Regering finansier self alle ARV’s

Dienste by staatshospitale, -klinieke gaan voort
Die onttrekking van USAID raak in 'n geringe mate die geteikende MIV-toetsing vir sleutelbevolkings, sowel as geteikende voorkomingsprogramme vir tieners.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Nog geen formele beoordeling is al gedoen van die potensiële maatskaplike en ekonomiese impak van die onttrekking van Amerikaanse finansiering op kwesbare groepe soos vroue, kinders en mense wat met MIV/vigs saamleef nie.



Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Esperance Luvindao, het in die Nasionale Vergadering (NV) gereageer op ’n vraag deur die PDM-parlementslid McHenry Venaani oor die impak van die onttrekking van die Amerikaanse agentskap vir internasionale ontwikkeling (USAID) op die regering se MIV/vigs- asook tuberkulose (TB)-programme.



Luvindao het beklemtoon dat die Namibiese regering die aankoop van antiretrovirale medikasie (ARV’s) ten volle finansier en die ministerie gaan voort met sy verantwoordelikheid om medikasie aan alle MIV- en TB-pasiënte deur regeringsfinansiering te verskaf. Die regering finansier die aankoop van farmaseutiese produkte, wat ARV’s en TB-medikasie insluit, deur die gesondheidsministerie se begroting.



Dienste wat volgens die minister tans in ’n mate geraak word, is die geteikende MIV-toetsing vir sleutelbevolkings, sowel as geteikende voorkomings­programme vir tieners.



Sy het erken die kontrakte van 23 personeellede wat deel is van die ministerie se program vir die vrywillige mediese besnyding van mans (VMMC) is opgehef, insluitend ondersteuningsdienste vir tegniese hulp vir beide TB en MIV, sowel as gemeenskapsondersteuning van nieregeringsorganisasies (NGO’s) wat direk deur USAID ondersteun is.



Hoewel geteikende dienste deur ondersteunende implementeringsvennote verskaf is, sê Luvindao dat gemeenskappe steeds toegang tot dieselfde dienste by openbare gesondheidsgeriewe in hul omgewing het.



Sy het erken die ministerie gaan egter bykomende finansiering nodig hê om personeel te behou wat deur eksterne ­finansieringsbronne ondersteun is en wat in die ­ministerie onder die betrokke projekte werksaam was.



Die minister het verduidelik agentskappe wat deur Amerika gefinansier word, ondersteun aktiwiteite wat gehalte in die implementering van MIV- en TB-dienste by gesondheidsgeriewe en op gemeenskapsvlak verseker. Personeel wat deur bogenoemde geraak word, sluit gemeenskaps- gesondheidswerkers, verpleegkundiges, kliniese mentors, programbeamptes, sowel as dokters in wat toesig oor die implementering van die verwante ingrypings hou.



Op ’n vraag deur Venaani of nuwe vennootskappe of alternatiewe finansiering gesoek word vir enige leemtes wat gelaat is, het Luvindao die kritieke behoefte erken om plaaslike finansiering van gesondheidsorginisiatiewe te ondersteun.



Om die leemtes suksesvol te takel, werk die ministerie volgens haar nou saam met die ministerie van finansies om beleggings in gesondheidsorg te verhoog.



“Ons ondersoek die hertoekenning van begrotings wat gesondheidsdienste prioritiseer en verseker dat noodsaaklike programme steeds voldoende gefinansier word.”



Deur inisiatiewe vir korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid en vennootskappe met private diensverskaffers aan te moedig, hoop die ministerie ook om volhoubare finansieringsmeganismes te skep wat die gapings kan vul wat deur eksterne faktore veroorsaak is.



Die Amerikaanse regering het op 20 Januarie vanjaar ’n uitvoerende bevel uitgereik dat geen verdere hulp verskaf sal word “op ’n manier wat nie in ooreenstemming met buitelandse beleid is nie”.



[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer