof van sekuriteit by die PSUN en NSLF-verteenwoordiger by die geleentheid beklemtoon. “Vandag praat ons met een stem, werkgewers en werknemersverteenwoordigers ewe veel. Wanneer geregtigheid vertraag word, word waardigheid ontsê,” het hy gesê.

Die vennootskap is broodnodig, volgens die NSLF, omdat die regering sedert die aanvaarding van die Wet op Sekuriteitsondernemings en Sekuriteitsbeamptes (SESORB) 19 van 1998, nog nooit deur publikasie van verwante regulasies in die Staatskoerant werklik bekragtig is nie.

“Tot vandag toe, 32 jaar later, bly die regulasies wat nodig is om hierdie wet at te dwing, steeds afwesig,” het Hausiku gesê.



ONWETTIGE AFTREKKINGS

Volgens hom bevoordeel die stand van sake net diegene wat wins maak uit chaos, belasting ontwyk, wagte minder as taxigeld beloon en onwettige aftrekkings vir uniformkoste afdwing.

Die NSLF hou die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit verantwoordelik.

Vrae in hierdie verband, gestuur na die ministerie, was van bakboord na stuurboord gestuur. Die woordvoerder van die ministerie, Margaret Kalo het die navraag na die Namibiese polisiewoordvoerder, adjunkkommissaris Kauna Shikwambi, verwys. “Navrae in verband met die wet op sekuriteit van 1998 moet na adjunkkommissaris Kauna Shikwambi verwys word,” dring Kalo aan.

Shikwambi het egter gesê die betrokke kwessie is arbeidsverwant en moet dus na Maria Hedimbi, woordvoerder vir die arbeidsministerie gestuur word.

Intussen soek die NSLF ook samewerking vanaf die regering se Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN). “Ons doen 'n beroep op die CPBN en alle verkrygingsowerhede: Moenie tenders toeken aan maatskappye wat hierdie loonbevel oortree nie. Die betaling van armoedelone terwyl daar vir regeringswerk gebie word, is oneties, onwettig en skandelik. Afdwinging moet nou begin,” sê Hausiku.

Ten spyte beloftes het die CPBN-woordvoerder teen druktyd geen antwoorde op vrae verskaf nie.

Ook aan die woord by die geleentheid, was die visepresident van SAN, Corinus Kotzé. Hy sê die NSLF het gekyk na die bekostigbaarheid van die minimum loonaanpassing en saam daarin geslaag om die regering te oortuig om die verhoging oor drie jaar te implementeer. Volgens hom moet die ooreengestemde minimum loonaanpassings afdwingbaar wees, maar net so belangrik is die nuwe gesamentlike ooreenkoms wat diensvoorwaardes uiteensit. “Diensvoorwaardes is net so belangrik,” het hy benadruk.

Volg die skakel na die nuuskonferensie by: q.my.na/I9Q7

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer