Brandewyn het nie Namibiese brieke

Iréne-Mari van der Walt
Brandewyn het letter nie brieke vir \'n Namibiër wat met \'n toptoekenning bekroon is nie.

Janine van Zyl is onlangs in Suid-Afrika met die Institute of Cape Wine Masters se Van Rhyn-trofee vir haar toppresterende brandewyn vereer. Sy is ook ’n pas gegradueerde Kaapse wynmeester.

Janine se skripsie handel oor die bemarking van wyn in ’n digitale wêreld met die klem op hoe die Suid-Afrikaanse wynbedryf digitale bemarking beter kan gebruik.

Haar navorsing het begin met ’n oorsig van navorsing oor die ontwikkeling van digitale bemarking in die wynbedryf wêreldwyd en tref onderskeid tussen digitale, sosialemedia- en smaakmakerbemarking. In haar navorsing ontleed sy hoe hierdie verskillende soorte bemarking kruis om ’n samehangende bemarkingstrategie te skep.

Daarna het sy vir ses maande navorsing in die veld saam met Duke Wines en La Cave Wines gedoen waar geteikende sosialemediaveldtogte op die proef gestel is en die doeltreffenheid van digitale inhoud, betaalde promosies en samewerking met smaakmakers gemeet is.

Gebruikers se persepsies is ook in ag geneem deur inligting van ’n opname. Hierdie opname toon dat gebruikers positief reageer op storievertelling, opvoedkundige inhoud en egte vennootskappe met smaakmakers volgens die waardes van die handelsnaam. Haar navorsing neem ook nuwe tendense soos AI-gedrewe bemarking in ag.

Janine se bevindinge toon dat ’n robuuste aanlynteenwoordigheid wat ondersteun word deur besluite wat op grond van data gemaak word en egte storievertelling nou noodsaaklik is vir mededingendheid.

Sy was oorspronklik ’n sjef, maar in hierdie beroep het die wyngogga haar gebyt toe die kombinasie van kos en wyn haar geprikkel het.

“Om eerlik te wees het ek absoluut niks van wyn af geweet voordat ek by die Prue Leith Kulinêre Instituut begin studeer het nie. Ek wou eintlik net die kosgedeelte van die kursus doen, maar die sommelier-deel was verpligtend. Ek sal dit nooit vergeet nie, in my eerste wynklas toe die Kaapse wynmeester van Sauvignon Blanc en Cabernet Sauvignon gepraat het, het ek nie ’n idee gehad waarvan hy praat nie,” het sy voorheen aan Republikein gesê.

“Hy vra toe vir my wat ek met verskillende wildspesies in die kombuis sal doen. Hy het verduidelik wyn bestaan ook uit verskillende kultivars met verskillende eienskappe en dat verskillende kultivars vir verskillende doeleindes gebruik kan word – en toe het die gogga gebyt.”

Janine het in 2023 die Prue Leith Uitsonderlike Alumni-toekenning ontvang. Sy het ook verskeie saketoekennings al ingepalm – hoofsaaklik vir haar besigheid Cold Gold wat in Kaapstad gebaseer was, maar wat tydens die pandemie sy deure moes sluit.

Sy het Cold Gold op die ouderdom van 20 geopen nadat sy besluit het om roomys met geen kunsmatige kleur-, geur- of preserveermiddels te maak en te verkoop.

Janine is in 2014 as Hullets se Jong Soetbakker van die Jaar aangewys en die volgende jaar as die Suid-Afrikaanse Klein Sakekamer se beste jong entrepreneur. In 2016 het die Fast saketydskrif Cold Gold as sy mees innoverende onderneming van die jaar vereer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer