Gerhardus se reise

Koreaanse kos uniek, interessant
Gerhardus van Grootfontein – Ek het die laaste paar jare al hoe meer te doen gehad met Koreaanse kos en kookkuns.

Dit is uniek, interessant, sosiaal en bied ’n verskeidenheid smaakprofiele. In wêreld-cuisine het Koreaanse kos dit self begin voorstel as K-Food, wat sinspeel op Koreaanse populêre musiek, bekend as K-Pop. Ten spyte van hierdie moderne spreektaal, wys argeologiese opgrawings dat vorme van hedendaagse Koreaanse kosvoorbereidings – soos inmaak en fermentering – so ver as 3000 jaar gelede terugdateer.

Gefermenteerde kosse, soos kimchi en gochujang, word daagliks saam met rys in gemiddelde Koreaanse huishoudings geniet. Gochujang is ’n effens soet, gefermenteerde brandrissiepasta wat menige Koreaanse geregte hul kenmerkende smaak gee. Hierdie pasta word dan ook as basis gebruik waarin kool gefermenteer word, wat die alombekende kimchi lewer.

In 2010 het Suid-Korea ’n tekort aan kool beleef weens slegte weer. Die prys van kool het só gestyg dat die regering moes ingryp en kimchi-produksie ondersteun. Dit was ’n nasionale krisis, want sonder kimchi is ’n Koreaanse ete doodeenvoudig nie volledig nie!

Die verskeie gefermenteerde en ingemaakte kossoorte dien as bestanddele in meeste van die Koreaanse kos. Wanneer ek Suid-Korea besoek, dra my eetervarings dieselfde gewig as enige ander besienswaardigheid. Ek beplan baie keer my dae sodat ek sekere disse kan probeer of selfs ’n kosmark besoek. Restaurante en straatkos is beide inspirerende ervarings wat tot avontuur en beproewing bydra. En dan, soos in meeste ander Oosterse lande, word ’n groot deel van die eetervaring deur samesyn gevorm. So die beste is om saam met vriende te eet.

In Seoul ontmoet ons ’n Kanadese vriendin in ’n agterstraatse restaurant. Saam met ons bier, voor die hoofdisse, bring the kelnerin die "banchan" na ons tafel toe.

Banchan is die hart van Koreaanse eetkultuur. Dis ’n klomp klein bakkies bykosse (meestal gefermenteer) wat saam met die hoofmaal opgedien word. Banchan het oorspronklik ontstaan om voedsel te bewaar en voedingsbalans te verseker. In die Joseon-dinastie (1392-1910 AD) was die aantal banchan op die tafel ’n status-simbool. Vandag is dit ’n tipe “lucky packet” in restaurante: kliënte wonder watse tipe banchan en hoeveel hulle gaan kry. Ek voel altyd soos ’n wenner wanneer klassieke Koreaanse aartappelslaai as banchan voorgesit word. Die tekstuur is meer soos kapokaartappels, maar dit het ’n soortgelyke smaak as ons Afrikaanse aartappelslaai. Soms is ’n bietjie bekendheid lekker so tussen die eksotiese smake deur.

Die kelnerin plaas die hoofdisse in die middel van die tafel: bulgogi (bees-roerbraai), varkrib met ’n gochujang-glasering en tofu-sop. Ons eet gesamentlik uit die bakke kos met vlekvrye staal chopsticks. Daar is stukkies seewier in ons rys. Die versoening van sout in vleis gepaard met die effense soet-suur smake van die gefermenteerde banchan is ’n ware umami-ervaring. Soos gewoonlik in Suid-Korea, eet ek tot elke bordjie silwerskoon is. Ek bars, maar aanhouer wen! Trommeldik rol ons in die strate van Seoul rond, want êrens is ’n straatstalletjie wat ietsie soets verkoop.

Straatkos in Suid-Korea hoef glad nie terug te staan vir restaurante nie. In besige strate is daar soms stalletjies op lukrake plekke wat gespesialiseerde kos verkoop. Baie van hierdie stalletjies het klein tafeltjies en stoeltjies onder liggies of tente waar mense kan sit en die kos geniet. Daar is baie keer ook bier te koop. Dis ’n wonderlike tydverdryf in die warmer aande: om ’n bier te drink; te chill en lekker kos te eet tussen die gedruis en gejaag van ’n besige stad. Dit word ’n informele, buitelug-restaurant. Tyd staan stil. Ek kan vir ure hier vertoef. Dis nie net die kos wat aanloklik is nie, maar die hele sosiale atmosfeer. Almal voel soos vriende en hul glimlagte is aansteeklike sorgvryheid.

Dan is daar ook groot straatkosmarkte. Seoul se Myeondong-nagmark, byvoorbeeld, is ’n straatkostreffer. Hierdie mark verkoop nie net tradisionele K-kos nie, nee, die kreatiewe kosskeppers bied allerhande interessante kombinasies en innoverende “loop-en-eet”-disse – selfs kreefstert. Met oor die 200 kosstalletjies moet ’n mens baie kieskeurig wees oor wat jy gaan probeer. Die eerste uur gebruik ek om net deur al die stalletjies te loop, te kyk en ook te sien wat ander mense eet. Daarna beplan ek my maaltyd.

Wat vir my uitstaan van my Myeondong-aandete-skattejag, is ’n stokkieroomys in ’n malvalekkeromhulsel. Die malvalekker is met ’n blaasvlam aan die brand gesteek. So, dit was ’n yskoue roomys met ’n taai, warm (amper geskroeide) buitekant. Dit was nie baie lekker nie. Die ander ding wat ek baie goed onthou is die verrassing van die eierbroodjie. Dit lyk soos ’n gesnyde stukkie baguette met ’n gebakte eier op. Helaas, die eerste hap stel die saak reg. Dit is immers ’n stuk soetkoek met ’n eier op. Vreemd, maar nie noodwendig sleg nie.

In die Suide, in ’n klein dorpie naby die see genaamd Ilgwang, kuier ons vir twee Suid-Afrikaanse vriende (ek ken hulle van varsity dae af). Hulle het ’n Koreaanse vriendin, Yonghwa. Yonghwa vat ons die aand na ’n tradisionele Koreaanse braai-restaurant toe. In die middel van die tafel is ’n bak waarin vuurwarm, gloeiende kole gegooi word. Bo-op die bak is ’n rooster. Die kelner pak weer die tafel vol banchan en begin die vleis braai. Die vleis word met ’n gochujang gesmeer. Wanneer dit gaar is, word dit met ’n skêr in stukkies gesny. Yonghwa beveel aan dat ons elke happie vleis met ’n ander kombinasie banchan probeer – en dis ’n openbaring! Elke hap bied ’n nuwe smaaksensasie: soet-suur, soet-sout, sout-suur, pittig, pikant. . . alles gebou op die ryk basis van gebraaide vleis. En, sonder om my Namibiese burgerskap in gedrang te stel, moet ek sê: hierdie Koreaanse braaistyl skuur skouers met ons eie kameeldoringhout-tradisie.

Die plattelandse Koreaanse braaivleis is iets vir die boeke – net soos menige ander K-kos-ervarings! Suid-Korea is soveel ’n smulpalet soos dit ’n besonderse en unieke kulturele evaring is. Ek het nog nie ’n vervelige ete in Suid-Korea beleef nie. Selfs die kosprodukte in die klein 24 uur-handelswinkeltjies knipoog na jou nuuskierigheid. Ek dink K-kos is absoluut die "hype" werd!

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer