Die vliegtuigwrak is sowat twee kilometer wes van Hammerstein Lodge gevind. Kaart ter illustrasie/Google Maps.
Die vliegtuigwrak is sowat twee kilometer wes van Hammerstein Lodge gevind. Kaart ter illustrasie/Google Maps.

‘Vlieënier was uiters ervare’

-
-
Francoise Steynberg

Die lugvaartbedryf het saamgestaan en van heinde en verre het hulle sedert Sondag in gure weer na ’n vermiste vliegtuig van Desert Air gesoek totdat die uitgebrand wrak van die Cessna 210 gisteroggend in die berge naby Hammerstein Lodge in die Suidweste gevind is.  

Desert Air het gister hul innigste meegevoel in ’n mediaverklaring aan die naasbestaandes van die vier slagoffers van die vliegtuigongeluk in die suidweste van die land uitgespreek.

“Daar was ongelukkig geen oorlewendes nie,” met Desert Air se ervare vlieënier (68) met Duitse burgerskap en drie Duitse toeriste wat aan boord was.

Volgens die uitvoerende hoof van Desert Air, Willem de Wet, is die wrak van die Cessna 210-vliegtuig met registrasiemerk V5-KER gister omstreeks 09:15 uit die lug in die berge naby Hammerstein Lodge opgemerk nadat ’n grootskaalse soektog op die grond en uit die lug Saterdag van stapel gestuur is nadat die vliegtuig pas voor landing by Keerweder naby Sossusvlei vermis geraak het. 

“Die bystand wat ons gekry het was baie goed en ons is dankbaar vir elkeen wat gehelp. Ons eie bakkie het van Sossusvlei gery en van Hammerstein af is ook gery om die vliegtuig te help vind,” het De Wet gister aan Republikein gesê. 

“Vliegtuie wat in die omgewing was, selfs van Suid-Afrika het met die lugsoektog gehelp en daar het ook ’n vliegtuig vanaf Swakopmund gevlieg. Dit wys jou die lugvaartbedryf ondersteun mekaar terwyl die kalf 

in die put is.”

De Wet het gesê dit is juis die vlieënier uit Swakopmund wat die wrak uit die lug waargeneem het en ’n helikopter laat kom het. 

“Daar is aan ons bevestig dat ons geen ambulans hoef te stuur nie,” het hy gesê.

De Wet het benadruk dat hul vlieënier uiters ervare was en sedert 2019 vir Desert Air op ’n vryskutbasis gevlieg het en jong vlieëniers opgelei het. Hy is sedert 2023 vas by die maatskappy aangestel. 

Desert Air spreek sy opregte dank teenoor alle soek- en reddingspersoneel, lugvaartowerhede, nooddienste en vrywilligers uit wat by die soektog betrokke was.

Ben Engelbrecht, die vliegtuigongelukondersoekbeampte van die direktoraat van vliegtuigongelukke (DAAI) in die ministerie van werke en vervoer, het gister aan Republikein bevestig dat die wrak sowat twee kilometer wes van Hammerstein Lodge gevind.

Volgens hom het die vliegtuig Sondag vanaf die plaas Helena suidoos van die Hosea Kutako Internasionale Lughawe opgestyg om na na Keerweder naby Sossusvlei te vlieg. 

“Desert Air het die satellietgebaseerde opsporingstelsel Spidertracks op hul vliegtuie en vyf minute voor die vliegtuig geland het, het die sein afgegaan,” het Engelbrecht gesê.  

De Wet het bevestig dat die vlieënier aangedui het dat hy besig is om te daal "en daar was geen afwykings nie". 

Volgens Engelbrecht het die vliegtuig om 11:50 van Spidertracks verdwyn. "Die vlieënier is gebel, maar sy foon was af. Daar is nog ’n tydjie gewag of hy geland het, maar toe dit nie gebeur nie is ’n soek- en reddingsoperasie begin.” 

Hy was gister op pad na die ongelukstoneel, asook die helikopter van die Namibiese polisie waarmee hulle die wrak in die berge sal moet bereik. Kommissaris Nelius Becker van die Nasionale Forensiese Wetenskapsinstituut van Namibië (NFSI) is volgens ingeligte bronne ook op die toneel. 

Die hoofwoordvoerder van die Namibiese polisie, adjunkkommissaris Kauna Shikwambi het teen druktyd bevestig sy het nog geen verslag van die ongelukstoneel ontvang om die name van die slagoffers bekend te maak nie. 

Desert Air het bevestig alle naasbestaandes is in kennis gestel, maar Duitse owerhede wou nie toestemming gee om al reeds die toeriste se identiteite of selfs geslagte bekend te maak nie.

“Ons betuig ons diepste en opregte meegevoel aan die families, vriende en geliefdes van diegene wat hul lewens in hierdie tragiese ongeluk verloor het. Almal by Desert Air is diep verpletter deur hierdie verlies en ons gedagtes bly by almal wat geraak is gedurende hierdie uiters moeilike tyd,” sê Desert Air.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer