Leerlinge uitgelewer aan haglike toestande

Puttoilette, gekraakte mure
Phillipus Josef
Phillipus Josef



By skole oraloor die Kavangostreke wat erg gebuk gaan onder ’n gebrek aan hulpbronne, word leerlinge en onderwysers gedwing om van puttoilette as hul enigste bron van sanitasie gebruik te maak.



Honderde kinders moet ook noodgedwonge vervalle klaskamers gebruik wat reeds oorvol is.



Die vervalle en soms haglike toestande was duidelik sigbaar tydens ’n toer van die Kavango-Oos en -Wesstreek deur Network Media Hub (NMH) wat die parlementêre staande komitee oor onderwys, jeug, burgerlike betrekkinge en gemeenskapsontwikkeling vergesel het.



Die komitee het ná die besoek erken hoewel daar sommige ­positiewe aspekte van die onderwysstelsel in die streke opgemerk is, belemmer die toestande in die Kavangoskole dienslewering. Volgens die komitee is dit ook ’n skending van leerlinge se menswaardigheid.



By die Ngcove Junior Primêre Skool op Ndama in Kavango-Oos is meer as 400 leerlinge op net twee puttoilette aangewese sedert die skool in 2019 geopen is. Die skool het ook geen lopende water nie. Volgens die skoolhoof Bernolda Munkanda het die situasie “ondraaglik” geword.



“Ons klaskamers is oorvol; een klaskamer alleen akkommodeer 92 kinders in ’n sinkstruktuur. Talle leerlinge word siek as gevolg van die toestande, maar ons het geen ander keuse as om so voort te gaan met klasse nie,” het sy gesê.



Ngcove is egter nie ’n geïsoleerde geval nie. Leerlinge by onder meer die Gekombineerde Skool ­Mupapama, die Sekondêre Skool Tuhingireni en die Primêre Skool Siguruguru staar soortgelyke toestande in die gesig, met leerlinge wat gebreekte of vol puttoilette gebruik terwyl hulle vir regeringsingrypings wag.



Die adjunkvoorsitter van die komitee, Austin Samupwa, het gesê die toestande wat hulle waargeneem het, was skokkend en gevaarlik.



“Die geboue laat veel te wense oor, want daar was geen enkele opknapping sedert hierdie skool [Mupapama] in 1967 geopen is nie,” het hy gesê.



“Ons het ernstige krake waargeneem wat gevul moet word; anders is daar ’n risiko dat iets met die leerlinge en onderwysers kan gebeur.”



Hy het gesê die toestand van die ablusiegeriewe is veral kommerwekkend.



“Ons het ook die ablusiegeriewe gesien wat hoofsaaklik uit ­puttoilette bestaan. Hierdie puttoilette lyk asof hulle reeds vol is, maar dit word steeds gebruik aangesien die onderwysers en leerlinge geen ander keuse het nie.”



Hy het gewaarsku: “Dis ’n baie slegte situasie en ons moet hierdie situasie by die skole ernstig takel.”



BEGROTING EN



VERANTWOORDBAARHEID



Samupwa het bygevoeg tensy die ­onderwysbegroting gedesentraliseer word, skole in landelike streke steeds verwaarloos sal word.



“Die begroting moet gedesentraliseer word sodat streekdirektorate, met die ondersteuning van streekrade, projekte kan implementeer gebaseer op die geld wat in daardie spesifieke jaar toegeken is. Dit is ons beroep,” het hy gesê.



Vir nou deel onderwysers en leer­linge steeds oorvol klaskamers en puttoilette wat gesondheids- en veilig­heidsrisiko’s inhou.



Die situasie het gemeenskappe laat bevraagteken hoe lank kinders in die twee Kavangostreke sal moet wag voordat hulle in veilige en waardige omgewings kan leer. – [email protected]



Kommentaar

Republikein 2025-08-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer