Hupstoot vir opgradering van hawedorp se paaie
Nywerheidsgebied eerste aan die beurt
Die geld wat beskikbaar gestel is, kom nie uit die munisipaliteit se koffers nie en word ook nie deur plaaslike owerhede bestuur nie.
Adam Hartman
Die rehabilitasie van sleutelpaaie in Walvisbaai se nywerheidsgebied is aan die gang nadat die Padfondsadministrasie (RFA) die finansiering verhoog het, wat die opgraderingsprojek se totale toekenning op sowat N$400 miljoen te staan bring.
Die projek, in samewerking met die Paaieowerheid (RA) en die hawedorp se munisipaliteit, vorm deel van ’n vyfjaar-ingrypingsplan om logistieke infrastruktuur op Walvisbaai op te gradeer. Dit volg op volgehoue openbare kritiek oor die verslegtende toestand van paaie wat na die hawe, visfabrieke en nywerheidsones op die dorp lei.
Dié paaie, noodsaaklik vir Namibië se invoer- en uitvoerekonomie, het grootskaalse skade gely weens swaar vragmotorverkeer en onvoldoende infrastruktuur vir die dreinering van water. Die skade is vererger deur swaar reën wat in Maart vanjaar op die dorp uitgesak het.
Wekroepe neem toe nie net dat die RA en RFA dringende herstelwerk moet prioritiseer nie, maar ook dat belanghebbendes in die private sektor, insluitend vismaatskappye en Namport, tot padinstandhoudingskoste moet bydra.
Duisende vragmotors wat daagliks vis, vrag en petrol deur die betrokke korridors vervoer, plaas voortdurende druk op padoppervlaktes wat nie oorspronklik vir hierdie volumes ontwerp is nie.
PADKONSTRUKSIE
“Die geld wat aan Walvisbaai toegeken is, kom nie uit die munisipale koffers nie en dit word ook nie deur plaaslike owerhede bestuur nie,” het die munisipaliteit se woordvoerder, Anita Kaihiva, gesê.
Konstruksie het reeds op Allan Dean Martinstraat en 3de Straat begin. Op Allan Dean Martinstraat is ’n basislaag van 200 meter en ’n subbasis van 560 meter reeds voltooi deur gebruik te maak van ’n halfwydte-konstruksiemetode wat steeds beperkte verkeersvloei handhaaf.
Padwerke in 3de Straat fokus tans op die vervanging van ’n verouderde rioolpypleiding wat die ondergrondse dienste op die lang termyn meer betroubaar sal maak.
Bykomende paaie wat vir rehabilitasie geoormerk is, sluit in 3de Straat Oos, 2de Straat en Railwaystraat, met al drie wat ’n strategiese rol in die ondersteuning van hawelogistiek en nywerhede se beweging speel.
Verskeie vergaderings is vooraf met geraakte besighede gehou, sowel as strukturele evaluasies van nabygeleë geboue om enige potensiële skade as gevolg van die konstruksie te dokumenteer.
Intussen is Namport besig om ’n nuwe, moderne deurgang vir vragmotors na sy hawebedrywighede te ontwikkel, wat ontwerp is om druk op huidige toegangsroetes te verlig.
Die vraag is egter of die toekenning van N$400 miljoen genoeg sal wees om die volle omvang van verval te takel en of bykomende beleggings soos bydraes van die private sektor nodig sal wees.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie