Agribank: Leningsboek oorskry N$3,1 miljard
Sukkel met stygende wanbetalings
Kredietverswakking het tot N$65 miljoen toegeneem, terwyl werknemerkoste, die bank se grootste uitgawe, bestendig tot N$122 miljoen gestyg het.
Hoofredaksie
Agribank het sy 2024-boekjaar met ’n netto verlies van N$19 miljoen afgesluit – sy eerste in vyf jaar – aangesien stygende agterstallige skuld en kredietverswakkings sy prestasie negatief beïnvloed het.
Volgens die bank se 2024-jaarverslag wat vroeg vanjaar vrygestel is, het dié verlies plaasgevind ten spyte daarvan dat netto rente-inkomste ’n vyfjaarhoogtepunt van N$226 miljoen bereik het en lenings wat tot N$370 miljoen gestyg het, ’n toename van 26% vanaf die vorige jaar.
Agribank het in vorige verslae aangedui hy het meer as 46 000 direkte landbouwerksgeleenthede in 2019 ondersteun en het mentorskap aan meer as 6 000 boere en plaaswerkers verskaf.
Die bank se leningsboek het tot N$3,1 miljard gestyg, maar die agterstallige-tot-voorskotte-verhouding het tot 34% toegeneem, wat beteken meer as eenderde van die portefeulje is nie betyds terugbetaal nie.
Kredietverswakkings het tot N$65 miljoen gestyg, terwyl werknemerkoste, die bank se grootste uitgawe, bestendig tot N$122 miljoen gestyg het.
LANDBOUSKULD
Ten spyte van die uitbreiding van lenings, met N$58,3 miljoen wat aan jong boere uitbetaal is en die Omaheke- en Khomasstreek wat voorloop, het agterstallige lenings steeds swaar op winsgewendheid geweeg.
Agribank is nou verantwoordelik vir 47% van Namibië se landbouskuld.
In 2023 het die bank ’n beskeie wins van N$31 miljoen aangemeld, ’n afname van die N$32 miljoen in 2022, aangesien leningsgroei gestagneer het op ongeveer N$2,9 miljard en agterstallige skuld van 31% tot 33% toegeneem het.
Om die onbetaalde lenings te takel, het Agribank skuldinvorderingspogings verskerp asook dialoog, leningherstrukturering en onderhandelde terugbetalingsplanne geprioritiseer.
Die terugneem van plase bly steeds ’n laaste uitweg, met slegs drie plase wat oor die afgelope dekade opgeveil is. Teen die einde van 2024 het agterstallige skuld steeds N$1 miljard oorskry. Oor die tydperk 2020-’24 het die regering N$442 miljoen in ekwiteit ingespuit, wat Agribank se afhanklikheid van skuldfinansiering verminder het deur lenings van N$1,05 miljard tot N$587 miljoen te verminder.
Agribank, wat in 1991 gestig is om die Landboukredietraad op te volg, se mandaat sluit onder meer die finansiering van boerdery, grondhervorming en landelike ontwikkeling in.
Die bank verskaf lenings vir die verkryging van landbougrond, vee, gewasse, tuinbou en landboubesighede en het onlangs op die jeug en vroue gefokus.
Die instansie bly ’n kommersiële staatsonderneming wat deur die Agribankwet van 2003 beheer word en onder die toesig van die ministerie van finansies val.
WITVLEI-ABATTOIR
’n Langdurige uitdaging vir Agribank was die onderbenutte Witvlei-slagpale in die Omahekestreek. Die eens florerende uitvoergeriewe vir beesvleis, is jare reeds dormant te midde van ’n regsgeskil en finansiële druk.
Agribank het die geriewe nou weer op die mark gesit en vra vir aanbiedinge van sowat N$52 miljoen.
Die slagpale was in die verlede belangrike geriewe vir die uitvoer van beesvleis wat tot 27 000 beeste per jaar kon slag en meer as 200 mense in diens kon neem.
Die slagpale is vanaf 2006 deur Witvlei Meat bedryf en het goedkeuring van die Europese Unie vir uitvoere verkry, maar het in 2014-’15 gesluit nadat Namibië se kwota aan Noorweë skerp verminder is. Die sluiting het gelei tot beduidende werksverliese en ekonomiese agteruitgang in die omliggende landelike gemeenskap.
Agribank het die slagpale gebou en gefinansier, en het dit later teruggeneem nadat die verkoop daarvan misluk het en weens die langdurige regstryd met die operateur.
Ten spyte daarvan dat aanbiedinge van tot N$40 miljoen in 2022 ontvang is en die eiendom teen ongeveer N$51,7 miljoen gelys is, het Agribank nog nie die verkooptransaksie van die slagpale afgehandel nie.
Die slagpale is steeds dormant, maar die heropening daarvan kan honderde werksgeleenthede herstel en die streek se landbou-ekonomie stimuleer. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie