Die Alte Feste-museum in die hoofstad. Foto verskaf
Die Alte Feste-museum in die hoofstad. Foto verskaf

N$4,2 miljoen vir Alte Feste se nuwe baadjie

Binnehof, westelike, noordelike vleuels gerestoureer
Die langtermyndoelwit is nie net om die geskiedkundige gebou te restoureer nie, maar om dit te laat herleef. In die ­toekoms word verwag dat die Alte Feste die nuwe tuiste van die Namibia Craft Centre en die Nasionale Volksmoord­museum sal word.
Opknappingswerk aan die geskiedkundige Alte Feste-museum in Windhoek het amptelik begin met Duitsland wat die omvattende restourasie van die gebou met N$4,2 miljoen vir die jare 2025-’26 ondersteun.

Volgens ’n verklaring deur die Duitse ambassade in Windhoek word die restourasiewerk ­uitgevoer as deel van ’n gesamentlike inisiatief deur die ministerie van onderwys, ­vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur, tesame met die Namibia Art, Craft and Design Centre wat die geld ontvang deur die ­kulturele bewaringsprogram van die Duitse Federale ­buitelandse kantoor. Hierdie nuwe projekfase fokus op die restourasie van die westelike en noordelike vleuels sowel as die binnehof van die Alte Feste.

Die langtermyndoelwit is nie net om die gebou te restoureer nie, maar om dit te laat herleef. In die toekoms word verwag dat die Alte Feste die nuwe tuiste van die Namibia Craft Centre en die Nasionale Volksmoordmuseum sal word. Benewens Duitsland, ondersteun die First­Rand-stigting en die ministerie ook die projek.

Florian Seitz, ministeriële raadgewer en adjunkhoof by die Duitse ­ambassade, het die belangrikheid van die inisiatief beklemtoon: “Hierdie opknappingswerk skep die grondslag om die historiese verhouding tussen Duitsland en Namibië op ’n oop en konstruk­tiewe manier toeganklik vir ­toekomstige geslagte te maak.”

Die Alte Feste, wat in 1890 tydens die Duitse koloniale bewind gebou is, word as een van Windhoek se oudste strukture beskou. Oor die jare het dit verskeie doeleindes gedien, ­insluitend as ’n militêre basis, ’n skoolkoshuis en – ná onafhank­likwording – die tuiste van die Nasionale Museum tot die ­sluiting daarvan in 2014.

Met die huidige herontwikkeling is die gebou bedoel om ’n kulturele, sosiale en ­ekonomiese spilpunt te word wat toeganklik is vir ’n breë gehoor.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer