Private onderwysers op staat se rekening onseker oor toekoms
Tot einde Desember om te besluit
Ouers wil weet hoe die skole van voorneme is om die beduidende finansiële druk aan te spreek wat nou waarskynlik volgende jaar uitsluitlik op ouers sal val.
Onderwysers wat deur oordragte of gedwonge vroeë aftrede geraak word, staan die risiko om hul mediesefondsvoordele te verloor. Onderwysers kan ook toegang tot hul behuisingsubsidies verloor, wat hulle in gevaar stel om hul huise te verloor.
Dit is van die kommer van staatsgefinansierde personeel en onderwysers verbonde aan drie private skole in Walvisbaai waarvan die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur hul finansiering wil hersien. Dit sal die toekoms van sowat 100 onderwysers en personeel by Duneside Hoërskool, Walvisbaai Privaatskool en Laerskool Walvisbaai raak.
“Baie onderwysers het tans gevestigde lewens in Walvisbaai, met eggenote wat plaaslik in diens is en kinders wat plaaslike skole bywoon. Walvisbaai het egter nie genoeg staatskole om al die geraakte onderwysers te absorbeer wat deur die staat betaal word nie. Dit beteken sommige gesinne kan gedwing word om na ander dorpe of streke te verhuis,” het ‘n bekommerde onderwyser gesê. Volgens die bron sal onderwysers wat vroeë aftrede oorweeg soos in die omsendbrief genoem, ook beduidende finansiële voordele verloor, wat hul langtermynstabiliteit negatief sal beïnvloed.
Die sowat 100 onderwysers wie se salarisse deur die regering betaal word, moet nou kies of hulle steeds by die private skole gaan aanbly, by staatskole binne of buite Erongo gaan aansoek doen of op vroeë aftrede gaan.
Die minister van onderwys, Sanet Steenkamp, het by navraag deur Network Media Hub (NMH) bevestig die ministerie hersien sy benadering tot finansiering by alle private skole. Dit nadat versuim in verantwoordbaarheid en toenemende gapings tussen private en staatskole onder die vorige model identifiseer is.
“Alle private skole moet volgens die Onderwyswet 3 van 2020 met duidelike voorwaarders herregistreer,” het Steenkamp gesê.
VOORWAARDES
Volgens die voorwaardes van die basiese onderwyswet soos vervat onder artikel 76 kan ‘n private skool kwalifiseer vir staatshulp slegs wanneer dit aan sleutel vereistes soos uiteengesit in die wet voldoen.
Die skool moet 'n behoorlik saamgestelde skoolraad of 'n goedgekeurde skoolontwikkelingsfonds hê, alle wetlike vereistes vir billike en nie-diskriminerende leerdertoelatings nakom, en 'n gedragskode aanneem wat ooreenstem met nasionale regulasies.
Dit moet 'n prefekstelsel of 'n raad hê wat leerlinge verteenwoordig om so deelname van leerders te verseker. Enige verpligte kursusse soos voorgeskryf deur die minister moet ook aangebied word.
Daarbenewens moet die skool aan enige verdere voorwaardes voldoen wat deur regulasies uitgestip word en jaarliks teen die vasgestelde sperdatum om hulp aansoek doen. Private skole wat vir wins bedryf word, kom nie in aanmerking vir staatshulp nie, tensy die minister spesifiek toestemming verleen.
Volgens Steenkamp het die ministerie in 2017 'n moratorium op die finansiering van private skole geplaas. het.
“Dit is weens die reuse-ongelykheid wat die befondsingsformule teen ons staatskole geskep het,” het Steenkamp verduidelik.
“Ons het teruggegaan na die aanvanklike ooreenkoms wat die regering in 1991 met Suid-Afrika en Namibië gehad het, en ons het besluit dit is tyd.”
Die minister kon nie bevestig hoeveel onderwysers uiteindelik geraak sou word nie, aangesien sy nie destyds nie in die amp as minister was nie.
“Ons spanne en tegniese personeel op die grond moet baie duidelik wees oor hoe hulle met hierdie onderwysers saamwerk,” het sy gesê.
“Ons is duidelik in ons skikking dat onderwysers die reg het om aan te dui of hulle deel van die regering se betaalstaat wil wees, of hulle poste by ander staatskole wil beklee, en of hulle by die private skole wil bly. Dit is geheel en al hul demokratiese reg om daardie besluit te neem.”
Gevra of sommige private skole versuim het om hul finansiële dokumente in ooreenstemming met die vereistes in te dien, het Steenkamp bevestig dat baie nie finansiële state, verantwoordingsverslae of ouditverslae verskaf het nie.
“Dit was net die regte ding om te doen. Ons het na al die werklike en onbedoelde gevolge van hierdie besluit gekyk, maar uiteindelik bly dit die regte besluit om te neem,” het die minister beklemtoon.
GEVOLGE
’n Besorgde onderwyser van een van die geraakte skole wat anoniem wou bly, het gevra waarom die besluit nie geleidelik oor ’n tydperk van vyf jaar ingefaseer kan word nie.
Die onderwyser het ook gevra oor die wetlike regte en beskerming van die geraakte onderwysers wat net tot die einde van Desember gegee is om hul besluit aan die streekleierskap oor te dra sodat die besluit teen Maart 2026 geïmplementeer kan word.
“Dit is goed gedokumenteer dat staatskole in ons streek sukkel met tekorte aan handboeke, materiaal en infrastruktuur,” het die bron gesê.
“Die verskuiwing van staatsbetaalde onderwysers blyk nie hierdie sistemiese probleme aan te spreek nie. Hierdie situasie dui op 'n moeilike en ongelukkige oomblik in die geskiedenis van onderwys in Namibië, aangesien dit die lewens van langdienende staatsamptenare aansienlik ontwrig.”
ANTWOORDE
Verskeie bronne wil hê die regering moet 'n “regsgrondslag vir die besluit verskaf, of die riglyn slegs van toepassing is op geselekteerde private skole in Walvisbaai, of 'n gefaseerde implementering oorweeg kan word, en watter beskerming aan geraakte onderwysers en hul gesinne gebied sal word”.
Besorgde ouers van een van die skole het ook teleurstelling uitgespreek oor die beweerde gebrek aan inligting wat met hulle gedeel is.
“Ons eis 'n onmiddellike vergadering met die skool, met 'n gedetailleerde verduideliking van wat gebeur het wat daartoe gelei het dat die regering so 'n drastiese besluit geneem het. Was daar enige riglyne of aanbevelings wat deur die regering aan die skool uitgereik is voordat hierdie besluit geneem is?”
Die ouers het ook duidelikheid geëis oor hoe die skool van voorneme is om die beduidende finansiële druk aan te spreek wat nou waarskynlik volgende jaar uitsluitlik op ouers sal val en hoe die regering se onttrekking hul kinders se toekoms by die skool sal beïnvloed.
NAKOMING
Walvisbaai Privaatskool (WBPS) het vroeër in 'n verklaring op 23 Oktober aan ouers verduidelik die skool het ná 'n inspeksie deur die streekdirektoraat op 8 April suksesvol aan alle vereistes vir herregistrasie onder die Wet op Basiese Onderwys 3 van 2020 voldoen en verwag om hul sertifisering teen die einde van Oktober te ontvang.
Volgens die verklaring is WBPS op 16 Junie versoek om hul aansoek om staatshulp teen 6 Oktober in te dien en wat die skool gedoen het. Dit het voorts gesê die skool ondersoek maniere om geleidelik afhanklikheid van staatsbefondsde onderwysers te verminder, en het ouers verseker dat bedrywighede soos normaal sal voortgaan.
In die geval van Laerskool Walvisbaai het die skool en die ministerie 'n ooreenkoms bereik nadat die saak in die hof gaan draai het. Dit het gevolg op die ministerie se aandrang dat die skool aansoek doen om herregistrasie – 'n vereiste wat die skool aangevoer het sy regte ingevolge die Wet op Basiese Onderwys van 2020 skend. Die skool het die hof versoek om die minister te gelas om sy registrasie sonder versuim goed te keur, met die argument dat 'n brief wat op 3 Oktober uitgereik is, administratief onbillik was.
Die skool het beswaar gemaak teen sekere herregistrasievereistes, insluitend die stigting van 'n formele skoolraad en die verwydering van toelatingsreëls, wat volgens die skool sy voortbestaan bedreig het.
Die ministerie het aangevoer dat die 24-maande-sperdatum vir herregistrasie reeds verstryk het en dat die skool nie aan Artikel 83 van die wet voldoen het nie, aangesien geen ten volle funksionerende raad of voldoende finansiële bestuur ingestel is nie. Die brief van 3 Oktober het volgens Steenkamp bloot bestaande wetgewing toegepas.
Tydens die statusverhoor voor hoërhofregter Orben Sibeya is ooreengekom dat die skool teen 27 Januarie 2026 'n tussentydse raad met twee bykomende lede sal aanstel wat tot 31 Maart 2026 sal dien. Volgens die skikkingsdokument moet die skool sy geouditeerde finansiële state van 2019 tot 2025 binne 90 dae indien. Sodra dit voltooi is, sal die minister die registrasie finaliseer en die sertifikaat teen 31 Maart 2026 uitreik.
Regeringsbefondsing vir onderwysers sal voortduur tot 30 Januarie 2026, waarna moontlike herontplooiing sal volg, aldus die dokument. Elke party sal hul eie koste dra, en die inhoud van die ooreenkoms bly vertroulik. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie