Dwelmvliegtuig het glo al in Ondangwa geland

Namibiese lugvaartowerhede het geen rekord
Volgens die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) se woordvoerder, Dan Kamati, sou die lughawe wel die vliegtuig se radar opgetel het indien dit daar geland het.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg

’n Australiese vlieënier wat die laaste van sy vele “dwelmvlugte” in sy piepklein vliegtuig onderneem het voordat dit met hom en sowat 200 kg kokaïen aan boord in Brasilië neergestort het, het glo ook op Ondangwa-lughawe geland, maar Namibiese lugvaartowerhede kon dit tot dusver nie bevestig nie.

Die Suid-Afrikaanse Sling 4-vliegtuigie van Timothy James Clark (46) is glo al minstens een keer in Ondangwa opgemerk, maar hy het sy vrag klaarblyklik juis op klein vliegvelde afgelaai waar hy ongemerk geland en weer opgestyg het. Vlugte van die vliegtuig met registrasiemerk ZU-IXM is geblokkeer of onsigbaar op Flight Radar 24.

Die Brasiliaanse polisie en vliegtuie was op die spoor van die vliegtuig waarmee Clark vir die soveelste keer die afgelope twee jaar glo sonder ’n antwoordsender en op lae hoogte gevlieg het om die radar te probeer ontglip.

Die vermoede was dat Clark as koerier vir Suid-Amerikaanse dwelmhandelaars opgetree het toe die Sling 4 op Sondag 14 September in ’n suikerrietland by Coruripe in die Alagoas-omgewing aan die Brasiliaanse kus neergestort het. Die kokaïen aan boord het ’n geraamde waarde van sowat N$920 miljoen.

Hy het na bewering gereeld oor die Atlantiese Oseaan gevlieg om sy vrag in Namibië, Suid-Afrika en Mosambiek af te laai, volgens Rapport. Ten tyde van Clark se noodlottige ongeluk was hy vermoedelik met ’n vars besending kokaïen op pad Afrika toe.

Die blokke kokaïen was in verpakkingsmateriaal van Elon Musk se maatskappy SpaceX toegedraai. Deur dit só te verpak probeer dwelmsmokkelaars die werklike inhoud verdoesel.

Op die ongelukstoneelfoto’s wat deur die Brasiliaanse lugvaartowerheid en polisie uitgereik is, is die langafstand-brandstoftenks sigbaar tussen die wyd verspreide wrakstukke. Drie van die vier sitplekke in die Sling 4 is uitgehaal om plek te maak vir die brandstoftenks en vrag.

Clark, van Melbourne in Australië, het volgens die Daily Mail verskeie maatskappye met aandele in goudmyne in Australië gehad. In die buurland het hy volgens FlyAfrica glo gereeld op die vliegvelde van Stellenbosch en Robertson geland.

Republikein het Sondag navraag aan die Namibiese Burgerlugvaartowerheid (NCAA) gedoen of die vliegtuig wel al op Ondangwa geland het. Die woordvoerder van NCAA, Nelson Ashipala, het gister gesê hy het die navraag aan die uitvoerende direkteur van werke en vervoer gerig, maar daar word nog op antwoorde gewag.

Lughawe- en lugverkeerbeheerlogboeke is nie vir die publiek beskikbaar nie. Amptelike landings- en aankomsregisters word deur die lughawe-operateur en die nasionale lugvaartowerheid gehou en word slegs op versoek of via amptelike verslae vrygestel.

Die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) se woordvoerder, Dan Kamati, het gister aan Republikein gesê indien die vliegtuig wel in Ondangwa geland het, sou die lughawe se radar dit wel opgetel het en dit op rekord wees.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer