My Zone, jou rugby

Frank Steffen
Frank Steffen



My Zone en die Namibiese Vereniging vir Hoërskole­rugby (NSSR) het ’n vyfjaarvennootskap ter waarde van N$2,5 miljoen aangegaan om skole­rugby landswyd te versterk.



Onder die vaandel “Deur die jeug, vir die jeug”, sal die borg­skap rugbyontwikkeling op beide primêre en sekondêre skole­vlak ondersteun. Dit weerspieël My Zone se ­voortdurende ­verbintenis tot jeugbemagtiging deur sport, media en onder­wys en open ook die deure vir ander borge om by die inisiatief aan te sluit.



Deel van die vennootskap sluit in uitsendings en verslaggewing deur My Zone in samewerking met Synergi Marketing. Laasgenoemde is die NSSR se amptelike bemarkings- en borgskapvennoot, met wedstryde en aktiwiteite wat op televisie, digitale platforms, sosiale media en in druk gedek sal word.



“My Zone se sleutelmandaat is om holistiese jong individue te ontwikkel deur ’n platform te bied om hulself deur middel van media en sport uit te druk,” het die uitvoerende direkteur van My Zone, Octavia Tsibes, gesê.



“Dit is gewortel in EduTainment, waar onderwys en vermaak saamsmelt om die volgende generasie te inspireer, te bemagtig en te transformeer.”



Die voorsitter van die NSSR, Ainsley Daniels, het die vennootskap ’n mylpaal vir die toekoms van Namibiese rugby genoem.



“Dit verseker dat meer jong spelers oraloor Namibië toegang tot kwaliteitgeleenthede en blootstelling kry. Dit gaan oor meer as finansiële ondersteuning – dit bou ’n fondament van dissipline, spanwerk en uitnemendheid deur rugby,” het hy gesê.



My Zone speel reeds meer as ’n dekade ’n sleutelrol in die bevordering van skolesport en bevestig met die jongste belegging sy missie om jong talent te koester en volhoubare platforms vir groei te skep. Kliek hier vir die video: https://n.my.na/e3pfG



[email protected]



Kommentaar

Republikein 2025-09-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer