‘Bly kalm’ oor Karan Beef

Bek-en-klouseer-uitbreking het dalk ’n positiewe impak
Jacques du Toit Namibiese beesprodusente moenie paniekerig raak oor die uitbreking van bek-en-klouseer by Karan Beef in Heidelberg, Gauteng, nie. Só sê Jako van Wyk, die voorsitter van die Lewendehaweprodusente­-organisasie (LPO). Hoewel die sluiting v
Namibiese beesprodusente moenie paniekerig raak oor die uitbreking van bek-en-klouseer by Karan Beef in Suid-Afrika nie.

Só sê Jako van Wyk, die voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO). Hoewel die sluiting van Karan Beef se Heidelberg-voerkraal beslis ’n rimpeleffek op die vleisbedryf gaan hê, sê Van Wyk die impak op Namibië sal waarskynlik beperk wees.

“Karan Beef koop net by ’n beperkte aantal Namibiese veilingshuise, dus hoop ons dat die impak op plaaslike pryse nie noemenswaardig gaan wees nie,” sê hy.

Volgens hom is dit belangrik dat boere die groter prentjie in ag neem en nie oorhaastige besluite neem nie.

“Ons het goeie weiding ná goeie reën. Slagpryse is tans sterk. As jy kan, hou jou kalwers vir ’n week of twee terug en moenie toelaat dat kopers dié onsekerheid vir laer pryse uitbuit nie.”

Van Wyk sê die krisis in Suid-Afrika kan selfs ’n positiewe geleentheid vir Namibië inhou.

“Ons is ’n bek-en-klouseervrye land en ons handhaaf ’n hoë vlak van biosekuriteit. Suid-Afrikaanse voerkrale kan begin besef hoe waardevol ons status is en dat ons vee nie hul kuddes aan siekte blootstel nie.”

Hoewel die Heidelberg-voerkraal gesluit is en al is dit hul grootste voerkraal, funksioneer Karan Beef se ander satelliet-voerkraalstelsels steeds.

“Hulle het nog nie heeltemal ophou koop nie. Dit is belangrik om te verstaan dat die besigheid nie gesluit is nie – slegs een voerkraal,” het Van Wyk bevestig.

Die LPO werk nou saam met die direktoraat van veeartsenydienste (DVS) om Namibië se bek-en-klouseervrye status te beskerm.

“Ons het onlangs selfs met ’n internasionale dieregesondheidskundige gekonsulteer om ons interne biosekuriteit te versterk. Hy het ons verseker Namibië het die beste veeartsenykundige diens in Afrika. Daarvoor moet ons ons DVS prys,” sê Van Wyk.

Hy sê Namibiese produsente moet dus nie paniekerig raak nie, maar waaksaam bly en hul beplanning aanpas waar nodig.

“Die mark gaan moontlik vir ’n paar weke onseker wees, maar ons is in ’n goeie posisie om hierdie storm te hanteer.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer