Koningin van die Skedelkus

Gamma die woestynleeu
Henriette Lamprecht
Sy het haar sien groot word vandat sy haar as ‘n welpie van drie maande oud die eerste keer gesien het. Meer as drie jaar later vang sy Gamma die woestynleeu en koningin van die Skedelkuspark op film vas waar sy op ‘n strand geduldig vir haar prooi, ‘n rob, sit en wag om toe te slaan.

Die bekroonde Belgiese wildlewe-fotograaf Griet van Malderen se foto’s van Gamma het wêreldwyd opslae gemaak en ook aan haar ‘n eervolle vermelding in die gesogte Wildfotograaf van die Jaar-kompetisie besorg wat deur die Natural History Museum in Londen aangebied word.

In ‘n onderhoud met Isabelle Gerretsen van die BBC, vertel Van Malderen dat Gamma op die spesifieke dag die rob die hele dag opgepas het. Sy (Van Malderen) sou dae moes wag waar sy Gamma vanuit haar voertuig dop gehou het om uiteindelik die pragfoto’s te kon neem.

“Die foto wys hoe veerkragtig hierdie diere is en dat hulle hul habitat verander om te oorleef,” vertel Van Malderen in die onderhoud.

“Hierdie leeus is sterk. Hul lewe gaan oor oorlewing en alles is ‘n stryd.” Volgens Van Malderen is Gamma nou byna ‘n volwasse leeuwyfie en drie-en-’n half jaar oud en is sy ‘n kragtige jagter wat in staat is om tot 40 robbe in ‘n enkele aand te vang.

Gamma is ‘n lid van net 12 woestynleeus wat langs die Skedelkus bly en op soek na kos drasties hul dieet en gedrag in 2017 verander het om by hul nuwe habitat langs die kus te oorleef.

In dieselfde onderhoud beskryf Philip Stander, ‘n omgewingskenner wat die woestynleeus sedert 1980 volg en bestudeer, Van Malderen se foto’s van Gamma as “werklik betekenisvol” omdat dit die eerste dag was wat die leeuwyfie alleen op die strand was.

Van Malderen is in 1970 in die Belgiese streek van Vlaandere gebore en haar reis as wildlewe-fotograaf het gepas met ‘n gesinsafari in Suid-Afrika in 2008 begin.

Sy ontwikkel 'n passievolle voorliefde vir Afrika se landskappe, flora en fauna en begin omvattend na verskeie lande op die vasteland reis wat haar hart en siel verower het - Kenia, Suid-Afrika, Namibië, Tanzanië, Kongo, Botswana en Zimbabwe. Wanneer sy haar geliefde Afrika nie met haar kamera deurkruis nie, ontdek sy die wildlewe in Antartika, Chile, Brasilië, Kanada, Noorweë, die Tonga-eilande en Japan.

Van Malderen se voorkeurstyl vir haar fotografie is swart en wit, en soms gebruik sy ook sepia-tone. Sy produseer ook platinum- en kollodiumafdrukke en haar benadering verskil van haar eweknieë deurdat sy nie haar onderwerpe ‘dwing’ om vir haar foto's te poseer nie. In plaas daarvan belê sy tyd daarin om hul vertroue te wen en hul ware emosies en karakter vas te vang, met sommige wat haar styl as vroulik beskryf.

Behalwe vir die vasvang van wildlewe op haar kamera, verskuif sy dit ook na landskappe sowel as die mans en vroue wie se aard en siel krag en misterie uitstraal.

Van Malderen skenk ook ruim 'n gedeelte van haar opbrengs uit die verkoop van haar foto’s aan organisasies en individue wat aktief betrokke is by die beskerming van kwesbare dierebevolkings in hul natuurlike habitats. Daarbenewens werk sy om bewustheid binne plaaslike gemeenskappe te verhoog om harmonieuse naasbestaan met hierdie spesies te verseker. Die hoofdoel van haar werk is om die beskerming van die spesies te bevorder wat sy op haar foto’s vasvang, sê Van Malderen.

"[My foto's beklemtoon] die skoonheid, maar ook die broosheid van hierdie diere. Hul veerkragtigheid is 'n les vir ons almal. Om verandering die hoof te bied, aan te pas en op te tree voordat dit te laat is," sê sy. Gaan loer op haar webtuiste grietvanmalderen.com na nog van haar pragfoto’s. - [email protected]

Kliek hier: https://q.my.na/F87H

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer