FOTO TER ILLUSTRASIE
FOTO TER ILLUSTRASIE

Paspoorte: Bewys van ouers se status gevra

Bykomende dokumente ’n regsvereiste
Sekere Namibiërs moet aan die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit hul ouers se ­immigrasiestatus ten tyde van hul geboorte bewys.
katharina moser
Namibiërs wie se ouers in die buiteland gebore is, sukkel toenemend om hul Namibiese paspoorte te hernu.

Dié Namibiërs moet aan die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit die immigrasiestatus van hul ouers ten tyde van hul geboorte bewys.

In een van die gevalle moet Susan* met oorspronklike dokumente aan die ministerie bewys dat haar ouers wettig in Namibië ten tyde van haar geboorte gewoon het.

Susan is in Januarie 1990 op Otjiwarongo aan Suid-Afrikaanse ouers gebore, voordat die land onafhanklikheid verkry het. Sy het beide Namibiese en Suid-Afrikaanse burgerskap.

Volgens Susan was haar pa ten tyde van haar geboorte op ’n werkspermit in Namibië en is permanente verblyfreg in die land in 1999 toegestaan. Haar Namibiese geboortesertifikaat, wat verlede jaar uitgereik is, bevestig Namibië as haar geboorteland, met haar ouers wat as Suid-Afrikaners aangedui word.

Susan was sedert sy die wettige ouderdom bereik het in besit van ’n Namibiese paspoort en het vorige hernuwings sonder enige probleme verloop.

Met die jongste hernuwing waarvoor sy verlede jaar aansoek gedoen het, was dit die eerste keer dat sy gevra is om die immigrasiestatus van haar ouers te verskaf.

Die ministerie versoek glo antwoorde in ’n dokument oor wat haar ouers in SWA/Namibië ten tyde van haar geboorte gedoen het; of haar ouers ooit permanente verblyfreg of burgerskap toegestaan is; of haar ouers vaste eiendom in die land besit of besit het; en of haar broers en susters wat in Namibië gebore is, Namibiese burgerskap toegestaan is. Dit moet alles deur die nodige bewyse ondersteun word.

Volgens die dokument vereis “die bewys van gewone verblyf meer as ’n blote sê so. Die voorneme om Namibië jou gewone tuiste te maak, moet bewys word deur feite wat objektief bewys kan word”.

Volgens Susan moet sy nou die oorspronklike dokumente voorlê wat haar pa se verblyfspermit ten tyde van haar geboorte bewys.

Die nodige dokumente is volgens haar nou 35 jaar oud en moeilik om in ’n stoorkamer in Suid-Afrika te bekom. Totdat sy dié dokumente in die hande kan kry, sal sy slegs ’n tydelike paspoort ontvang.

Nog ’n Namibiese burger wie se ouers Duitse burgerskap het, moet dokumente wat dekades terug dateer van haar ouers, wat albei oorlede is, indien vir ’n nuwe paspoort.

’n Derde bron het op haar beurt gesê die ministerie het aanvanklik geweier om ’n nuwe geboortesertifikaat aan haar uit te reik. Dit omdat sy nie haar ma se immigrasiestatus met geboorte kon bewys nie, ten spyte van haar Namibiese burgerskap. Die sertifikaat kon uiteindelik uitgereik word nadat sy ’n ou identiteitsdokument van haar ouma wat in Windhoek gebore is, kon toon en danksy die hulp van ’n werknemer van die ministerie.

Die ministerie het by navraag gesê in spesifieke gevalle is dit ’n wetlike vereiste om bykomende dokumente tydens aansoeke aan te vra.

Hoewel dié dokumente nie noodwendig vir die paspoortaansoek self vereis word nie, is dit volgens die ministerie noodsaaklik om burgerskap te verifieer.

“Die dokumente of inligting word oor die algemeen vereis wanneer die ministerie moet bepaal of ’n persoon ’n gewone inwoner in Namibië is of was op daardie betrokke tydstip,” het die ministerie se uitvoerende direkteur, Etienne Maritz, gesê.

“Die bepaling mag vir verskeie doeleindes nodig wees en sluit aansoeke om burgerskap deur die individu of hul kinders in,” het hy gesê.

Dit is ingevolge artikel 4 (1) (b) en (d) van die Namibiese Grondwet. Blykbaar geld bogenoemde net wanneer die ouers se besonderhede nie in die ministerie se stelsel beskikbaar is nie.

“As die ouers dood is of nie meer langer in Namibië woon nie, maar die kinders het afskrifte van hul ouers se dokumente, moet familielede polisieverklarings aflê.

“Wanneer dit gedoen is, kan die ministerie die stelsel opdateer en die aansoeker kan gehelp word. Elke geval word egter op sy eie meriete hanteer,” het Maritz gesê.

Hoewel die Namibiese burgerskapwet ’n algemene bepaling het wat dubbele burgerskap verbied, sê die Regshulpsentrum (LAC) artikel 4 van die land se Grondwet bepaal dat “geen persoon wat ’n Namibiese burger by geboorte of afkoms is, deur sodanige wetgewing van Namibiese burgerskap ontneem mag word nie”.

Laasgenoemde is herhaaldelik deur die hoërhof in verskeie gevalle bevestig.

Volgens die Grondwet is die volgende persone Namibiese burgers by geboorte: diegene wat in Namibië gebore is ná onafhanklikwording en wie se pa of ma Namibiese burgers was ten tyde van die geboorte; diegene wat in Namibië gebore is ná onafhanklikwording wie se pa of ma gewoon in Namibië woonagtig was ten tyde van die geboorte – mits hul pa of ma nie diplomatieke immuniteit in Namibië onder enige wet verwant aan diplomatieke voordele het nie; of wat vir hul loopbaan verteenwoordigers van ’n ander land is, of lede van enige polisie-, militêre of veiligheidseenheid binne Namibië deur die regering van ’n ander land is nie of laastens onwettige immigrante is.

Die ministerie het ook verwys na De Wilde vs Die ministerie in 2016 wat gehandel het oor die kwessie of die Namibies-gebore seun van die klaer wat vir jare saam met sy vrou op ’n werkspermit en nie ’n permanente verblyfspermit in die land was nie, geregtig is op Namibiese verblyfreg.

Die ministerie het as verweerder burgerskap vir die seun afgekeur met die verweer dat ’n permanente verblyfspermit vir die ouers ’n voorvereiste is om as gewone burgers beskou te word.

Die hoërhof het egter in die guns van die klaer beslis, met die besluit wat deur die hooggeregshof bekragtig is dat die seun ’n Namibiese burger is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer