• Tuisblad
  • Afrika
  • Onderwys – Die bestuur van vakante betrekkings in die skool
No Image Caption

Onderwys – Die bestuur van vakante betrekkings in die skool

Ouers stuur hul kinders skool toe met die verwagting dat hulle deur ’n onderwyser onderrig sal word. Dit blyk egter nie altyd die geval te wees nie.

’n Voormalige lid van die ||Kharas-streekraad wou nou die anderdag van my weet waarom daar so baie vakante betrekkings in ons skole is. Ongelukkig kon ek hom nie help nie; nie met die statistieke, nóg met die redes. Wat ek wel weet, is dat die negatiewe impak van langdurige ­vakante betrekkings geminimaliseer kan word as dit reg bestuur word. Maar, meer later hieroor.

Aan elke skool word, op grond van sy leerlingpopulasie en ander oorwegings, ’n kwota onderwysers toegesê. Maar, daardie getal kan verander soos die skooljaar vorder. Die openbare sektor is nie juis een van die beste vergoeders van arbeid nie en goed gekwalifiseerde onderwysers, veral diegene met goeie diensrekords, word gereeld deur die private sektor en nieregeringsorganisasies gewerf. Hierdie onderwysers kom ook in die visier van ander staatsdepartemente sowel as die van die plaaslike en streekowerhede. Hulle word ook gefrustreer in hul strewe na bevordering deur regstellende aksie, nepotisme en politieke motiewe; sommige besluit dan om “te loop”. Verder kom onderwysers in aanmerking vir bevordering by ander skole en/of soek oorplasings na ander werkstasies.

In lande soos Namibië, met ’n groot landbousektor, verlaat ander om voltyds te gaan boer. Vakante betrekkings ontstaan ook as gevolg van langdurige siekte en die afsterwe van onderwysers. Die onverwagte en soms onbeplande vertrek van ’n onderwyser laat nie net leemtes nie, maar hul voortreflikhede vertrek saam met hulle. Dis juis hierdie aspek wat die werwing van ’n plaasvervanger moeilik maak.

Die aanstelling van ’n onderwyser by ’n skool, ná die onverwagte en onbeplande vertrek van ’n onderwyser, kan nogal in ’n uitgerekte proses ontaard. Die werwing van ’n plaasvervanger begin normaalweg by die skoolhoof. Die skoolraad, kringinspekteur en personeelafdeling moet almal by dié proses betrek word. Die plaasvervanger kan nie diens aanvaar alvorens die streekdirekteur nie sy seën oor die aanstelling uitgespreek het nie.

Soms beleef die personeelkantoor ’n tekort aan amptenare, of is die finale besluitnemerspos ook vakant. Dan moet daar gewag word totdat mense eers aangewys kan word om die nodige te doen. Onderhoude moet met die kandidate gevoer word en kwalifikasies moet geverifieer word. En, ons weet dat die burokrasie nie juis haastig is nie. Die proses kan verder uitgerek word wanneer ’n plaasvervanger vir die sogenaamde skaars vakke gevind moet word.

Maar, in die meeste gevalle sal die duur van die proses bepaal word deur hoe gedrewe die skoolhoof by die hele proses betrokke is. Verder kan rondreisende onderwysers (itinerant teacher) met die toestemming van die streekkantoor aangewend word. Rondreisende onderwysers is gewoonlik van ’n buurskool en die uitdaging is om die programme van die skole te sinchroniseer sodat sodanige onderwyser sy/haar pligte by beide skole kan nakom.

Laastens is daar natuurlik portuurleer (peer teaching). Portuurleer kan geïmplementeer word deur om ouer leerders te vra om jonger leerders te onderrig, of om leerders te vra om bepaalde onderwerpe in groepe te bespreek.

Ja, poste wat onverwags en onbepland vakant raak, kan die skoolhoof ’n paar slapelose nagte gee. Maar, dit benodig net ’n bietjie inisiatief en gedrewenheid en die wil om ’n onderwyser te vind. En natuurlik, ’n brawe skoolhoof wat nie bang is om druk op sy skoolraad en streekkantoor te plaas nie. Ons moet onthou dit gaan aan die einde van die dag om die belang van die leerder.

– [email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-10-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer