Twee sterf toe Rovos Rail ontspoor

Otis Daniels

TransNamib het gister bevestig dat twee mense in die vroeë oggendure in die ||Kharas-streek gesterf het in ’n ongeluk waarby ’n luukse passasierstrein, Rovos Rail, betrokke was.

Die trein het omstreeks 05:00 naby die Nautedam, sowat 100 km vanaf Keetmanshoop, ontspoor het.

“’n Ondersoek na die oorsaak van die ongeluk is tans aan die gang,” het Desmond van Jaarsveld, TransNamib se uitvoerende hoof, gesê.

“Ons werk ten volle saam met die owerhede en sodra dit afgehandel is, sal belanghebbendes ingelig word. Toepaslike maatreëls sal ingestel word om enige herhaling te voorkom,” het hy bygevoeg.

’n Omvattende noodreaksieplan is onmiddellik ná die ontsporing geaktiveer.

“Spanne is sonder versuim na die toneel gestuur. Ons prioriteit was en bly die veiligheid en welsyn van alle werknemers en passasiers. Dringende mediese sorg is aan die geraaktes verleen en oorlewendes word ondersteun,” het Van Jaarsveld gesê. 

Die Rovos Rail-trein wat by die ongeluk betrokke was, was op ’n safari van 11 dae 3 400 km-van Pretoria na Walvisbaai.

Dit het Kolmanskop besoek en was op pad na Keetmanshoop, waar passasiers geskeduleer was om kokerbome in Garas Park te sien. Die reis het ook beplande stoppe in Windhoek, Sossusvlei en Etosha Nasionale Park ingesluit.

Rovos Rail is ’n luukse private spoorwegmaatskappy met sy hoofkwartier in Pretoria, Suid-Afrika, wat sedert 1989 ‘The Pride of Africa’-treinritte regoor Suider-Afrika aanbied. Elke trein vervoer ’n maksimum van 72 passasiers in 36 suites. Die maatskappy bedien hoofsaaklik streek- en internasionale toeriste en bied saamgestelde reiservarings wat die streek se landskappe, erfenis en gasvryheid ten toon stel.

Die Rovos-trein het akkommodasie-, eet- en sitkamerwaens, ’n geskenkwinkel, ’n rook-sitkamer en ’n besigtingswa met ’n opelugbalkon.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer